Net toe ek nou finaal besluit ek gaan nou maar die naam verander na Kriekkie se Klaagliedere, beland Smurf se briefie in my posboks. Dankie vir jou ‘preek’ Smurf. Dit is sulke waar woorde, dis eintlik skrikwekkend. Dit is net by die toepassing daarvan wat ek begin bubbles hap…..
Jammer vir my taal, maar selfbejammering is ‘n blixem en dit is die grootste drol in die drinkwater hier in Kriekkieland op die oomblik. Ek het nog altyd gedink ek is redelik sterk en kan die suurlemoene wat die lewe na my kant toe gooi, redelik goed hanteer. Iewers het ek erg opgeslip die laaste tyd. Nie eers met my ouers se egskeiding was dit vir my so moeilik nie, maar ek’s bevrees as ek dit nou moes deurmaak, het ek dit beslis nie gemaak nie. Nie dat ek trots daarop is om dit te sê nie, maar dis ‘n feit soos ‘n koei waarby ek nie gaan verby kom nie, al probeer ek hoe hard.
Ek sukkel nou al ‘n hele paar jaar met spierspasmas wat net nie gebreek kry nie. Daar is regtig nie ‘n pil of behandeling wat ek nog nie probeer het nie en alhoewel die fisio ‘n redelike mate van verligting gebring het, dit effe noodlottig geeindig…. gebreekte voete ens. Ek het soort van geleer om nou maar daarmee saam te leef en vrede daarmee te maak.
Ek glo die emosionele stres van die afgelope tyd het ‘n groot rol gespeel want enige mens moet een of ander tyd die einde van jou krag/pad/wat ook al bereik. Hier middel Januarie het ek toe nou by daai punt uitgekom waar ek net nie ‘n tree verder kon of wou gaan nie.
My ma maak toe vir my ‘n afspraak by Meulmed hospitaal se rehabilitasie sentrum om te kyk of hulle nie kan help nie. Baie teesinnig het ek toe gegaan want ek ken die rympie wat die meeste dokters sê al uit my kop uit. Voor jy gewig verloor is daar nie veel wat ons kan doen om te help nie….. bla bla bla. En dis ook nou nie asof ek nog nie omtrent al wat ‘n dieet is uitprobeer het nie….Ongelukkig het Liewe Jesus dit goed gedink om my te seën met ‘n metabolisme wat als in vet verander nog voor ek dit geëet het. Ek was so bly toe ek so ruk terug die pille gebruik het wat nou so baie in die koerante was en ek het geen newe effekte nie en vir die eerste keer werrk iets regtig vir my. Maar nou ja……the story of my life…..
My eerste kennismaking met die rehab sentrum was ongelukkig ook nie wat wonders nie. My waterwerke wou opsluit die storie gaan uitcheck. Alhoewel dit ‘n rehab sentrum is is die troon waar ek toe nou heeltemal ontoeganklik vir my. Dit is ongelukkig so dat elke tipe gestremdheid ander hulpmiddels nodig het. Nie dat ek verwag dat alle toilette alle hulpmiddels moet in hê nie, maar die spesifieke 1 was vir my die ergste in ‘n lang tyd. Nou ja, 3 helpers later, heelwat trane van moedeloosheid en frustrasie en sommer ‘n paar ekstra pyne van die gesukkel kon ek uiteindelik my nood verlig.
Kyk toe is ek by moedeloos verby….. as ek so sukkel om te piepie, hoe gaan hierdie mense my kan help. As ek my sin gehad het, het ek net daar op die daad my pie gevat en gewaai, maar nou ja, ek moes toe maar voortgaan want dis nogal ‘n duur storie om soontoe te gaan.
Uiteindelik is dit my beurt by die dokter. Ek weet nie of dit moontlik is was nie, maar toe ek die dokter sien sak my moed sommer nog meer. Ek is defnitief nie ‘n rassis nie, mier sit Tannie Tjoklitsmurf voor my en wag dat ek my storie vertel. Aggie van 7de Laan se tweeling as sy een sou hê. Ek het net gewag dat sy vir my koffie en ‘n koekie aanbied…..
Ek het eintlik skaam gekry dat ek so bevooroordeeld was. In my hele 35 jarige bestaan het ek nog nooit ‘n dokter teegekom wat haar storie ken soos dokter “Aggie” nie. Die meeste ander drs. wil sommer dadelik opereer omdat dit meer geld vir hulle beteken. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het ek weer bietjie hoop gehad. Ek is daar uit met baie hoop en pille. Ek het ook ‘m draai gaan maak by die gym en was verstom oor al die apparate wat hulle gebruik. Ek wil sommer daar en dan begin oefen….maar weer-eens spring daar ‘n reuse struikelblok in die pad….Sou my medies dit goedkeur, hoe kom ek daar?????
Die pille werk wonderlik en ek kan weer klein dingetjies doen wat ek in nie kon doen nie as gevolg van die spasmas. Gewoonlik het pille nie eintlik newe effekte op my nie omdat ek redelik groot van lyf is, maar alhoewel dit wondere vir die spiere gedoen het was ek omtrent permanent op ‘n stasie van my eie. Ek kan wragties nie verstaan hoe kan mense druggies word nie want dit is ‘n aaklige gevoel. Ek wou net slaap, slaap en nogmaals SLAAP en ek moes elke 20 minute die troon besoek. Nie dat ek eintlik by die slaap deel kon uitkom nie want nes ek op die bed is, moes ek weer op vir troonbesoek. Ek het die dosis verminder en dit het nog steeds goed gewerk, maar ek was darem bietjie meer by.
Twee weke later is al die pyne en skete weer terug en die pille doen my absoluut niks. Nie eers as ek die dosis verdubbel kry ek enige reaksie nie. Die moedelooshied en selfbejamering slaan met mening toe. Ek is gewoond daaraan dat my liggaam weerstand opbou na so jaar of wat, maar 2 MAANDE, is vir my 1 te veel.
My medies het darem ook die gym sessies goed gekeur waaroor ek baie dankbaar is. Ek gaan Vrydag vir my 1ste sessie waarna ek nogal uitsien. My ma gaan saam vir die 1ste sessie en dan sal ons maar kyk of ons iets kan uitwerk met die vervoer saam. Hou asb. saam met my duim vas.
Wat my moed die meeste breek is dat ek vandag sekere dinge kan doen en môre kry ek met die beste wil ter wêreld dit nie reg nie…. Hopelik sal die behandeling help. Dis nou nie asof ek wil gaan berge klim of so iets nie, ek sal ook nie eers wil loop nie. Ek sal die gelukkigste mens op aarde wees as ek net weer in en uit ‘n gewone kar kan klim…..
Nou weet julle sommer ook hoekom ek nie juis kom klets het die laaste tyd nie…. ek was heeltemal te besig om myself jammer te kry…..!!!!!!
Hoop julle het almal ‘n wonderlike Valentynsdag gehad. Ek sal nou nie sê dis ‘n groot gunsteling by my nie. Ek het nog nooit iemand spesiaal gehad om dit mee te deel nie en die kanse dat hy in die nabye toekoms gaan arrive is baie skraal. Aan die een kant is ek baie bly ek het nie nog hartsake ook gehad om mee te cope nie, maar tog sal ek graag wou weet of dit regtig so wow is soos wat dit in flieks en storieboeke klink en lyk. Ek wil net 1 keer voor ek my houtsuit aantrek ‘n vuurwarm vrysessie beleef….. Nee wag, my koppie raas alweer erg….. seker al die liefde in die lug die afgelope tyd.
‘n GROOT dankie vir Ingrid vir die spesiale boodskap. Waardeer dit ontsettend BAIE.