Kruppelkriekkie Klets

Entries from Julie 2008

Onderstebo dag

Julie 31, 2008 · Lewer Kommentaar

Gister was ‘n verkeerde veer dag vir my.  Ek hoop nie ek hoef gou weer so ‘n dag te beleef nie.  Gister moes Virginia dokter toe gaan vir haar neus wat so baie bloei.  Net toe ons wil ry toe kom my baie praat vriendin hier aan.  Gewoonlik sms sy voor sy kom, maar my foon was af.  My vriendin-hulle het nie ‘n kar nie.  Haar man doen aflewerings by ‘n apteek en hy het haar toe met die werk se kar gebring.  Sy vra toe of sy nie vir my hier kan wag nie want sy het dringende briewe wat getik moet word. 

 

Oompie wip toe sommer sy stert in ‘n wille krul want hoe durf ek mense hierheen nooi as ek weet ek gaan nie hier wees nie.Hoe meer ek verduidelik ek het nie geweet sy gaan kom nie, hoe meer perform die Oompie.  Ek vra toe vir Maggie of sy nie alleen kan gaan nie, maar sy wil niks weet nie want sy is tog so bang om vorms in te vul.

 

Op die ou end is ek toe maar saam en vriendin doen toe maar haar tikwerk op my rekenaar terwyl ek weg is.  Ek het Dinsdag met Oompie gereël dat ek hom sal bel as ons klaar is by die dokter dan moet hy ons kom oplaai.  Die oomblik as dinge nie verloop soos hy dit beplan het nie, raak hy skoon skuins bed@nerd.  Hy het seker maar gedink ek gaan nie saam met Maggie daar bly nie of iets want toe my ma omtrent ‘n kwartier later met hom praat, sit hy nog steeds voor die gebou in die kar en wag ons het baie duidelik vir hom gesê ek sal hom bel.

 

Ek dink die mense in die dokters se spreekkamers het gedink my koppie raas erg.  Ek was so boos ek kon slange vang. Nou probeer ek vir die tjoklit ontvangsdame verduidelik ek het ‘n afspraak.  Sy eet lustig voort terwyl sy met haar mond vol kos met my praat.  Kyk, ek moes omtrent my tande deurbyt om nie op haar te gil nie.  Maggie moes later die van op ‘n stuk papier skryf , maar hulle kry niks.  Nadat ek toe weer ‘n vorm invul toe kry hulle uiteindelik die regte inligting.

 

Teen daai tyd het my moermetertjie omtrent uitgebrand van boosaardigheid want toe’s ek sommer weer van voor af kwaad vir my vriendin ook want sy het toe al my planne vir die dag kom opsmash en sy gaan maar net aan asof sy nou niks of niemand pla nie.

 

Dit was gelukkig ‘n baie oulike dokter.  Hopelik is die bloeiende nuus nou opgelos.  Hy het laat bloed trek van Virginia.  Ek het die arme kiddie so jammer gekry want sy was baie bang.  Hoe meer ek probeer troos en haar aandag aflei, hoe banger is sy.  Na ‘n gestoei om haar te laat  stil sit is die bloed toe darem getrek.  Ons sal seker binne ‘n dag of wat die uitslag kry.  Hopelik is daar nie ernstige probleme nie.

 

Toe ons uiteindelik hier by die huis terug kom, het die ou hond weer in die swembad geval.  Gelukkig was dit by die trappies en kon sy op die trappies bly staan.  Hoe lank die arme hond so in die swembad gestaan het weet ons nie, maar volgens die bure se bediende was dit ‘n hele paar uur.

 

Gister-aand net na my ma by die huis kom toe spuit die water soos ‘n fontein by ons water meter uit.    Toe moet julle die Oompie beleef om dit te waardeer.  Hy sou defnitief ‘n oscar gewen het vir Best performance.  My ma sê altyd ek kan erg stres kap, maar hy vat die koek.  Die stadsraad het toe darem na so 3 ure die water kom fix.

Dankie tog die dag is toe verby.  Vandag het ek ook ‘n intressante dag gehad, vertel later daarvan.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kategorië Uncategorized

Katte bou nasie

Julie 29, 2008 · Lewer Kommentaar

 

 

Die buurt se katte het hier in die middernagtelike ure besluit ons voortuin is net die plek om die kat bevolking uit te brei.  Die honde wou omtrent mal word want hulle kan nie die ongenooide gaste gaan verwilder nie.  Ek moet sê ek’s baie bly mense skop nie ook so vreeslike lawaai op wanneer die nasie gebou word nie.  Dan sou alle slaapkamers klankdigte mure moes hê.  Ek verwonder my net, skree die kat so van lekkerkry of van seer….;-). 

 

Ek dink iewers in my is ‘n erg gefrustreerde skrywer verskuil.  Op skool was ek mal oor opstelle skryf.  Ek kan nie wag dat Virginia moet begin opstelle skryf dat ek haar kan help nie.  Net na skool het ek ‘n kort verhaal geskryf, maar dit was nie vreeslik suksesvol nie want al die tydskrifte en plekke vir wie ek dit gestuur het, het dit terug gestuur.  Ek wou al inskryf vir ‘n kort-verhaal kursus, maar die nodige finansies ontbreek alewig.

 

Gesels weer Donderdag.  Lekker dag.

Kategorië Uncategorized

Naweek nuus

Julie 28, 2008 · Lewer Kommentaar

Ek het die naweek by ‘n vriendin gaan kuier.  Sy het die cuteste kiettie kat.  Dit is die liefdevolste kat.  Hy sal heeldag op jou skoot sit en as jy nie vinnig genoeg vryf en cuddle na sy sin nie, dan stamp hy jou met sy kop.  Katte is oor die algemeen nie vreeslik vryerig nie, maar Steve maak sommer op vir almal.  Sy celebrity naamgenoot was juis asgevolg van te vryerig wees al kniediep in die sop.  Ou Steve is eintlik ‘n optel kat, hy het in verlede jaar sommer daar aangestap gekom en hom tuisgemaak asof hy al van altyd af daar bly.  Ongelukkig weet ons nie hou lank Stevie-kat nog met ons gaan wees nie want hy het kat-vigs in een van sy vele gevegte opgetel.  Hy kry nou elke dag allerhande pilletjies en druppeltjies.  Dit kos my vriendin ‘n fortuin aan al sy medisyne, maar sy gee nie om nie want hy het nou al so diep in almal se harte gekruip.  Ek het haar mooi laat verstaan sy moet my maar nie bel as hy dood is nie, want ek weet nie wie van ons 2 gaan die hardste huil nie.  Dit lyk darem of die medisyne werk want hy lyk nie of hy siek is of enige pyn het nie.

 

Ek wou Vrydag my DVD recorder met ‘n byl stukkend kap.  Die 1 oomblik het hy nog die dvd gespeel en toe ek verder wil kyk toe kan hy ewe skielik nie die cd lees nie.  In my poging om te probeer uitvind wat sy pyn is gaan vee ek als van die cd af.  Daar’s my hele reeks van Dis Hoe dit is daarmee heen en die dvd speel of daar nog nooit ‘n probleem was nie.  Ek dink my arme TV en DVD is al allergies vir Steve want dis omtrent net sy goed wat ek opneem.

 

Ek het Saterdag die fliek PS I love you gekyk.  Dit is di mooiste storie wat ek in ‘n langtyd gesien het en dan is die boetietjie wat daarin speel ook nog so sag op die oog.  My ma het so gehuil dit het gelyk of sy begrafnis hou.  Ek het ook maar swaar gesluk om nie te huil nie.  Ek was bang as ek eers begin huil gaan ek dalk nie weer ophou nie.  Ek wens ek kan leer om bietjie meer in styl te huil.  Ek skop gewoonlik so geblêr op mens so sweer dis die einde van die wêreld.

 

My sussie-hulle het vir 5 jaar oorsee gebly en toe ons moes afskeid neem by die lughawe na ons gaan kuier het het ek so getjank die doane beamptes wou net weet waar is die pyn en wat kan hulle doen om te help.

 

Die rede waarom ek verlede week gesê het ek wil die blog opgee vir ‘n bad job, is omdat ek op Mweb ook ‘n blog gehad het, maar hy werk nie vir my so lekker soos wordpress nie.  Daar het so 100 mense per dag by my kom inloer en wou ek maar weer terug gaan omdat ek nie lekker geweet het hoe werk WordPress se getalle nie.

 

Ek hoop almal het ‘n intressante “nie blou” Maandag.

Kategorië Uncategorized

Julie 25, 2008 · Lewer Kommentaar

 

Baie dankie vir al die comments.  Ek was op die punt op dit maar op te gee vir ‘n bad job want niemand stel tog belang in wat hierdie Kruppelkriekkie te sê het nie.  Siem ek is nog erg tegnologies gestremd ook en toe weet ek nie so lekker waar om te kyk hoeveel views ek gekry het nie.

 

Die doktersbesoek was toe nou nie so erg nie.  Daar was toe net 2 moesies wat bietjie aandag nodig gehad het, maar gelukkig niks ernstigs nie.  Nou moet ek seker ook bysê die 1 is in my nek en die ander op my rug so ek kon glad nie sien terwyl hy daaraan werk nie en dit het baie gehelp.  Ek het ‘n vreeslike aktiewe verbeelding en as ek kan sien of hoor terwyl iemand  iets aan my doen verbeel ek my altyd allerhande goed, al is dit dood gespuit en kan ek niks voel nie.

 

Glo dit of nie, maar ek sukkel nou al 2 dae om ‘n behoorlike kleets in te kry.  Kort-kort word ek deur viets of iemand onderbreek.  Dis wat gebeur as mens nie kan NEE sê nie.  As daar nou 1 eienskap van myself is waarvan ek niks hou nie, dan is dit dat ek nie kan NEE sê nie.  Ek het al vir myself so baie onnodige stres en dinge veroorsaak oor daai ou 3 letter woordjie wat ek nie kan gebruik nie.

 

Ek’s so vies vir myself dis net nie waar nie.  Ek was vas oortuig my biblioteekboeke moes die 23ste hernu word.  As ek nie nuwe boeke wil uitneem nie doen ek dit sommer oor die foon want die bib is redelik ver van ons af.  Toe ed die 23ste bel sal ek hoor my boeke is reeds 2 dae laat en een van die boeke is op ‘n waglys en moet terug.  Toe’t ek nie ‘n keuse nie en moet toe maar gaan om die boete te betaal en die boek terug te gee.  Volgens hulle stelsel is daar nou nog ‘n boek uit op my naam wat ek defnitief nie het nie.  Nou sal ek seker nog moet betaal ook vir ‘n boek wat ek nie eers het nie want daar’s geen manier dat ek kan bewys ek het nie die boek nie.  Miskien help my kruppelgeid so bietjie en kry hulle my jammer.  Partykeer is dit nogal voordelig om ‘n kruppelkriek te wees en dan help ek dit nog so bietjie aan.  Ek het al goed reggekry wat ek nie andersins sou regkry nie, soos om verniet by plekke in te gaan of afslag te kry, maar dit maak ongelukkig nie op vir al die nadele nie.

 

Ons 1 ou hond het gister in die swembad geval.  Sy’s omtrent al 15 jaar oud en kan nie meer lekker sien nie.  Gelukkig was dit aan die vlak kant en het die ander honde vreeslik vir haar geblaf en toe Oompie gaan kyk hoekom blaf die ander so, kry hy vir ou Stompie in die water.  Volgens my is dit eintlik al tyd dat sy moet gaan slapies by die veearts, maar dis makliker gesê as gedoen.

 

Geniet die naweek.  Doen als wat lekker is.

 

 

Kategorië Uncategorized

Scab koors

Julie 22, 2008 · Lewer Kommentaar

Ek het gister heeldag kuiermense gehad en kon glad nie by klets uitkom nie.  Ek weet dis seker baie lelik van my, maar ek was baie dankbaar toe my vriendin uiteindelik huis toe is.  Sy praat ongelooflik baie.  As ek gelukkig is kry elk dalk so 5 minute spreekbeurt en dan moet ek ook met spoed my sê inkry want as jy te lank vat begin sy sommer praat nog voor jy klaar is. 

 

Nie dat ek juis baie mooi by was gister nie.  Ek was nog iewers tussen die wolke nadat ek vir Scab gesien het Sondag.  Hy is tog te cute….  Ek wil hom net hê….  Ek was skoon trigger happy met die kamera.  Ek het so baie foto’s van die boetietjie geneem, dit lyk omtrent of ek ‘n video gemaak het.  Al wat kort is klank.  Hy het seker gedink hierdie krippelkriekkie se kop raas heeltemal om hom so af te neem.

 

Behalwe vir sy mooi lyfie is hy nog so gaaf en vriendelik ook.  ‘n Plat op die aarde outjie wat dink die girlies is heeltemal nie lekker om so oor hom te kere te gaan nie.   Hopelik bly hy so en word nie beïnvloed deur die fame & fortune nie.

 

Ek gaan môre velspesialis toe om moesies te laat verwyder.  Ek is nie regtig kleinserig nie, maar ek haat dokters en inspuitings en goodies.  Ek weet hulle spuit jou dood, maar net die idee dat iemand goed afbrand of uitsny gee my sommer die wille weghol.

 

Nou ja, ek gaan begin om myself sielkundig voor te berei vir die doktersbesoek, so ek groet eers,  Lekker dag.

Kategorië Uncategorized

Naweek planne

Julie 18, 2008 · Lewer Kommentaar

‘n Vriendin kom die naweek kuier dan gaan ons bietjie scrapbooking doen.  My arme Kuifie-kind gaan nie baie van my naweek planne hou nie want hy sal in sy hok moet bly.  Hy is mal daaroor om konfettie te maak van enige vorm van papier wat hy in die hande kry en hy ondersoek al wat ‘n dingetjie is.  Miskien moet ek hom juis los, dan ontdek hy dalk vir my ‘n paar nuwe tegnieke.  Dis vir hom die lekkerste lekker om enigeiets wat hy in sy bek kan ronddra van die tafel af te gooi en hy weet baie goed hy’s stout want as dit net lyk of jy hom wil keer dan sit hy spoed in en maak seker hy gooi dit af voor jy kan keer.  Hy het nog die voordeel dat sy ma ‘n kruppelkriekkie is, so hy is baie vinniger as ek.

 

Sondag gaan ek na Scab van Egoli.  By Maandag gaan my hormone so opgeklits wees dat ek sommer ‘n midlife-crisis beleef.  Ai daai mannetjie is darem te mooi vir woorde.  Hopelik het hy ‘n mooi ‘n mooi persoonlikheid ook.  Dit wat ek oor die radio gehoor en op TV gesien het het heel oulik gelyk, maar partykeer kan dit nogal heelwat verskil van ‘the real thing’.

 

Virginia het R40 by die skool opgetel.  Sy tel nogal gereeld geld op maar dis die eerste keer dat dit so baie is.  So gelukkie sal my tog nooit tref nie.  Al wat ek optel is gewig….

Sy wil nou met alle geweld ‘n vis gaan koop.  Die kind het ‘n ding oor ‘n vis.  So jaar terug wou sy met mag en mening hamsters hê.  Ek het toe vir haar gekry en toe speel sy net vir so week daarmeee en toe is dit boring en te veel werk om die hok skoon te hou.  Ek weet nou al die vis gaan dieselfde paadjie loop of eerder swem in die geval.

 

Ek is besig met ‘n baie intressante storie boek en aangesien ek nie die naweek by lees gaan uitkom nie, gaan ek nou eers groet om bietjie te gaan lees.  Lekker naweek.

Kategorië Uncategorized

Ek en my manne

Julie 17, 2008 · Lewer Kommentaar

Hier is ‘n foto van my en die 2 mans in my lewe.  Ek aanvaar geen verantwoordelikheid vir rekenaar skerms wat kraak of hardeskywe wat vries nie.  Ek ken die naam van ‘n goeie sielkundige ook…. As die skok te groot was.

 

Kuifie (kokketiel) en Elvis (pug).  Hoekom Elvis, weet ek nie.  Ek het hom so gekry met naam en al.  Alhoewel hy op die foto meer soos ‘n aliën (spelling…????) lyk, is hy ‘n opregte pug.

 

As daar nou een ding is wat hierdie kruppelkriekkie se moermeter laat oortyd werk is dit mense wat vir my lieg en dan dink ek’s te stupid om dit agter te kom.  Ek sukkel nou al ‘n paar maande om geld uit ‘n ou uit te kry wat hy in ‘n verkreerde bankrekening in betaal het.  Elke keer as ek met hom praat het hy ‘n ander storie wat dit laat klink of die probleem by die bank is.  Intussen het ek self al met die bank gepraat enis dit glad nie so ingewikkeld soos hy dit maak nie.  Ek gaan volgende week die bank sien en self die storie probeer uitsorteer.

 

Ek het myself nou al ‘n paar keer in finansiële moeilikheid laat kom om ‘n vriendin en haar man te help.  Vanoggend het ek by iemand gehoor dat hulle ook die heeltyd besig is met liegstories.  Haar man is eintlik die skuldige wat haar net so lekker belieg, maar voor ek die ware storie gehoor het, gaan ek hulle beslis nie weer help nie.  Ek voel eintlik jammer vir my vriendin as dit regtig so is dat haar man haar belieg en bedrieg, want hy’s eintlik ‘n goeie ou siel, maar lyk my as daar geld betrokke is, los d ie boetie se koppie hom effe.Of ek ooit sal weet wat die waarheid is en wie nou eintlik lieg, weet ek ook nie, maar ek sal defnitief nou 2 keer sink voor ek als glo wat hulle te sê het.

 

Ek klets weer môre verder. 

Kategorië Uncategorized

Julie 16, 2008 · Lewer Kommentaar

Ek stoei nog so bietjie om uit te vind hoe als op WordPress werk, so gebruik seblief bietjie geduld met my.  Dankie vir die comments.  Dit het my ‘n rukkie gevat om by hulle uit te kom om dit te kon lees, sodra ek uitgevind het hoe om daarop te reply sal ek dit doen.

 

Dis gewoonlik net picnic-errors wat die probleem is.  Picnic errors = Problem in chair not in computer.  Die ding is die person in chair het net 2 werkende breinselle en die een is in vir herstelwerk op die oomblik en die ander 1 is effe gevries.

 

Daar is nie veel meer omtrent myself wat julle nie gister kon lees nie, so vandag gaan ek die res van die familie voorstel. Aangesien dit nogal ‘n deurmekaar spulletjie is, sal ek maar die hele familytree uitlê. My ouers is geskei en albei later weer getroud.  Ons kom almal goed oor die weg so dit maak dit heelwat makliker.

 

My pa en sy vrou (Pat) bly in Hartbeespoort.  Sy het 2 seuns en 2 dogters, almal jonger as ek.  My ma se man (Oom Paul of sommer Oompie as ons van hom praat) het 3 seuns, almal ouer as ek.  Dan het ek 1 ouer eie sussie, Riehet, (selfde ouers) wat ook ouer is as ek.  Sy het 3 kiddies wat net weet hoe om hulle tannie om haar pinkie te draai.  Angelize is nou 18, Loftus 14, en dan ‘n baie laat lammetjie Abygaile wat nou 3 is.  Hulle van is rerig Versfeld, soos in die rugby veld en swaer (Riaan) het besluit sy seun sal Loftus wees, maak nou nie saak wat die familie sê nie.

 

Die Oompie se jongste seun (Ian) bly in Kanada.  Hy het 2 seuntjies wat ons ongelukkig nog nie gesien het nie en seker ook nie gou sal sien nie.  Hy was met ‘n Kanadees getroud wat ons nog net op foto’s gesien het, maar sy het besluit die trouding werk nou nie meer vir haar nie en sy’s weg met kinders, klere, karre die lot. 

Ons het glad nie kontak met die middelste seun nie.  Die oudste seun Wietz en sy vrou (Cathy) het ‘n  3 jarige seuntjie Zain.  Hy en Abygaile verskil 2 maande. 

 

Aan my pa se kant is daar tot dusver nog net 1 seuntjie, Tony-James van so 18 maande.  Daai kant van die familie sien ek maar min want nie 1 van haar kinders is nog in die huis nie en bly ver.  Ek sien net die oudste dogter (Nici) so af en toe as ek by my pa gaan kuier.  Nici ek weet jy lees wat ek hier.  Ek hoop nie dit verveel jou te erg nie.

 

Dan is daar nog 2 mense wat ‘n groot deel van my lewe uitmaak, al is hulle nie familie nie.  Maggie is ons bediende, my 2de ma en my beste vriendin.  Haar dogtertjie Virginia van 8 jaar bly ook saam met haar hier by ons.  Partykeer kan ons lekker stoei, maar meestal kom ons baie goed oor die weg.   Sy werk al 13 jaar vir ons. 

 

Virginia genees my van enige behoete om ooit kinders te hê.  Nie dat sy regtig stout is nie, maar partykeer wil ek haar nekkie omdraai  en sy dink dis groot pret want sy’s mal daaroor as ek kwaad word.    

 

Ek beter eers groet.  As ek veel langer aangaan trek ek netnou by ‘n kort-verhaal.  Geniet die dag.

 

 

 

Kategorië Uncategorized

Kriekkie se 1ste klets

Julie 15, 2008 · Lewer Kommentaar

As jy verslaaf is aan jou rekenaar, hou van nonsens praat, nie regtig belangstel in die nuus nie en baie tyd het wat jy nie weet wat om mee te doen nie, is hierdie net die blog vir jou. 

Laat ek myself behoorlik voorstel voor ons verder gaan.  Ek het die 15de Junie 1974  my eerste skree gegee en dit amper nie oorleef om my storie oor te vertel nie.  Ek was vir einde Augustus bestel maar aangesien ek sommer van die begin af baie voor op die wa was, het ek besluit om vroeër my verskyning te maak.

Dit was toe nou nie so slim move van my nie want my longetjies besluit toe na 3 dae dit was lekke maar dis nou klaar en val plat.  My brein kry toe nie genoeg suurstof nie en nou is ek serebraal gestremd en in ‘n rolstoel.

Ek luister graag musiek, sommer enige iets, maar classics en Heavy Metal doen dit nie vir my nie.  Ek het so 17jaar terug my 1ste Steve Hofmeyr konsert gaan kyk en is nog steeds ‘n groot ‘fan’ van hom.

Ek moet elke dag my daaglikse dosis sepies inkry wat bestaan uit Egoli, 7de Laan, Binnelanders en Villa Rosa.  As ek ‘n episode of wat mis van die ander mis, is dit darem nie die einde van die wêreld nie, maar vir Binnelanders sal ek nogal berge versit.  Dit is ‘n MOET SIEN vir my. My nuutste stokperdjie is ’spoeg en plak’ (scrapbooking).  My gunsteling tydverdryf is shopping.  Net jammer my bankbalans wil nie saamspeel nie, maar nou ja, rooi is nie verniet een van my gunsteling kleure nie….

My troeteldierversameling bestaan uit 2 Maltese, ‘n Jack Russel-Worshond kruising, ‘n Yorkie-maltees kruising, ‘n Pug en ‘n hans kokketiel.  Die Pug en die kokketiel is my hart se punt en die enigste mans in hulle ma se lewe.

Ek’s verslaaf aan “The Sims’ maar tot dusver was ek nie vreeslik suksesvol om my gesin aan die lewe te hou nie.  As ek nie my huis afbrand met my ‘cooking skills’ nie kom vat die welsyn my kinders weg omdat ek vergeet om die arme goed kos te gee.

Ek is ‘n Avon agent en die enigste mens wat ek ken wat grimering en allerhande mooimaak goodies verkoop, maar dit nie self gebruik nie.  Ek moet sê vir iemand wat niks van cosmetics en dinge af weet nie vaar ek glad nie te sleg nie al moet ek dit nou self sê

Nou ja, ek dink ek het nou genoeg geklets vir eers. 

 

Kategorië Uncategorized