Ek’s sommer ‘n kwaai babatjie vandag. Ek wil vreeslik graag na Steve se nuwe waarmaker toer gaan kyk en ek was baie bly toe ek sien hy gaan by die Performer in Menlyn optree want dit is lekker rolstoel vriendelik daar. Toe ek hoor wat die kaartjies kos kry ek amper ‘n oorval. R175…. Dis verskriklik. Daar’s nie ‘n manier dat ek dit kan bekostig nie. Vir al die ander kunstenaars wat daar optree is die kaartjies so R100 maar omdat dit Steve Hofmeyr is kos die kaartjies ‘n fortuin. Wat my die kwaadste maak is dat daar mense is wat die kaartjies koop, so die organiseerders van die shows weet hulle kan vra net wat hulle wil, die kaartjies. Dis die 1ste keer in die 18 jaar wat ek al na shows toe gaan dat ek nog nie 1 keer hierdie jaar by ‘n Steve show was nie. Ek kan dit net nie meer bekostig nie en dis vir my nogal ‘n teer puntjie want dis omtrent dis omtrent al social life wat ek gehad het aangesien ek dit ook nie meer kan bekostig om te gaan fliek nie. Die shows wat in Pretoria was waar die kaartjies bekostigbaar is het ek of nie vervoer nie of dis buitelug. Ek haat ‘n buitelug show met ‘n passie want gewoonlik staan die mense in dan kan Kiepie nie ‘n woord sien nie.
Ag nou ja, dis seker ook nou nie die einde van die eeu nie.
Ek het vir my baie-praat vriendin in die hospitaal gaan kuier. Die arme ding het ‘n abses op haar boud. Ek het gedink sy gaan nou baie sukkel omdat sy heeldag in die rolstoel op haar boude sit, maar sy laat haar deur niks of niemand onder kry nie. Sy gee eintlik nuwe betekenis aan die uitdrukking klein botteltjie groot gif want sy is net ‘n meter lank, maar sy’t meer moed en deursettingsvermoë as die meeste mense wat ek ken.
My ma verjaar Sondag en as ek nie so voor op die wa was nie so ek ook nou een of ander tyd verjaar het. My ma, my ouma en my tannie het ‘n weddenskap gehad op wie se verjaardag ek gaan kom, maar toe besluit ek ek soek my eie dag want elke 2de mens verjaar omtrent in Augustus. Die family kom Sondag bring en braai waaroor ek nou nie juis vreeslik opgewonde is nie want my arme ma werk haar gewoonlik oor ‘n mik en dis nou eintlik haar special dag. As ek geld gehad het, het ek haar sommer by ‘n spa of ‘n ding ingeboek dan kon die family maar op hulle eie bring en braai.
My Kuifkop het vir my ‘n lekker appel konfetti op my lessenaar gelos, so ek beter nou ophou klets en gaan skoonmaak. Lekker naweek. Hoop maar die bokkies kry iets uitgerig ….





