Kruppelkriekkie Klets

Entries from September 2008

September 30, 2008 · Lewer Kommentaar

Saam met my kamera het ek ‘n geskenkbewys gekry vir 10 gratis foto’s per maand.  Nou het ek omtrent ‘m stryd om te besluit watse foto’s ek wil laat ontwikkel.  Ek het miljuisende foto’s om uit te kies.  Ek twyfel of ek ooit in my leeftyd al my foto’s sal ontwikkel.  Dankie tog vir digitale tegnologie‘n eksterne hardeskyf waarop ek als kan bêre. 

 

Ek’s nie eintlik iemand wat met goedsdiens te koop loop (of eerder ry in my geval) nie, maar ek het verlede week weereens gesien dat niks by Hom onmoontlik is nie.  In 2000 is ek na ‘n musiekfees toe en daar was ‘n ou met die oulikste woefie vir woorde.  Tiepies Kriekie was ek erg brgaan oor die hond en wou sommer die ou iets aandoen want hy was min gespin oor die arme hond.  Volgens my is dit baie onregverdig teenoor ‘n dier om hom na so plek toe te vat waar daar so baie mense en lawaai is.  Hoe meer ek vir hom vra of ek nie die hond kan optel nie, hoe meer kyk hy my aan of ek van ‘n ander planeet kom.  Ek was vas oortuig die ou het bietjie te veel grapsap ingehad.  Later het die ou se ma met my kom gesels en toe vertel sy my dat haar seun erg breinskade opgedoen het in ‘n motor ongeluk.  Ek het so sleg gevoel dis net nie waar nie.

 

Verlede week het ek sy broer gesien en vra toe of hy nog die hondjie het.  Toevallig was die boetie wat in die ongeluk was toe ook daar en ek kon my oë nie glo toe ek sien hoe goed hy herstel het nie.  As jy nie weet om daarvoor te kyk nie, sal jy nie eers weet hy het ‘n gebrek nie en daar is ook niks fout met sy spraak nie.  As ek dit nie met my eie oë gesien het nie, sou ek dit nie geglo het as iemand vir my sê hy het omtrent heeltemal herstel na die ongeluk nie.  En glo dit of nie, maar hy’t nog steeds die hond.

 

Ek oorweeg dit om oor te skakel na die Telkom Closer plan wat ADSL insluit.  As iemand hier lees wat dit gebruik, laat weet my seblief of dit die moeite werd is.  Ek’s so bang ek gee dalk Mweb op en dan sukkel ek met Telkom. 

 

Ag nou ja, ek’t seker genoeg geklets vir vandag.

 

 

Kategorië Uncategorized

Ek’s terug

September 29, 2008 · Lewer Kommentaar

Ek is terug.  Ek het baie lekker gekuier, maar dis lekker om terug te wees.  Ek is seker simpel maar hier by die 3de dag weg van die huis af, begin ek huis toe verlang.  Ek is seker te gewoond aan my omgewing en dinge.  Ek hou ook niks van verandering nie.  Die sielkundiges en slim mense reken dis nie goed vir ‘n mens om in so groef te verval nie, maar ek is dood tevrede met my groef dankie.  As mens jou regtig moet steur aan die deskundiges se voor en nadele, dan sal jy moet ophou lewe want omtrent als het een of ander nadeel.

 

Ek wonder hoekom gebeur dit soms dat so baie goed gelyk moet gebeur en ander kere gebeur net mooi niks.  Verlede week het ek so baie goed gehad wat gedoen moes word, ek het skaars grond gevat en nou is dit so rustig ek kan nie eers aan iets intressants dink om te vertel nie.

 

Dankie vir die comment Pikelik.  Ek het sommer na my hondjie verlang toe ek jou comment kry en op jou blog gaan inloer.  Ek wou nog vir jou comment, maar toe raak ek weer knoppie bevange en daar verdwyn jou blog.  Ek het ‘n Pug gehad wat se naam Pikkie was en haar troetel naampie was Pikelik.  Die dag toe ek haar moes laat uitsit het ek gedink my wêreld vergaan maar tog het ek dit oorleef.  So jaar daarna het ek vir Elvis, ook ‘n Pug, gekry wat darem baie gehelp het met die groot gemis.  Net jammer die man is so ‘n vetsak, dat hy nie op my skoot kan sit nie.  Kyk net, is daai gevreetjie nie opvreetbaar nie….?

 

Nou het ek darem vir Kuifie om op my skouer te sit, maar mens kan ongelukkig nie ‘n voëltjie se lekker cudlle soos ‘n woefter nie.

 

Ag nou ja, aangesien ek nie iets vreeslik intressant te sê het vandag nie groet ek maar eers.

 

Kategorië Uncategorized

Besig besig besig

September 23, 2008 · Lewer Kommentaar

Uiteindelik kry ek ‘n kansie vir klets.  Ek dink iemand moet nou seblief die wêreld stop.  Ek wil afklim want ek sukkel om by te hou.  Miskien is ek net so bietjie op die sneltrein die afgelope paar dae, ek weet nie, maar 1 ding is verseker, Vader tyd is nie Kruppelkriek vriendelik nie, maar laat ek nou ophou klae oor die tyd en aan die gang kom anders het ek netnou weer nie genoeg kletstyd nie.

 

Die Steve-show Vrydag was baie lekker.  Ek het omtrent bo-op sy skoot gesit so naby aan die verhoog was ek.  Om die waarheid te sê ek glo nie ek was al ooit so naby aan die verhoog nie.  Volgens my is dit ‘n baie goeie show en regtig die moeite werd om te sien. 

Ai en daai Andries-mannetjie wat vir Steve kitaar speel…. Hy’s te cute vir woorde en dan sing die 2 nog so oulik saam ook.  Steve is nog net so vol dinge soos altyd en het heel goed gelyk.  Hy’s nou glad nie vir my so maer soos wat almal te vertel gehad het nie.  Hy lyk maar nog net soos altyd.  Om die waarheid te sê hy’t vir my baie beter gelyk as van die vorige kere wat ek hom gesien het.

 

Ek het rêrig gedink die orige ou anties sal die arme man nou met rus laat, maar lyk my hulle is nou nog erger as voorheen.  Ek was later lus en gooi ‘n vrou met my kamera want sy’t kort-kort sexy aanmerkings gemaak.  Dis ook maar goed ek’s nie ‘n celeb nie.  Ek  glo nie ek so ‘n enkele fan gehad het nie want ek sou defnitief my cool verloor het met mense wat nie weet wanneer om te stop nie.  Om van die media nie eers te praat nie.

 

 

Na die tyd kon ek ‘n vinnige geselsie inkry met Steve.  Ek het hom sommer uitgetrap omdat sy kaartjies so duur is.  Nie dat hy iets daarmee uit te waai het nie.  Die organiseerders is eintlik die skuldiges want hulle probeer soveel as moontlik wins maak.  Ek sukkel rêrig met die feit dat daar mense is wat bereid is en dit kan bekostig om soveel vir kaartjies te betaal.  Nogmaals baie dankie Wipneus.  Ek waardeer wat jy vir my gedoen het.  Steve sê ook dankie en baie groete vir almal.  Ek het hom vertel van my goeie feë.

 

Ek het verlede Donderdag uiteindelik my verjaardag persent gekry, al het ek al die 15de Junie verjaar.  Ek wou ‘n nuwe kamera hê, maar dit moes ten minste 10 x kon Zoom, 7 megapixsels, goedkoop wees en ek moes dit kon hanteer met my kruppel kloutjies.  Nogal ‘n tall order, veral die goedkoop deel, maar te danke aan ‘n lekker special by Q-photo kon ek my kamera kry.  Dis nou wat ek sal noem goeie tydsberekening want toe kon ek dit lekker inwy by Steve se show en ek’s baie in my noppies met my foto’s.

 

My Pa se partytjie Saterdag was op die ou end toe heel lekker.  Ek sou nie omgegee het as ek ‘n ekstra magie kon hê wat ek kon vol maak nie.  Die kos was uit die boonste gestoeltes.  Ek gaan môre vir so 2 dae by my Pa-hulle kuier so ek sal eers weer Maandag ‘n klets kan inkry.

 

Maggie het gister verjaar.  Ons is Kollenade toe om vir haar klere te koop vir haar verjaardag.  Om saam met haar te gaan shop is ‘n mission want sy’s erg vol nonsens met haar klere maar sy gee wragtag nuwe betekenis aan kieskeurig en kan nie besluit nie.  Vyf ure later is ons uiteindelik weer terug by die huis.  Sy sou eintlik goed gevaar het in die voortrekker tyd of as ‘n non want sy wil toe wees van haar toontjie tot haar kroontjie en met deesdae se mode is dit half ‘n onbegonne taak.

 

Om dit nog meer intressant te maak was daar nog ‘n spulletjie wat getoi-toi het ook.  Behalwe vir ‘n hengse lawaai  was hulle heel rustig. 

 

 Ek moet groet.  Gesels weer Maandag.  Gaan vang als aan wat lekker is.

 

 

 

 

 

 

Kategorië Uncategorized

Pa verjaar

September 18, 2008 · Lewer Kommentaar

My pa het vandag 60 geword.  Saterdag gaan ons ‘n moewiese party hou.  Ek glo nie eers sy troue was so ‘n groot storie nie.  Aan die een kant is ek half omgekrap oor die party.  Nie ek of my sussie het enige iets bygedra met die reëlings of iets nie en ek het ‘n paar keer gesê hulle moet laat weet as ons kan help.  Nie dat ek omgee dat sy vrou en haar kinders als gdoen het nie, maar ek kan my net voorstel watse skinderstories daar nou weer gaan uitbroei, dat die arme stiefkinders vir als moes betaal en doen en sy skatryk dogter (sussie) het niks eers bygedra nie.  Arme sussie is juis nie hulle favourite nie….

Nie dat ek dink ek is die favourite nie, maar nou ja, dit gaan seker nie help om verder daaroor te wroeg nie want ek kan niks daaraan doen nie.

 

Ek weet ten minste ons gaan lekker eet.  Daai gesegde wat sê die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag was defnitief in my pa se geval waar.  Sy vrou maak ongelooflik lekker kos.  Dis maar goed ek bly nie by hulle nie want dan het ek lankal nie meer in my stoel gepas saam met al die vetrolletjies nie.

Nie dat ek dink my Ma se kos is sleg nie, maar sy’s nie lief vir kosmaak nie en volgens haar is ek die enigste een wat dink sy maak lekker kos.

 

Virginia het Maandag van die skool af gekom met ‘n kosblik vol sywurms.  Verlede jaar het sy ook met sywurms huis toe gekom, maar Maggie wou niks daarvan weet dat sy die wurms hou nie.  Maggie is ongesond bang vir duisendpote en die wurms het haar laat dink aan duisendpote.  Ek sê Maandag vir Virginia Maggie gaan haar nie toelaat om die wurms te hou nie, sy weet dan wat het laas jaar gebeur.  Die arme kind het al die pad van die skool af schemes uitgewerk om die wurms te kan hou.  Ek kon maar net smile vir haar ongelooflike redenasie vermoë.  Op die ou end het sy vir Maggie R5 betaal en die wurms kon bly.  Ek dink nie Maggie kon dit oor haar hart kry om weer nee te sê nie.

 

Nou ja, nou is hier 37 klein wurmpies.  Eintlik gril Virginia haar vrek vir die goed en wil nie regtig daaraan vat nie, maar sy sal dit nooit erken nie.  Om vir die goed nuwe blare in te sit is nogal ‘n operasie want sy probeer baie hard om nie aan hulle te raak nie.  En amper word die wurms toe gister Kuifie-kos want meneer gaan spring toe sommer binne-in die boks vol wurms.  Gelukkig kon ons hom uitkry voor hy begin eet.  Vandag is die wurms saam skool toe, so wat van hulle gaan  oorwees weet ek nie.

 

Kuifie het op 1 of ander manier my muis se draad weer in die hande gekry, of eerder in die snawel in sy geval.  Gelukkig het ek dit betyds gesien net voor hy die draad deur byt.

Een van die dae gaan al wat ‘n draad is in my kamer vol selotape gepatch wees.  Partydae is hy dood tevrede met sy eie drade en steur hom nie aan my drade nie, maar as hy die dag besluit dis nou my drade se beurt het ek al my dae met die voëltjie,  Nie dat hy nie genoeg speelgoed het nie.

 

Ek moet nou eers bietjie die maatjie ding gssn doen en baie my baie praat vriendin ‘n draai gaan maak.  Klets weer.

Kategorië Uncategorized

Te min ure

September 16, 2008 · Lewer Kommentaar

Gister het net eenvoudig heeltemal te min ure gehad vir als wat ek in die dag wou inprop toe moes my klets sessie maar in die slag bly.  Ek sou nogal nie omgegee het as ek myself kon kloon en op ‘n honderd plekke gelyk wees nie.  Alhoewel ek twyfel of ek meer as een van my sal oorleef. Ek het die wonderlike gawe om die lewe vir myself en ander soms baie moeilik te maak as ek stres kap en dis nogal gereeld.  Toe die gawe van stres kap uitgedeel is was ek heel voor in die koor en ek het dit sommer in trippel dosis gekry.  Die ergste van als is die meeste van die tyd kap ek stres oor ander mense se probleme waaroor ek in elk geval niks kan doen nie.  Lekker simpel nê.  Ek wens ek kan leer om nie heeltemal so fyngevoelig te wees en altyd almal te probeer gelukkig hou nie want in die proses maak ek myself sielsongelukkig.  Genoeg gewroeg!

 

Ek het gedink dis net in stories waar wense waar word maar ek het ‘n goeie feë gekry wat 1 van my groot wense laat waar word het.  Ek het ‘n kaartjie gekry om Vrydag-aand Steve se Waarmaker show te gaan kyk by die Barnyard in Menlyn.  Nogmaals duisend dankies Wipneus.  Ek weet daar is baie belangriker dinge as Steve-shows in die lewe, maar dit was vir my baie erg dat ek dit nie meer kan bekostig om na shows toe te gaan nie aangesien dit omtrent al is waareen ek kan uitgaan.  Hoekom Liewe Jesus my ook so gestraf het om mal te wees daaroor om uit te gaan weet ek nie. Plaas ek maar meer na my ma-hulle geaard het in daai opsig.  Hulle is regte huis-henne.  Waar ek vandaan kom weet ek nie, want solank die wiele draai is ek gelukkig, maak nie saak waarheen of saam met wie nie. 

 

Ek het Sondag die fliek Mama Mia gesien.  My swaer het ons gestiek vir ‘n ladies outing terwyl hy babysit.  Ek weet nie of dit net ek is nie, maar daars vir my iets anders om ‘n fliek in die teater te kyk as om dit by die huis op DVD te sien,  ‘n Fliek sonder popcorn is ook nie dieselfde nie.  Popcorn is ‘n moet as jy fliek kyk.

 

Ek het ‘n lekker vet Avon bestelling om te plaas so ek groet eers.

Kategorië Uncategorized

Sake van die hart

September 12, 2008 · Lewer Kommentaar

Net toe ek gister dink eek gaan gou ‘n vinnige klets inwerk, kom kuier my sussie.  Ons het toe vrouens se gunsteling tydverdryf gaan beoefen en die winkels ingevaar.  My swaer sê nie verniet ons is profesional shoppers van beroep nie. 

 

Later gaan ek alleen terug Pick & Pay toe om iets te gaan omruil.  Ek was amper by die winkel uit toe ek ‘n slag hoor.  Ek het my buite weste geskrik want ek dog dis ‘n bom of roof of iets en ek was nie seker of ek moet wag of jaag nie.  Die sondebok was toe al die tyd ‘n Soda Stream gas silinder wat ontblof het.

 

Ek weet dis nou eintlik al ou nuus, maar was 7de Laan se troue nie te romanties vir woorde nie?  Net jammer sulke goed gebeur regtig net in stories.  Ek sou nogal bly gewees het as mens daai behoefte vir ‘n spesiale maatjie wat Liewe Jesus ons gegee het bietjie kon afskakel of uitsny.  Wat is ‘n Kruppelkriekkie se kanse nou eintlik, as mens realisties na die saak kyk.  Maar nou ja, ek’t lankal daarmee vrede gemaak dat my prins op sy wit perd op die Titanic was en ons weet almal wat daar gebeur het.

 

Dis ook seker maar my eie skuld want omdat ek die seer van ‘n egskeiding aan my eie lyf gevoel het, het ek ‘n netjiese muurtjie om my gebou en niemand toegelaat op te na aan my te kom nie.  Iemand kom meng toe in met my bouwerk en net toe ek weer begin vertrou eindig my hartjie weer in stukke en ek sukkel nou nog om genoeg pleisters op te plak.  Ek’s nou nog kwaad vir myself dat ek dit toegelaat het want ek het van die begin af geweet ek gaan die slegste daarvan af kom.

 

O omtrent 2 jaar terug het iemand wat saam met my op skool was baie hard probeer om die opsitkers aan die brand te kry, maar maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, ek kon nooit meer as suiwer vriendskap vir die arme boetietjie voel nie.  Hy het later so op my senuwees gewerk ek het gedink ek gaan al my varkies kwyt wees.  Hy was vas oortuig my ma beïnvloed my teen hom, maar my ma was regtig onskuldig.

 

Kyk as daar nou een sinnetjie is wat ek haat, dan is dit: Wat sê jou Ma.  Ek weet hulle bedoel dit seker nie so nie, maar al my vriendinne wil om 1 of ander rede altyd weet of ek vir my Ma vertel het en wat sy daarvan sê.  Of as hulle my iets vertel hoor ek gereeld moet toek nie vir jou ma daarvan vertel nie… Dan is my moermetertjie sommer opslag in top gear. Dit laat my voel asof ek alewig stories by my ma aandra en asof ek nie uit my eie iets kan doen sonder Mammie se hulp nie.  Ek en my Ma het ‘n baie hegte verhouding, maarr dit het ontstaan omdat ek baie afhanklik van haar is.

 

Ek het gedink hierdie gaan ‘n kort klets wees en nou trek ek al amper by ‘n kortverhaal so ek groet eers.  Lekker naweek.

Kategorië Uncategorized

Straatbesem

September 10, 2008 · Lewer Kommentaar

My arme Kalahari Ferrari het gister omtrent oortyd gewerk.  Ek was omtrent heeldag op straat. Ek dink die mense daar by Moot hospitaal gaan oor my begin wonder want my vriendinne maak deesdae beurte om daar te gaan inboek.  Dis seker net toevallig want die 2 ken mekaar nie eers nie, maar hulle beland elke keer in dieselfde saal en by dieselfde dokter.  Hulle moet nou net hulle timing reg kry dat hulle dieselfde tyd in die hospitaal kan wees dan kan ek vir altwee gelyk gaan kuier.  Ek kry net die hospitaal bietjie jammer as die 2 saam daar moet beland want die 1 praat sonder ophou en die ander 1 kla en kerm die heeltyd oor die hospitaal se diens.  Alhoewel hulle diens nie sleg is volgens my nie, maar sy is net nooit tevrede nie.  Al is daar niks om oor te kla nie sal sy aanhou soek tot sy iets kry waarmee sy kan foutvind.  Sy maak die lewe partykeer baie moeilik vir haaeself en almal om haar.  Ek het my ma-hulle goed laat verstaan as ek ooit so word, moet hulle my asseblief skiet of uitsit of iets.

 

Na gister het ek baie meer simpatie met karwagte en die mense wat so in die bloedige son staan.  Ek was skoon uitgeput toe ek by die huis aanland en ek sonblok en ‘n hoed aangehad die heeltyd.  Ek het ook nie eers lank op een plek stil gestaan nie, maar die sonnetjie het my lekker gebak.

 

Arme Kuifie was natuurlik glad nie beïndruk met sy ma nie want hy moes heeldag in sy hok sit.  Ek het die arme ding so jammer gekry.  Toe ek hom uiteindelik uit die hok haal het ek al my dae gehad om hom te kalmeer want toe wil hy net byt.

Vanoggend dink hy dis Krismis want ek het hom voor 6 al laat uitklim.  Gewoonlik kry ek nog my beauty sleep in daai tyd, maar vanoggend is ek vroeg op want Maggie moet kliniek toe gaan en Oompie het gaan visvang.  Voor hy weg is het ons eers bietjie aksie gehad net sodat ons hom nie te veel mis nie. 

 

Elke keer as hy iewers wil heen gaan vir ‘n paar dae, gebeur daar iets.  Vanoggend het die krag om aanhou uitskop en Oompie gooi die 1 tantrum na die ander en al wat wil aankom is die krag.  Wat dit veroorsaak het weet ons nou nog nie, maar die krag het darem besluit hulle sal maar aanbly voor die Oompie iets oorkom.  Kyk hulle sê altyd vrouens het baie bagasie, maar eks seker ‘n visserman het meer.  Hy kom weer Vrydag terug, maar dit lyk of hy ten minste 2 maande gaan weg wees.  Hy het vir 2 dae gepak aan die bakkie en die sleepwa.

 

Virginia is na ‘n partytjie uitgenooi en op die uitnodiging kon ek al sien dit gaan ‘n groot gedoente wees.  Ek bel om te bevestig sy gaan kom en hoor toe dat hulle met ‘n limozine (spelling????) gaan ry Silverlakes toe en daar gaan partytjie hou en fliek en ek weet nie wat nog als nie.  Nou wonder ek net, as die 8ste verjaardag partytjie so ‘n gedoente is hoe gaan die 21ste verjaardag of troue wees.  Virginia gaan voel sy’t die jackpot getref want sy’s gewoond aan taxi ry wat nog te sê van ‘n limo.

 

Eintlik is dit vir my half onregverdig dat die kinderpartytjies deesdae sulke groot stories is want nie almal kan dit bekostig nie en dan voel die kinders half minderwaardig as hulle nie sulke groot partytjies soos die maatjie kan kry nie.  Maar nou ja, dis seker deel van die lewe nê. 

 

Ek het seker nou genoeg geklets vir 1 dag.

 

 

Kategorië Uncategorized

Dankie

September 8, 2008 · Lewer Kommentaar

Dankie vir die mooi woorde Dawie.  Net as ek dink ek gaan my blog stop, kry ek sulke comments en dan is als sommer weer die moeite werd.  Ek weet mens blog eintlik vir jouself, maar dis tog lekker om te weet iewers is daar iemand wat belangstel in wat jy te sê het.  Ek probeer nou al ‘n leeftyd lank uitwerk hoekom ‘n mens ‘n drang na erkenning het (of is dit net ek), maar tot dusver het ek nog nie ‘n bevredigende antwoord gekry nie.

 

Vandag 18 jaar gelede was ek vir die eerste keer by ‘n Steve konsert.  Ek wou niks van die simpel boetietjie weet nie want hy was dan so boef op TV en dan dink hy nog hy kan sing ook.  Min het ek toe geweet 18 jaar later gaan ek erg omgekrap wees omdat ek dit nie kan bekostig om na ‘n konsert toe te gaan nie. 

 

My Kuifie-kind kan baie bly wees ek is so lief vir hom, want anders was sy nekkie defnitief die naweek omgedraai.  Hy het besluit my selfoon charger is net die ding om van konfettie te maak.  Ek het gesien hy’s besig om konfettie te maak maar ek het gedink dis van die tissue wat langs die charger lê.  Gelukkig het hy nog net die plastiek omhulsel beetgekry en was die draad nog heel.

 

Asof die charger nou nie genoeg was nie, was sy volgende slagoffer my muis.  Gelukkig kon ek hom betyds red.  Ek weet nie hoekom nie, maar hy kou net aan die drade as ek packman speel.  Hoe hy weet ek speel packman weet ek nie, maaar hy het duidelik iets teen arme packman.  Nou sit meneertjie natuurlik tjoepstil op my skouer asof botter nie in sy mond kan smelt nie

 

 

 

Ek het Nicholis Louw se nuwe cd geluister.  Ai daai mannetjie is darem sag op die oog man.  Dan sing hy nog sulke mooi liedjies ook.  Hy laat my sommer verlang na iemand wat ek nie eers ken nie, as hy begin sing.  Sy konserte is net nie baie kruppelkriekkie vriendelik nie want hy laat die mense staan en dan sien ek nie ‘n woord nie.  Die vorige keer toe ek by ‘n konsert was het hy so sleg gevoel toe ek sê ek kon niks sien nie, ek het hom eintlik jammer gekry soos hy omverskoning vra.  Hy’t belowe hy sal volgende keer sorg dat ek heel voor in die koor is.

 

‘n Wonderlike pienk rosige Maandag verder.  Klets weer later.

 

 

Kategorië Uncategorized

September 5, 2008 · Lewer Kommentaar

Daar is nou maar een maal nie pille vir domgeid nie.  Ek het gister eers ondek dat ekvergeet het om ‘n paar van my klets sessies te publish.  Kan jy dit oorvertel, ek tik dat die stof staan sommer vir die pret daarvan….  

 

Ek het gister-aand gedink ons gaan bietjie aksie hê.  Ons bure wat met vakansie is se alarm het afgegaan.  Ek moet sê die gewapende reaksie was blitsvinnig hier om die ‘skelms’ te kom vang.  Die ‘skelm’ was toe al die tyd ‘n rondloper kat.  Die arme kat was omtrent in ‘n toestand want hy kon nie uit die huis kom nie.

 

My moermetertjie is weer vandag erg beproef.  Ek gaan Pick en Pay toe om vir Maggie sopbene te gaan koop.  Hulle is toe reeds besig om vir iemand biltong te kerf.  Ek wag ewe gedwee en geduldig dat hulle klaar maak alhoewel die hele plek wemel van mense wat daar werk, maar almal kyk my net aan of ek ‘n alien is.  Toe die biltong mannetjie nou uiteindelik klaar is dog ek hulle gaan my nou help.  Ag nee wat, die slagter gaan maar net aan met sy werk asof daar niks aangaan by die toonbank nie.  Kyk toe’s ek goed warm en ek skree gaan iemand my kom help asb.  Toe loop die spul ewe skielik oor van vriendelikheid en hulpvaardigheid.  Ek het hulle ook goed laat verstaan ek soek nie bene vir honde nie, dit moet ordentlik wees.  Maggie het in haar lewe nog nooit sulke mooi bene gekry nie, nogal netjies verpak en elke ding.  Hulle het seker gesien hierdie kruppelkriekkie is op die punt om te ontplof.

 

Ek wil my voëlie kind se nekkie omdraai.  Hy het nou deesdae die gier om sy opsies net op my been te doen.  Selfs al sit hy op die tafel of iewers sorg hy dat my been binne tref afstand is.

 

Geniet die naweek.  Gesels weer Maandag.

Kategorië Uncategorized

Pynnigingsessie

September 4, 2008 · Lewer Kommentaar

Ek was gister vir die 1ste keer in ‘n lang tyd vir fisio terapie.  Dit was omtrent ‘n operasie om op daai hoë bedjie te kom, maar ons het dit darem gemaak sonder om my nek in die proses te breek.  Ek en die arme terapeut het omtrent ‘n workout gehad net om op die bed te kom.

 

Toe sy eers begin druk en vryf het ek gewonder wat my besiel het om te kom en dan word sy nogal betaal om my so te boelie.  Ek het al vergeet hoe seer dit is.  Vandag is my kakebeen skoon seer soos ek op my tande moes byt.  Die spreek woord van you got to be cruel to be kind is defnitief goed van toepassing op fisio want vandag voel ek sommer heelwat beter al het ek gister gedink ek gaan nie oorleef om die storie oor te vertel nie.  Ek wag nou net vir die medies om dit goed te keer dan sal ek so 2 keer ‘n week gaan vir ‘n boelie sessie.  Dis eintlik my eie skuld dat my arme spiertjies so erg protesteer want ek’s eintlik veronderstel om ten minste 1 keer ‘n week fisio te kry om my spiere soepel te hou, maar Kiepie dink mos altyd sy weet van beter en teen die tyd dat dit dan so in spasma is dat ek wil dooi van die pyn sukkel die arme fisio haar oor ‘n mik om iets met my uitgerig te kry.

 

Weereens was vervoer die hoof dr*l in die drinkwater want Oompie moes myheen en weer ry fisio toe en terug en dit het alewig op ‘n issue uitgeloop.  Ek was baie dankbaar toe daar ‘n fisio binne loopafstand van my huis af oopmaak.  Nou kan ek met my stoel ry.

 

Genoeg van my geklae en kerm. 

Kategorië Uncategorized