Uiteindelik kry ek ‘n kansie vir klets. Ek dink iemand moet nou seblief die wêreld stop. Ek wil afklim want ek sukkel om by te hou. Miskien is ek net so bietjie op die sneltrein die afgelope paar dae, ek weet nie, maar 1 ding is verseker, Vader tyd is nie Kruppelkriek vriendelik nie, maar laat ek nou ophou klae oor die tyd en aan die gang kom anders het ek netnou weer nie genoeg kletstyd nie.
Die Steve-show Vrydag was baie lekker. Ek het omtrent bo-op sy skoot gesit so naby aan die verhoog was ek. Om die waarheid te sê ek glo nie ek was al ooit so naby aan die verhoog nie. Volgens my is dit ‘n baie goeie show en regtig die moeite werd om te sien.
Ai en daai Andries-mannetjie wat vir Steve kitaar speel…. Hy’s te cute vir woorde en dan sing die 2 nog so oulik saam ook. Steve is nog net so vol dinge soos altyd en het heel goed gelyk. Hy’s nou glad nie vir my so maer soos wat almal te vertel gehad het nie. Hy lyk maar nog net soos altyd. Om die waarheid te sê hy’t vir my baie beter gelyk as van die vorige kere wat ek hom gesien het.
Ek het rêrig gedink die orige ou anties sal die arme man nou met rus laat, maar lyk my hulle is nou nog erger as voorheen. Ek was later lus en gooi ‘n vrou met my kamera want sy’t kort-kort sexy aanmerkings gemaak. Dis ook maar goed ek’s nie ‘n celeb nie. Ek glo nie ek so ‘n enkele fan gehad het nie want ek sou defnitief my cool verloor het met mense wat nie weet wanneer om te stop nie. Om van die media nie eers te praat nie.
Na die tyd kon ek ‘n vinnige geselsie inkry met Steve. Ek het hom sommer uitgetrap omdat sy kaartjies so duur is. Nie dat hy iets daarmee uit te waai het nie. Die organiseerders is eintlik die skuldiges want hulle probeer soveel as moontlik wins maak. Ek sukkel rêrig met die feit dat daar mense is wat bereid is en dit kan bekostig om soveel vir kaartjies te betaal. Nogmaals baie dankie Wipneus. Ek waardeer wat jy vir my gedoen het. Steve sê ook dankie en baie groete vir almal. Ek het hom vertel van my goeie feë.
Ek het verlede Donderdag uiteindelik my verjaardag persent gekry, al het ek al die 15de Junie verjaar. Ek wou ‘n nuwe kamera hê, maar dit moes ten minste 10 x kon Zoom, 7 megapixsels, goedkoop wees en ek moes dit kon hanteer met my kruppel kloutjies. Nogal ‘n tall order, veral die goedkoop deel, maar te danke aan ‘n lekker special by Q-photo kon ek my kamera kry. Dis nou wat ek sal noem goeie tydsberekening want toe kon ek dit lekker inwy by Steve se show en ek’s baie in my noppies met my foto’s.
My Pa se partytjie Saterdag was op die ou end toe heel lekker. Ek sou nie omgegee het as ek ‘n ekstra magie kon hê wat ek kon vol maak nie. Die kos was uit die boonste gestoeltes. Ek gaan môre vir so 2 dae by my Pa-hulle kuier so ek sal eers weer Maandag ‘n klets kan inkry.
Maggie het gister verjaar. Ons is Kollenade toe om vir haar klere te koop vir haar verjaardag. Om saam met haar te gaan shop is ‘n mission want sy’s erg vol nonsens met haar klere maar sy gee wragtag nuwe betekenis aan kieskeurig en kan nie besluit nie. Vyf ure later is ons uiteindelik weer terug by die huis. Sy sou eintlik goed gevaar het in die voortrekker tyd of as ‘n non want sy wil toe wees van haar toontjie tot haar kroontjie en met deesdae se mode is dit half ‘n onbegonne taak.
Om dit nog meer intressant te maak was daar nog ‘n spulletjie wat getoi-toi het ook. Behalwe vir ‘n hengse lawaai was hulle heel rustig.
Ek moet groet. Gesels weer Maandag. Gaan vang als aan wat lekker is.

