Hoop julle het my so bietjie gemis gister. Lyk my Lady Luck is so bietjie aan my kant die laaste tyd. Hoop sy gaan nou ‘n rukkie kuier.
Verlede week gaan ek saam met ‘n vriendin na ‘n scrapbooking-winkel toe hier naby ons. Die eienaar vra toe hoekom kom ek nie weer by die winkel nie. Ek sê toe ek wil nie onnodig in versoeking kom om te koop as ek nie geld het nie. Nou bly ek eerder daar weg.
Sy sê toe ek moenie worry oor geld nie, ek moet Dinsdae kom vir klasse en ek hoef niks te betaal nie. Ek het toe gister heeldag gespoeg en plak. Ek het later so sleg gevoel want sy wou niks weet dat ek vir enigiets betaal nie. Ag dalk dink sy sy doen haar deel vir charity, ek weet nie. Nou gaan ek maar elke Dinsdag bietjie spoeg en plak. Die lekkerste van als is dat daar lugreëling is. Ek’s mal oor die somer en kry veel eerder te warm as koud, maar kyk, as die son jou die afgelope 2 dae alleen buite kry bly daar nie eers ‘n sweet kolletjie van jou oor nie.
My arme Kuifie-kind is natuurlik glad nie beïndruk met die nuwe reëling nie want die arme ding moet heeldag in die hok sit as ek nie hier is nie. Die lekker daarvan is dat hy my darem weer bietjie waardeer het vandag.
Ek het eintlik nog groot nuus wat ek brand om te vertel, maar dit sal maar nog ‘n rukkie moet wag. Ek wil eerrs doodseker maak van my saak, voor ek dit dalk uitblaker en my naam weer met ‘n plank slaan.
Ek is rêrig baie dankbaar dat ek kan hoor, maar ek wens ek het ‘n switchie gehad wat ek kon afskakel. Veral so 4 uur in die oggend as die voëltjies begin sing. Sodra die voëltjies begin sing dink my waterwerke dis nou opstaan tyd. Ek kan nou maar probeer slaap soveel ek wil, maar verniet. Ek moet eers my waterwerke gaan leeg maak en dan kan ek verder slaap.
Die ontwikkellaars van die winkelsentrum waar ek so gestoei het met die toilette Saterdag, het my gebel vandag. Ek moes toe nou weer die hele operasie oorvertel en dit nogal in my beste Engels. Hy’t belowe hulle sal werk maak daarvan. Ons sal nou maar wag en sien. Ek sal nou nie omgee as hulle ‘n shopping vouchertjie of 2 hier na my kant toe wil stuur vir die ongerief niw, maar ek moet seker ook nou nie my luck push nie. Geen wonder Lady Luck kom so min hier by my nie, want as ek haar eers het dan mishandel ek die arme ding erg.
Ek gesels môre weer.
