Ek is nog steeds op elbow power, maar die keer is dit darem uit eie keuse. Ek kon gister al my stoel gekry het, maar ek het gevra dat die sitplek bietjie breër gemaak word. My gewone stoel waarop ek nou ry is bietjie breër as my Ferrari en ek sit heelwat gemakliker. Ek het nooit gedink ‘n paar cm sal so groot verskil maak nie.
Ek was eers half benoud om te vra want ek het gedink dit gaan my weer ‘n fortuin kos, maar toe darem nie. Ek’s mal oor die boetietjie wat aan die stoele werk, hy is regtig nie daarop uit om geld te maak nie, en dan is hy nog so cute ook. Altyd gaaf en vriendelik en bereid om te help. Ongelukkig is sy kollega net mooi die teenoorgestelde. Ek het lanklaas in my lewe so ongeskikte pyn in die gat siel teëgekom. Ek praat net met hom oor die foon dan is ek sommer opslag opgeruk. Dis darem nog net 3 slapies tot Saterdag
dan is ek weer behoorlik mobile.
Ek en Maggie en Virginia het môre-aand ons eie “jaareind-funksie”. Ek het besluit aangesien ek nie werk nie treat ek maar myself en Maggie. Maggie is mal oor die Spur, so ons gaan elke jaar Spur toe. Sy weet van ‘n ander plek nie en Virginia nog minder want die Spur hier naby ons het lekker speelplek vir die kiddies.
Van Vrydag af hoef die kiddies nie meer skool te gaan nie, so Virginia gaan sommer al Vrydag na haar Ouma toe vir die vakansie. Die kinders het darem lekker deesdae. Toe ek op skool was, moes ons tot die laaste minuut skoolgaan. In matriek is ons gestraf omdat ons 1 dag afgevat het.
Ek het gister Virginia so jammer gekry. Sy wil vreeslik graag die see sien, Ek sê toe die see en ‘n rolstoel werk nie lekker saam nie want dis ‘n stryd om in die sand te beweeg. Toe Virginia wakker word gister-oggend sê sy vir Maggie sy wens ek kon loop sodat ons kan see toe gaan. Ai wat antwoord mens nou op so iets….?
Hierdie is my laaste klets vir die week. Gesels weer Maandag.















