Kruppelkriekkie Klets

Entries from December 2008

Bye 4 now

December 16, 2008 · 4 Kommentaar

Ek voer nou al vir omtrent 2 weke ‘n verlore stryd om ‘n klets kansie te kry.  Dit sal ook die laaste keer wees vir 2008. 

 

Ou Murphy het hom weer lekker kom tuismaak hier by my.  My printer het besluit dis was lekker maar dis nou klaar.  Vanoggend het ek ondek hy’s nog onder waarborg, so hopelik sal dit verniet reg gemaak kan word.  As hy weer reg is wil ek dit verkoop en vir my iets kry waar die papier voor inlaai want ek sukkel my oor ‘n mik om die papier in te kry agter.  Toe ek dit gekoop het, het ek spesifiek vir die tjoklitsmurf gevra waar laai die papier in en hy het my verseker dis voor…..

 

Ek is erg vies vir ‘n vriendin van my en nou weet ek nie regtig hoe om die situasie te hanteer nie.  Sy het per ongeluk my kamera laat val.  Ek weet dit was net ‘n ongeluk maar ek moes omtrent my tande stomp kou om nie op haar te gil nie.   Gister toe sien ek eers die plastiek omhulsel is gekraak.  Ek sal die kamera nou maar terug vat waar ek dit gekoop het en vra of dit reggemaak kan word.

 

Pikkie was so gaaf om my te tag met die volgende, nie dat my brein enigsins in staat is om sulke goed te beantwoord nie, want hy’s lankal in vakansie mode, maar hier gaat ons:

 

Noem ses dinge oor jouself wat die ander nie weet nie…  

1.          Ek is dood bang om langs ‘n bus te ry.  Dit voel of die goed my aantrek soos ‘n magneet as ek naby 1 kom.

2.          Voor ek dood gaan wil ek ‘n behoorlike passievolle vrysessie beleef net om uit te vind of dit rerig so WOW is soos dit in die flieks lyk….  (Hoe en wie die (on)gelukkige slagoffer gaan wees kon ek nog nie uitwerk nie, maar soos julle weet het ek ‘n baie aktiewe verbeelding)

3.          Om een of ander rede wat ek nie kan verklaar nie, is ek mal oor Volkswagen Beatle karretjies en Tweety.

4.          Ek hou nie van Desember-maande en die fees seisoen nie omdat die mensdom so ‘n surkus daarvan maak en heeltemal die ware betekenis verloor het en omdat daar so baie mense is wat eensaam en alleen is sonder geskenke.  Ek weet nie of dit net in my familie is nie, maar daar is altyd ‘n gedoente oor wie by wie kuier ens.

5.          Ek haat donderweer met ‘n passie en hou niks van goggas en goete nie.  Ek spot altyd dat ‘n bus my gaan doodry of die weer gaan my doodslaan omdat ek so bang is daarvoor

6.          Ek wil gaan valskermspring of bungeejump, maar ek dink ek gaan vrek van vrees voor ek op die grond is.

Die reëls sê ek moet nou 6 ander mense tag, maar die probleem is ek lees net 3 ander se blogs en dit is Wippie en Pikkie en Ingrid en sover ek weet is hulle al almal getag so ek breek nou maar die reëls vir vandag.

Kyk net die cute Kersvader wat ek by ‘n vriendin gekry het.  Jy druk ‘n koppie en dan bad die ding vir ‘n vale en sing uit volle bors Splish Splash I was taking a bath… en skop met die voete en elke ding

bad4 

bad21

 

Bye 4 now van my kant af.  ‘n Geseënde Kersfees vir almal.  Doen als wat lekker is met oorgawe.  Dankie vir almal wat kom inloer het en ‘n hartafdruk kom los het.  Hoop ek het darem iewers so ietsie vir iemand beteken  want julle inloer het vir my die wêreld beteken al was dit net ‘n woordjie of 2.

 

Kategorië Uncategorized

Ferrarie

December 5, 2008 · 2 Kommentaar

image001111

Ek het besluit om vandag vir julle te wys hoe lyk ‘n kruppelkriekkie vroeg in die oggend…..

 

Ek het onverwagse kuiergaste gekry die week en was sommer vies dat ek nie kon klets nie.  Ek kan tog so opgeklits raak as dinge nie verloop soos ek beplan nie.  Ek sal nou nie sê dis ‘n eienskap waarop ek vreeslik trots is nie, maar nou ja….

 

Ek het darem my Ferrarie weer terug.  Dis ongelooflik watse groot verskil 4cm kan maak.  Vir die afgelope omtrent 2 jaar het ek daagliks pyn gehad en al wat ‘n spierverslapper en anti-inflamatoriese pil op die mark uitprobeer, sonder veel sukses.  Om nie eers te praat van al die verskillende kussing wat ek uitprobeer het nie….

 

Die ergste is dat dit my solank gevat het om agter te kom my Ferrari is nouer as die normale rolstoel.  My ma het al lankal gesê ons moet die sitplek breër maak, maar al wat wil luister is Kriekie…. Kyk as mens dom is is jy dom, daar nie pille nie. 

Die oompies wat aan die stoel gewerk het se wiskunde het hulle net so effe in die steek gelaat want hulle maak hom toe so breed dat ek skaars by die deur kon in en uit.  Gelukkig kon die probleempie gou opgelos word.  Maandag gaan hy net gou weer terug ‘hospitaal’ toe vir ‘n laaste verstelling dan behoort als te wees soos ek dit wil hê.

 

My sussie-hulle het ‘n jaccuzi (spelling) onder hulle lapa laat insit.  Nou gaan oompie vir my ‘n kontrâpsie opsit waarmee hulle my kan in en uit kry.  Ek wou dit nie laat doen nie omdat dit ‘n duur storie is, maar my swaer reken toe hy sal betaal want dis maar net 160 biere minder vir hom.  As als goed gaan sal ek die 24ste die gedoente gaan uittoets.  Ek sal defnitief foto’s neem en die oomblik met die blogwêreld deel.

 

Ek het gister ‘n nuwe game ontdek wat ek wil uitprobeer.  Gesels weer Maandag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kategorië Uncategorized

Voëldinge

December 2, 2008 · Lewer Kommentaar

Ek dink ek het die slimste en stoutste voëltjie-kind in die Suidelike halfrond.  Ek sou nooit in my lewe kon dink voëls kan ook ‘n persoonlikheid hê nie, maar mens moet dit beleef om dit te waardeer.  Ek was altyd onder die indruk voëltjies sit maar net in ‘n hok en dis dit.

 

dscf1163Glo dit of nie, maar my Kuifie het ‘n willetjie van sy eie wat vir niks skrik nie.  Hy is mal oor koffie (wat eintlik baie sleg is vir hulle)  Hy sal koffie myle ver ryk en dan help hy hom ook sommer self en bad omtrent in die koffie.  Hy wil niks weet van tee Milo of enigiets anders as koffie nie.  Die arme dink het nou die dag my vriendin se koffie probeer en toe brand hy want sy drink baie warmer koffie as ek.  Ek het die aeme ding so jammer gekry, maar hy’t so komieklik gelyk ek moes lag.

 

Hy is mal oor pasta, maar dit moet macaroni wees.  Ek het gister vir hom skulpie noodles gegee maar meneertyjie wil niks weet nie.  Hy wil ook niks weet van kokketielkos met sonneblomsaad in nie.  Hy eet net budgie saad.  Hy sal ook nie sommer iets eet wat nie in ‘n bord of ‘n lepel is nie.  Hy is ook nie vreeslik lief vir groente nie en sal eerder vleis eet.

 

dscf1167Elke aand kry die honde elkeen ‘n happie van die oorskiet kos en voël se kind weet as die blou bakkies uitgehaal word gaan daar geëet word en klim sommer pens en pootjies in die bakkie.  Laat jy net durf waag om hom uit te haal sodat die honde kan eet skop hy ‘n lawaai op wat vir niks skrik nie.  As hy nie van iets hou wat ons hom gee om te eet nie gaan staan hy op die rand van die tafe en gooi dit af vir die honde.  Elvis sorg dat hy altyd naby is as voël eet want hy weet daar kom altyd iets na sy kant toe.

 

Hy kan baie bly wees ek’s baie lief vir hom want hy het al my muis se draad gevreet, gelukkig vir hom nog nie stukkend nie, anders het ek ‘n gebraaiede voëltjie gehad.  Ek het vir hom sy eie oorfoon drade gegee, maar myne is baie intressanter.  Nou’t hy ontdek die keybord se knoppies kan uit kom as hy sy bekkeie op ‘n sekere manier tussen hulle inwikkel.  Nou die dag tik ek nog ewe rustig toe sien ek daar trek ‘n knoppie en meneer hol weg asof hy die onskuld van self is.   Ek wil sy bekkie laat rubberise sodat hy nie al my goed so kan verwoes nie

 

Verlede week hoor ons ‘n kokketiel buite fluit.  Toe my ma gaan kyk toe sit daar ‘n White-faced kokketiel in die bure se boom.  Vroeër die middag het Kuifie vreeslik gefluit maar ek het gedink dis vir die duiwe.  Ek was sommer vies vir myself dat ek nie gaan kyk het nie want ek’s seker dit was die White-faced wat by die hok was.  ‘n White-faced is vreeslik duur en skaars.  My ma het hom probeer vang maar hy’t weg gevlieg.  My hart het sommer gepyn vir die arme mensewie se voëltjie dit was want ek weet hoe hartseer ek was toe Kuifie vir 2 dae weg was

 

My pa het ‘n mak Indian Mina (spelling).  Ou Petrus kan te oulik gesels maar verlede week toe lê Petrus 2 eiers.  Toe’s dit al die tyd ‘n wyfie.  Nou moet Petrus maar Petro word.  As Kuifie dalk ‘n sy is, sal die naam darem nie ‘n probleem wees nie, maar ek’s oortuig dis ‘n mannetjie want vrouens is nie so vol dinge en wipg@tterig soos Kuifie nie.

 

Genoeg voël praatjies vir eers. 

Kategorië Uncategorized

Jaareindfunksie

December 1, 2008 · 1 Kommentaar

untitled

Môre is darem my laaste dag van elbow power.  Dit sou R550 kos om die stoel breër te laat maak en ek sou omtrent ‘n week moes wag.  Saam met my ma werk daar vreeslike slim boeties wat aangebied het om dit te doen en dit nogal gratis en verniet ook.  So vandag is my tjorrie saam werk toe vir sy make-over. 

 

Ons ‘jaareindfunksie’ by Spur was lekker.  Ons het omtrent met arme Virginia gemors.  Toe ek haar by die skool gaan haal vertel ek haar ‘n lang storie dat ons nie meer Spur toe gaan nie want daar’s probleme by die huis en hulle moet die aand huis toe om te gaan help.  Sy aanvaar dit maar ewe gedwee, maar ek kon sien sy’s erg teleurgesteld.  Op pad Spur toe was sy baie bekommerd omdat hulle dan nou sonder klere en goed huis toe gaan.  Nog ‘n lang storie verder is sy tevrede.

 

Die Spur is in dieselfde gebou as waar die dokter is waarheen ek Virginia gewoonlik vat.  Ons sê toe sy moet eers gou ‘n inspuiting gaan kry sodat sy nie weer siek word en my kom aansteek nie.  Diie arme kind het gepleaze-explain vir ‘n vale want sy is verskriklik bang vir ‘n inspuiting.  Sy belowe ons als onder die son ons moet haar seblief net nie dokter toe vat nie.  Ek was so dik van die lag en ek het al my dae gehad om my ‘pose’ te hou.

 

Toe ons uiteindelik by die Spur kom was die arme kind so gerattle sy’t omtrent vir ‘n halfuur tjoepstil gesit en wou nie gaan speel nie.  Toe ons huis toe ry vertel sy so ewe vir Maggie ons moet asb. nie weer met haar sulke grappies maak nie want sy vertrou ons met haar hele lewe… 

 

Maar ek het my deel van die blinde sambok gekry.  Ons het in die rook afdeling gesit sodat ons nader aan die speelplek is.  So eindjie agter ons was daar ‘n baie luidrugtige tafel wat al heeltemal te veel grapsap ingehad het.  Hulle het kort-kort balonne laat bars en dan skrik ek my uit my geloof.  Net toe ek my glas koeldrank optel bars hulle weer ‘n ballon en ek gooi al my koeldrank oor die tafel uit.  Ek was so vies dis net nie waar nie want ek was so dors en toe kry ek nie eers ‘n druppel van my koeldrank nie.

Toe ek weer koeldrank bestel, het ek dit maar eerder in die blikkie gelos en met ‘n strooitjie gedrink.

 

Op pad huis toe vra my ma vir Virginia wat sy geëet het vir poeding.  Na sy so rukkie gedink het sê sy sy’t ‘n pannekoek met ‘n kappie op geëet.  Kyk toe kon ek nie meer my lag hou nie want die pannekoek met die kappie is toe nou eintlik ‘n wafel met roomys.  Dit was nogal ‘n goeie beskrywing want die roomys het nogal soos ‘n clown se hoed gelyk.

 

O griet, ek beter groet, ek sien ek’s alweer besig met ‘n kortverhaal.

Kategorië Uncategorized