
Nee dis gelukkig nie ek wat gaan vir die operasie nie, maar my stiefpa. Hy word vanmiddag geopereer. Dis blykbaar ‘n baie seer operasie so ek’s baie bly ek’s nie hy nie. Vandag gaan hy vir die 1 knie en sodra die knie reg is, sal hy vir die ander 1 gaan. Omtrent almal in sy familie het knie probleme. Iewers langs die pad het iemand die resep vir knieë mis gelees of iets.
Die Oompie gaan nie narkose kry nie, net epiduraal. Ek weet darem nie of ek sal wil wakker wees terwyl hulle aan my gebeentes saag en doen nie. Ek weet mens voel niks, maar nog steeds. Maar dit sal dalk beter wees met die Oompie saam want met van sy vorige operasies het hy onder narkose wakker geword.
Vroeër jare het mens narkose gekry vir enige vorm van operasie, maar lyk my deesdae is epiduraal die in ding. My vriendin se pa het so ruk terug ‘n voet operasie gehad met epiduraal en in die teater langs hom was hulle besig om iemand se bene te amputeer , ook met epiduraal en dit het die oom verskriklik ontstel toe hy sien hoe stoot hulle die bene daar uit en die ou wie se bene dit was het blykbaar vreeslik geskree. Ek hoop nie ek beleef ooit so iets nie want ek sal totally uitfreak.
Ek voel so jammer vir die tannie wat skuins oorkant ons bly. Haar man is ‘n diabeet en is so 2 weke terug hospitaal toe om sy groottoon te amputeer want hy het cangereen in die toon gehad. Hy het narkose gekry en toe het iets onder narkose skeef geloop met sy hart. Hy is toe dadelik ICU toe maar is so 3 dae later oorlede. Ek kry sy arme seun net so jammer want hy’s ‘n dokter en was in die teater toe dit gebeur het. Dit moet erg wees om te jou pa so te sien en daar’s niks wat jy kan doen om hom te help nie.
Kyk, dis nou maar eenmaal ‘n feit waarby mens nie kan verby kom nie. As jou strepie getrek is, maak dit nie saak hoe goed die mediese wetenskap is nie. Jou tyd is jou tyd…
Nee wag, dis nou eers gbenoeg van hospitale en dinge. Ek kry hopelik vandag my ferrari terug. Dit voel al soos ‘n ewigheid dat ek noual op elbow power is. My agterstewe protesteer nou al erg want die elbow model sit nie naastenby so lekker soos die ferrari nie. Alhoewel ek besluit het ek gaan nog steeds ten minste ‘n uur elke dag met die ander stoel my arms oefen. My agterstewe kan maar protesteer tot hulle lekker kry.
Ek het vir my ‘n Virtual Pet op facebook aangeneem. Ek sal probeer om op ‘n manier ‘n foto te neem. Dis ‘n bobbejaantjie en sy naam is Stevie. Ten minste het hy nie sulke ergere hormoon probleme soos sy naamgenoot nie, maar ek moet sê hy kan nogal veeleisend wees. Hy het ‘n baie ywerige eetlus en eet my omtrent bankrot. Die lekkerste van als is dat hy nie geluide kan maak nie en as ek nie lus is vir hom nie druk ek ‘n knoppie en hy’s weg. Aangesien ek nog nie aan hom aandag gegee het vandag nie, beter ek seker groet en my moederlike pligte gaan doen.



Nee, ek het nie besluit om my luigeid te laat staan en begin loop nie. Ek het tennis op Wii ontdek. Nou speel ek tennis dat die sweet spat (letterlik). Ek het in my lewe nie gedink ‘n speletjie sal my so uitput nie, maar vir iemand so onaktief soos ek is enigiets moontlik. Die beste is, ek geniet my gate uit en ek kry bietjie oefening. Net jammer dis nie myne nie, ek leen dit net tot Saterdag. As ek weer die winkels invaar wil ek gaan kyk of daar soortgelyke speletjies soos tennis is wat ek kan speel want die gedoente is bietjie duur om te koop net vir 1 speletjie wat ek kan speel.

