Kruppelkriekkie Klets

Entries from February 2009

“Operasie voël flop”

February 25, 2009 · 2 Kommentaar

att18748511

Na al my moeite, verdriet en stres met “operasie voël vir vriendin, kom voël van vandag af by my bly want vriendin en voël kom nie reg met mekaar nie. Voël wil blykbaar net in die hok bly en byt erg as vriendin hom wil uithaal. Vriendin wil voël cuddle en hê hy moet by haar sit maar voël wil niks weet nie….

Nou ja, voël is Bubbles gedoop en Bubbles dood gelukkig op my skouer. Kuifie is nie baie gelukkig nie, maar ek is dood seker die 2 sal mekaar gewoond raak. Ek dink Vriendin het Bubbles onwetend seer gemaak, dis dei dat hy niks van haar wil weet nie. Ek dink sy’t die arme ding heeltemal uitgestres want 2 dae na ek hom vir haar gegee het, is voël veearts toe net om te gaan seker maak hy’s gesond. Die veearts wou toe nie sy naels sny nie omdatt hy nog te jonk is. By die huis gaan fyl vriendin sy naels… ek’s oortuig dis die rede waarom hy haar wil byt. Ek’s nie snaaks nie, maar as ek sulke behandeling moet kry pas na ek van my ma af weggevat is sal ek ook byt.

Ek was erg omgeklits oor die hele gedoente want ek het vreeslik baie moeite gedoen om ‘n voëltjie te kry wat aan al vriendin se vereistes voldoen…. Om nie eers te praat van die moewiese familyfight wat ‘operasie-voël’ veroorsaak het nie en op die ou end was als verniet. Aan die ander kant is dit ‘n goeie ding dat dit gebeur het want dit was die cherrie op die koek vir my persoonlik. Daar is nie ‘n manier dat ek weer gaan toelaat dat my vriendinne my manupileer omaan al hulle giere en grille te voeldoen nie, van nou af gaan hulle ‘n ander kant van my sien want ek het myself nou lankgenoeg benadeel vir ander. En 9 uit die 10 keer word dit nie eers waardeer nie en ek stres myself 10 jaar ouer om ander te please.

Vriendin gaan nou vandag vir haar ‘n nuwe voëltjie uitkies by die petshop. Daar is ‘n pappagaai vir R500 wat sy wil hê. Ek’s nie snaaks nie, maar as sy R500 vir ‘n voëltjie kan betaal, moet sy nie weer by my kla oor finansies nie…. Ek het R180 vir Bubbles betaal wat al klaar vir my baie was. ‘n Vriend het my darem help betaal sodat ek dit vir haar as geskenk kan gee omdat ek weet sy kan dit nie regtig bekostig nie. Maar van nou af gaan sy ook nie weer ‘n ding uit my kry nie. Sy kan maar vra tot sy pers is, ek gaan my doof hou. Sy wil al ewig foto’s en dinge gedruk hê, en ek het dit maar gedoen omdat ek haar jammer kry… niemand kry my jammer as ek ink moet koop nie, so dit was lekker maar dis nou KLAARRRR….

Ek het nou genoeg gekla en kerm…. Jammer as ek julle verveel het… Sal een of ander tyd ‘n foto stuur van die nuwe toevoeging tot die familie. Ek het eers daaraan gedink om hom weg te gee, maar hy’t klaar pens en pootjies nes geskrop in my hart.

Kategorië Uncategorized

Verlore ure en dae

February 23, 2009 · 3 Kommentaar

Ek spot altyd dat ek ure in plaas van gewig verloor. Deesdae voel dit vir my ek verloor sommer hele dae, nevermind ure…. Ek werk nie eers en het nie ‘n man en kinders om ook van my tyd op te eis nie en ek kry net mooi niks geoen wat ek beplan nie. Dis nogal scary, maar nou dis seker maar deel van die lewe waaraan mens niks kan doen nie.

Ek praat laasweek met ‘n vriendin, ook ‘n kruppelkriekkie, en sy vertel my toe haar sussie sou trou het hulle vriendin met tassen en al uit die huis gejaag toe die skoonfamilie voorgestel moet word. Sy moes weg want hulle is skaam vir haar. Vriende van haar het haar gaan haal en sy was tot vandag toe nog nie weer in die huis nie. Met sulkr familie het mens beslis nie vyande nodig nie.Ek is net bly ek’s nie daai mense wat eendag moet rekenskap geen nie… nie dat ek dink ek gaan self niks hê om oor rekenskap te moet gee nie, maar dis vir my erg wat hulle gedoen het.

Ek was nog altyd dankbaar, maar nou meer as ooit, dat ek nog altyd net hope liefde en aanvaarding van my familie gekry het. Of laat ek sê as dalk vir hulle iets was om oor skaam te kry, het hulle dit nog nooit vir my gesê nie. Hulle spot wel lekker met my (op ‘n mooi manier) en dit laat my net nog meer deel voel van hulle. My swaer sal bv. as daar mense kuier wat my vir die eerste keer ontmoet, vir hulle vertel ek’s vreeslik ongeskis want ek staan nie eers op as die dominee kom huisbesoek doen nie.

Selfs vir die stiefboeties en sussies was hulle ‘nuwe’ kruppelkriek sus nie ‘n probleem nie. Die een boetie wat nou in Kanada bly het vir al sy werkskollegas van sy sus vertel en ek was elke dag die onderwerp van bespreking by die werk. My toilet gewoontes het hulle ‘n ruk lank besig gehou, want om een of ander rede wou almal weet hoe maak ek om te piepie. Dit was vir my skreeusnaaks toe boet my eendag daaroor vra. Van alles waaroor hulle kan wonder, moet hulle nou juis daaroor gepla wees Ek het nie 1 van die mense ooit met ‘n oog gesien nie maar almal het my geken.

Die arme boetie is maar effe in die diepkant ingegooi, want hy het met die spoed van lig geleer van rolstoelle en als wat met ‘n kruppelkriekkie saam gaan en ek het dit baie waardeer dat hy bereid was om dit te doen.

Ek moet groet. Ek het ‘n posboks van oor die 250 wat ek moet deurworstel. Dis nou wat gebeur as mens dae verloor…..En dan nie eers iets het om daarvoor te wys nie.
Môre gaan ek weer spoeg en plak dat die rook trek. As als volgens plan verloop laat ek weer Woensdag van my hoor. Lekker daggie.

Kategorië Uncategorized

Die duiwel se dinge…

February 18, 2009 · Lewer Kommentaar

Die duiwel het darem lekker meubels rondgeskuif in die hemelruim gister-aand. Om die waarheid te sê dit het eerder vir my geklink of hy sy huis afbreek, nevermind meubels rondskuif. Nee kyk, ek is nou maar eenmaal nie gebou vir swaar weer nie. Ek kry ons 1 hondjie so jammer die arme dingetjie is skoon vreesbevange vir die weer. Die arme hond hou om een of ander rede nie eintlik van my nie, maar gister-aand het sy sommer by my in die bed kom klim. Dit was vir my ‘n geskiedkundige oomblik want dis die eerste keer van ons haar het dat sy by my gelê het. Elvis was natuurlik als behalwe ingenome met hierdie vreemdeling in sy bed. Hy was so vies dat hy toe sommer pad vat en by my ma gaan inkruip.

Virginia gaan aan die skool se revue deelneem. Sy karring nou al die afgelope 3 jaar aan my om deel te neem. Omdat dit ‘n duur storie is het ek nog elke haar nee gesê want daar is geen manier wat ek of haar ma dit kan bekostig nie. So maand terug kry ons ‘n briefie dat daar hierdie jaar ‘n massa revue gaan wees wat baie goedkoper is. Ek knyp oë toe en stuur die geld, maar ek dink nie daaraan om ‘n briefie saam te stuur om te sê vir watter revue dit is nie.

Toe ek die middag die kind gaan haal is sy so opgewonde jy kan met haar toor want sy gaan aan die revue deelneem en op dvd wees. Soos Murphy dit wil hê het sy by die verkeerde revue oefening beland…. Ek kon dit nie oor my hart kry om vir haar te sê sy kan nie deelneem nie en het toe maar my trots in my sak gesteek en gaan vra of ons dit maandeliks kan afbetaal. Dankie tog, hulle het dit goedgekeur. Nou’s Virginia omtrent uit haar vel van opgewondenheid.

Ai ek wens ons kon sonder geld deur die lewe gaan. Volgens my is geld die grootste euwel op aarde want daar’s alewig issues oor geld, of eerder die tekort daarvan, in my lewe. Ek kan my nie indink hoe dit moet voel om nie aan die einde van die maand all ends te laat meet sonder om te wonder waar die geld gaan vandaan kom nie.

Weereens weet ek daar is baie mense wat baie slegter daar-aan toe is as ek, maar nogtans kan ek nie help om my daaroor te stres nie. Dit sê ook nie juis veel van my geloof nie né… Daar staan tog oral geskryf dat daar Voorsien sal word. Ek dink die duiwel het nou al ‘n ere plek op my skouer want hy sit heeldag daar en probeer my anders oortuig.

Ek wens ek kan daai ou ontdek by wie ek die ‘wonderlike’ gawe ge-erf het om alewig in oortreffende trap te stres. Hy kan met die grootste liefde sy gawes aan iemand anders gaan uitdeel want dit veroorsaak net probleme vir my…

As ek die storie buite so kyk, is die duiwel nog nie klaar met sy mebels nie, so ek gaan hierdie klets nou liewer kort knip, voor my modem in die slag bly.

Kategorië Uncategorized

Operasie voël

February 16, 2009 · 2 Kommentaar

Nee, ek het nie in water verander en verdamp nie. Ek is nie bygelowig of iets nie, maar verlede week was sommer heel week lank Vrydag die 13de vir my. Dit was net eenvoudig mie my week nie. Ek was sommer heel onder in die kry myself jammer put. Ek wou net weghol en in ‘n gat gaan klim waar niemand my kan kry nie. As ek net kan leer om my minder oor my vriendinne se probleme te worry sal ek die happieste chappy op aarde wees. Ek het 3 vriendinne wat meesters is op die gebied van emosionele afpersing en Kiepie val elke keer hook, line en sincker vir hulle…. Onnosel nê.

Elke keer belowe ek myself ek gaan nie weer toelaat dat hulle dinge my onstel nie, maar as ek weer sien is ek so gestres en raak my bedrading so gekoek dat ek heeltemal uithak en dan bly onskuldige mense in die slag. Om van myself nie eers te praat nie, ek sal sommer maklik iets gaan aanvang want ek hak so uit dat ek dit heeltemal verloor.

My ma sê ek gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg uit, maar my vriendin vat die beker. Ek bel haar Maandag om te vertel van die nuutste Steve drama. Die 1ste ding wat sy sê is: “Julle vat my net saam begrafnis toe!!” Die arme man is nog spring lewendig dan hou sy al begrafnis…. Ek kon maar net lag,

Ek het familie wat ook so is. Mens is nog nie eers behoorlik siek nie, dan word die begrafnis-klere al uitgepak. Dit skep nogal probleme want mens weet nooit hoe ernstig ‘n situasie regtig is nie.

Vrydag-aand is een van ons honde kinders hemel toe. Sy het vermoedelik ‘n massiewe hart-aanval gekry en het verskriklik swaar gekry. Toe die aanval verby is vat my ma haar vee-arts toe om te laat uitsit sodat sy nie verder moet ly nie. Omdat dit na ure was is ons toe nou ‘n hele R400 armer. Volgens my is dit daylight robbery, maar nou ja.

Intussen sing Steve lustig voort op Noot-vir-Noot, maar ek het maar ‘n waterige beeld daarvan gehad met al die trane saam. Ek’s eintlik baie bly Steve was op N-v-N want toe mis ek gelukkig die hond se leiding. Ek sou dit beslis nie gemaak het as ek dit moes aanskou nie. Daarvoor was ek heeltemal te broos op daai stadium.

Ek het so maand of wat terug geskryf oor my vriendin wie se voëltjie wat dood is.
Sy het vir Kuifie haar hok en als gegee want sy’t hoog en laag gesweer sy gaan nooit weer ‘n voëltjie kry nie. Ek het gesê as sy van plan verander kan sy enige tyd haar goodies terug kry, maar sy wou niks weet nie. Dit was nie 100 jaar later nie toe besluit sy sy sal weer ‘n voëltjie kry, maar sy’s nog nie reg vir ‘n nuwe voël nie maar sy sal my laat weet. Sy bel weer om te sê sy soek nie ‘n voël wat van ‘n Petshop af kom nie, sy wil 1 hê soos Kuifie wat direk uit die nes kom en dit moet ‘n wit Kokketiel of blou Lovebird wees en die gedoentetjie moet klein genoeg wees sodat sy dit met die hand kan groot maak. Ek begin die soektog… nêrens kry ek ‘n voël wat aan al die vereistes voldoen nie. So dag of wat later bel vriendin weer om te hoor hoe vorder operasie voël. Toe maak dit nou ewe3 skielik nie meer saak as voël van die Petshop af kom nie. Ek bel die foon aan die brand om ‘n voël te kry. Uiteindelik kry ek toe ‘n wit kokketiel in Pretoria-Noord. R215 later is operasie voël suksesvol afgehandel en ek amper van my trollie af met al die instruksies en vereistes.
Ek en ‘n ander vriend het darem halfies-halfies gegaan met die betaling so my bankbalans kon dit darem bybring.

Ek hou als vir ‘n verassing vir vriendin en gaan lewer Saterdag-middag vir voël af. Ek het in my lewe nog nooit so ‘n reaksie by iemand gesien soos toe sy die voëltjie sien nie. Ons het gedink sy kry een of ander aanval en ek moet sê as sy so huil van bludskap weet ek nie hoe dit gaan lyk as sy hartseer is nie….op die ou end huil ons toe almal so lekker saam dit lyk soos ‘n begrafnis.

Voël word op die daad gedoop en nou bly Bubbles Valentine ewe lekker by sy nuwe mens-mamma. Ek verstom my net aan hoe vinnig die dingetjie mak geword het. Hy was nog erg wild toe ons hom gaan haal het en ek was erg bekommerd dat vriendin hom nie sal mak kry nie. Ek hou hom toe die heeltyd teen my vas sodat hy kan gewoond raak. So 2 ure later het hy tog te lekker op my skouer rondgery sonder ‘n probleem. Kuifie was natuurlik glad nie ingenome met sy geveerde vriend wat sy plek op sy ma se skouer inneem nie. Later toe sit ek maar vir Kuif op die ander skouer en daar gaan ons. Dit het seker nogal komieklik gelyk en ek is baie spyt ek het nie ‘n foto geneem nie. Dit was ook nie lank nie toe’s Bubbles heel tevrede by sy nuwe mamma.

Nog ‘n ding wat my erg omgekrap het verlede week is dat ek ‘n baie goeie werks-aanbod kon kry, maar omdat vervoer vir my ‘n probleem is kon ek dit nie vat nie. Die internet is vrot van vervoer vir gestremdes – almal oorsee. Die plek wat ek wel in Suid-Afrika kon kry vir my R500 perdag vra om my van my huis in Villieria na Silverlakes te vervoer. Dit is nogal ‘n afslagtarief omdat ek dit elke dag wil gebruik. Andersins sou dit R640 gewees het. Dit maak my erg bitter as ek sien hoeveel beter daar vir gestremdes oorssee voorsiening gemaak word.

Ek weet ekhet baie om voor dankbaar te wees in vergelyking met ander, maar so af en toe kry die Kruppelkriekkie-skap my onder.

Ek het dit alweer erg oordoen vandag. My vingertjies is skoon lam getik. Sorry as dit bietjie lank was, maar hopelik het dit bietjie opgemaak vir laas week se stilte.

Kategorië Uncategorized

‘n BAIE lange

February 9, 2009 · 1 Kommentaar

Ek hoop nie ek hoef baiegou weer ‘n week soos verlede week te beleef nie. Al probeer ek hou hard ek kan nou maar eenmaal nie stres hanteer nie. My bedrading raak heeltemal gekoek en dit het gewoonlik redelik noodlottige gevolge.

Dinsdag was die pits…. Ek staan spesiaal vroeg op sodat ek 9 uur by die scrapbooking klas kan wees….. Half 11 toe kom ek uiteindelik daar uit. Ek het net my sit gekry en my goed uitgepak, bel ‘n vriendin. Sy moet soos in baie dringend by die winkelsentrum uitkom kan Oompie haar vat. Nou ja, oompie is buiteaksie. Soos sy aangaan klink dit vir my soos ‘n saak van lewe en dood en ek bied aan om haar te gaan haal by haar huis dan hou sy met haar rolstoel aan my stoel vas en dan trek ek haar tot by die winkel. Ek los die scrapbooking en gaan haal haar. Ek staan omtrent ‘n half uur in die son en wag vir haar om klaar te polish en paint. Toe begin ek sommer klaar opcharge. Uiteindelik pak ons die tog aan winkel toe. Als het goed gegaan tot ek my so effe misgus het met ‘n stormwatersloot langs die pad. Ek dink ons het baie komieklik gelyk want daar hang ek soos ‘n vink aan ‘n tak aan vriendin se stoel sodat sy nie omval nie. Glo dit of nie, maar meeste mense ry net verby sonder om hulp aan te bied. Na wat vir my soos ‘n ewigheid voel het iemand kom help en kon ons verder gaan. Sonder verdere probleme kom ons by die sentrum aan. Vriendin wil Clicks toe, wat nou so belangrik is by Clicks weet ek nou nog nie, maar na omtrent 2 ure is ons bank toe en as ek nie vir haar gesê het die bank maak toe nie was ons seker nog langer in Clicks.

Teen daai tyd moes ek omtrent al my tanne deurbyt van frustrasie want ek is haastig en ek kan sien vriendin het baie pyn en word moeg. Sy het net die vorige week uit intensief uit gekom maar dit kan nou nie hoër of laer nie sy moet winkels toe. Ons gaan drink milkshake by die Wimpy. Die kelnerin verstaan verkeerd en vat haar bestelling verkeerd. Die bestuurder kom sorteer die saak uit en sy kry die regte milkshake. Die rekening kom, ek wil betaal, maar vriendin wil weer die bestuurder sien want volgens haar sê die wet as daar ‘n probleem was met die bestelling moet jy dit gratis kry…. Kyk dis nou die grootste strooi storie wat ek in ‘n lang tyd gehoor het…. Ek wens die aarde kan my insluk van skaamte. Na ‘n lang bekgeveg betaal ek die rekening en is daar weg. Pick ‘n Pay hier kom ons. Die bestuurder van Pick ‘n Pay is baie nice en het ‘n vorige keer aangebied dat 1 van die sekeruteitswagte vriendin huis toe stoot en daar gaan vra sy hom sowaar weer.
Sy kry haar sin en ek kan terug gaan na die scrapwinkel. Ek het net weer behoorlik my sit gekry toe bel sy weer want ek het vergeet ek het haar huis sleutel in my sak. Weer moet ek als los en die sleutel vat.

Toe ek uiteindelik by die huis aanland is arme Maggie in ‘n toestand want haar ma is baie siek en sy moet dringend huis toe. Gelukkig het sy ‘n vriendin wie se kleinkind in dieselfde skool is as Virginia, by wie Virginia kon gaan bly sodat sy Woensdag by die skool kan kom.

Ek’s regtig nie ‘n rasis nie, maar ek is baie dankbaar ek sukkel nie soos arme Maggie hulle nie. Sy het tot na 12 die nag gesukkel om iemand met ‘n kar te kry om haar ma by die hospitaal te kry en sy moes hulle R200 betaal waar dit met die taxi nie eers R10 sou kos nie. Ek vermoed Maggie se Ma het ‘n ligte beroerte gehad want haar bloeddruk was baie hoog. Sy was so maand terug by die kliniek en hulle het gesê sy moet haar bloeddrukpille los want sy’s nou gesond. ‘n Week later is sy terug kliniek toe omdat sy net sieker word. Toe vertel die onnosel susters vir haar sy moet ‘n bloedoortapping kry….Kan jy dit oorvertel. Waar hulle hulle kwalifikasies gekoop het weet ek nie, maar hulle moet maar hulle geld gaan terug vra.

Intussen stres ek my oor ‘n mik hier by die huis dat Maggie se ma dit nie gaan maak nie en daar’s geen manier dat ek en oompie alleen by die huis kan bly nie want die een is meer hulpeloos as die ander en my ma kan ook nie verlof kry nie. Gelukkig het als toe goed afgeloop en kon Maggie die volgende oggend terug kom.

Dinsdag-aand kom kuier my sus-hulle en haar seun sien nie die hekkies wat op die gras gespan is in die donker nie en val homself simpel oor die hekkie. Sy pa lag vir hom, maar glo dit of nie, so omtrent 10 minute later val swaer oor dieselfde hekkie. Ongelukkig vir Swaer is hy baie swaarder en het hy baie harder met moederaarde kennis gemaak. Daar was darem geen beenbreke of snye wat moet steke kry nie, maar die 2 was behoorlik gewond. Ek kon nie anders nie, ek moes lag want dis nou die beste voorbeeld van die blinde sambok wat ek nog beleef het.

Later die aand wil ek my porselyn pop van die bed afhaal en daar stamp die voete teen mekaar en is pop se voet morsaf. Ai daai blinde sambok, mens moenie met hom spot nie…

Almal van ons was maar redelik vaal Woensdag want met al die cemotions het almal eers na 12 in die bed gekom. En dit was nie eers Vrydag die 13de nie….

Ek het nou opgemaak vir die blogstilte van verlede week. Belowe ek sal nie weer so baie kêkkel nie.

Kategorië Uncategorized

Besige week

February 2, 2009 · 2 Kommentaar

image

Ek het ‘n baie besige week wat voorlê. Ek twyfel of ek voor Vrydag weer ‘n woord gaan inkry. Ek het eintlik ‘n vriendin belowe ek sal vandag by haar kom kuier, maar ek moet darem ten minste een klets vir die week inkry anders gaan ek ontrekkings simptome kry.
Dis seker baie lelik van my maar ek hoop dit reën dat ek nie kan gaan nie. Sy praat vreeslik baie en vertel jou als oor en oor. As ek daar weg gaan het ek skoon kopseer. Ek verstaan sy soek geselskap want sy’s heeldag alleen by die huis, maar sy gee wragties nuwe betekenis aan jou ore van jou kop af praat.

Die knievervanging het goed afgeloop. Hy het al gister sy eerste stappie gehad. Hy behoort môre huis toe te kom, so ek geniet my laaste dag van stilte. Hy kan net mooi niks doen sonder om ‘n lawaai te maak nie. Selfs as hy koffie maak klink dit of daar oorlog is in die kombuis. En dis nie eers met opset nie, hy is maar net oor die algemeen lawaaierig.

Shame saam met hom in ICU was daar ‘n ou Tannie van 91 wat haar heup gebreek het. Sy het vir haar skoonseun in die hospitaal kom kuier wat ook ‘n knievervanging gehad het en toe gly sy in die toilet en breek haar heup. Sy kon nie ‘n heup vervanging kry nie want sy’s te oud so hulle het toe net ‘n pen ingesit, maar sy sal waarskynlik nooit weer kan loop nie. Ongelukke kan so vinnig gebeur dis net nie waar nie.

Ek het self gedink my knie is in sy glory in die naweek. Ek wou van die toilet af op my tjor klim en toe gly ek, maar gelukkig kon my ma my betyds keer voor ek ‘n plaas koop. Toe is ek nou behoorlik kruppel want toe’s my linker knie seer en my regter boud en heup is in spasma. My arme linker knie is alewig in die slag as iets gebeur. Hoe ek dit regkry weet ek nie. Ek het sulke Christelike salf wat letterlik en figuurlik die hel uit jou uitbrand wat duidelik die ding gedoen het vir die knie want hy’s sommer baie beter vandag. Ek dink die salf brand so erg dat my knie besluit het hy sal maar eerder beter word want daai goed brand te erg.

Ek het toe darem Vrydag my Kalahari Ferrari gekry. Ek’s eintlik bietjie vies vir die ou wat aan hom gewerk het want hy het gesê ons kan die stoel Donderdag kry en toe my ma daar kom is die stoel nog nie klaar nie. Toe moet sy Vrydag weer ry om die stoel te gaan haal en dis nogal ‘n hele endjie van ons huis af. Gelukkig het hy niks gevra vir die regmaak nie want ek het ‘n 5 jaar waarborg. Hopelik hou die stoel nou ‘n rukkie want ek het nie eers 5 maande gery vandat daar laas aan die stoel gewerk is wat nog te sê van 5 jaar.

Ag nou ja, ek moet seker nou my vriendskaplike plig gaan doen. Lekker week.

Kategorië Uncategorized