Kruppelkriekkie Klets

Entries from Maart 2009

Huis verander in hospitaal

Maart 30, 2009 · 2 Kommentaar

Ek’s so boos vir myself ek sal sommer slamge vang en hulle kaalhand afslag. Verlede jaar het ek saam met my kamera ‘n voucher gekry waarmee ek vir ‘n jaar lank elke maand tien foto’s kan ontwikkel. Vanoggend bestorm ek die winkels om vir my swaer ‘n verjaardag-geskenk te gaan koop en laat toe sommer my foto’s ook ontwikkel. Toe ek uiteindelik finaal besluit het wat om vir swaer te koop, is die plek waar ek dit wil koop toe vir ete. Toe moes ek ‘n hele uur daar rondhang. Ek wou myself skop want ek was vroeër daar, maar toe dink Kiepie mos sy sal nog eers bietjie rondshop…

By die fotoplek keer ek my hele sak om en al wat ek kry is my voucher. Die mense is vreeslik gaaf en sê ek kan kom betaal as ek weer kom. Ek betaal toe maar eerder kontant vir die foto’s want ek haat dit om mense te skuld. Ek was vas oortuig ek het die voucher by die huis vergeet, maar hier is geen teken daarvan nie en ek weet vir ‘n feit ek het dit vanoggend in my hand gehad. So ek moes dit op een of ander manier verloor het. Hopelik het iemand wat dit kan gebruik dit opgetel want hy score nou omtrent 30 foto’s as dit nie dalk meer is nie. Net miskien is dit ‘n goeie siel wat die voucher gaan ingee by die foto plek, maar dis seker wishfull thinking.

Verlede week het ons huis amper in ‘n hospitaal verander. My ma sukkel nou al vir ‘n hele ruk met, wat sy gedink het, middeloorontsteking is. Dit het al 2 keer by die werk gebeur dat sy vreeslik dronk en naar geword het en iemand haar moes huis toe bring. Volgens die werk se dokter het sy ‘n allergie. Verlede Sondag het sy weer vreeslik sleg gevoel en dit nadat sy al ‘n hele reeks medisyne van die huisdokter opgebruik het. Gelukkig was my sussie-hulle hier want Oompie kan nog nie bestuur na die knievervanging nie, en hulle het haar toe ongevalle toe gevat. Daar kry sy toe weer ander medisyne en word na ‘n oor-spesialis verwys.

Nou ja, ‘n hele paar honderd rand later en baie medisyne het sy menierese siekte. In meer verstaanbare taal is dit balansversteuring. Die simptome is baie dieselfde as ‘n epileptiese aanval. Dit kan glad nie genees word nie, maar met die regte medisyne kan dit goed beheer word en vandat sy die regte medisyne het gaan dit darem al heelwat beter. Die spesialis vertel van ‘n vriend van hom wat die ding so erg het dat hy glad nie meer kan bestuur nie, maar hy kan wel met ‘n motorfiets ry want die beweging is anders as ‘n kar. My ooraktiewe verbeelding het klaar ‘n plan uitgewerk. Ons kry ‘n motorfiets met ‘n sidecar vir my aan die een kant en ‘n sidecar vir Oompie aan die ander kant en ‘n Ventertjie vir my stoel. My ma kan die bestuurder wees en dan kry ons vir haar ‘n pink leer outfit. Ons sal defnitief die centre attraction van die Pretoria wees.

Ek dreig eintlik al baie lank om vir Maggie te laat gaan vir haar lesensie, nou sal ek maar net moet doen en nie net dreig nie. Net jammer die nodige fondse ontbreek alweer, maar ek glo ons sal wel iets kan uitwerk.

Ek was omtrent permanent op straat verlede week om almal se dinge te gaan doen, want tussen die 3 van ons was ek omtrent die beweeglikste van almal en soos die duiwel dit wou hê kon dit nie wag tot hierdie week nie.

En om dinge nog meer prettig te maak kry ek toe nou nog gietergatsiekte (‘n maag gogga) ook. Glo my, kruppelgeit en gietergatsiekte is nie ‘n baie vars kombinasie nie want die toilet is elke keer net te ver…

Haai en daar ken ek toe sowaar die Joost doedie. Sy is van my Hometown en het so te sê voor my groot geword. Ai shame die lewe het die arme ding ook al ‘n paar rowwe klappe gegee. Nie dat dit dit wat sy gedoen het enigsins regverdig nie, maar ek voel nogtans half jammer vir haar. Met sulke huislike omstandighede en ouers soos wat sy gehad het kan mens seker ook nie veel beter verwag nie. Haar ouer broer het breinskade opgedoen in ‘n motor ongeluk en het het vir fisio en arbeidsterapie gekom by my skool. Vandat ek haar die eerste keer gesien het toe sy nog’n klein dogtertjie was, kon ek sien sy gaan die pad iewers mis. Hopelik is dit waar dat sy nou ‘n skoon blaadjie omgeslaan het.
Ek kan eintlik ‘n koerant op my eie skryf oor haar maar ek hou dit eerder vir myself voor ek dalk ook in die koerante beland vir laster of so iets.

Dit gaan net nog steeds my verstand te bowe hoe hierdie celebs van ons kan dink hulle kan so aanjaag en dan dink dit sal nooit uitkom nie. Hoekom hulle dit ook eers ontken en dan kom die waarheid tog op die ou end uit verstaan ek ook nie. Ek dink Steve is half dankbaar vir die Joost-storie. Nou kry hy bietjie ruskans…. Ek dink Joost se storie was half ‘n groter skok vir die nasie want a-lmal het gedink hy’s ‘n soet seuntjie. Steve het al so baie aangejaag dat dit nie eintlik meer so ‘n skok is as sy volgende streke bekend word nie.

Dis seker nou genoeg van my vir een dag. Hopelik kry ek weer ‘n kletskansie voor die week verby is.

Kategorië Uncategorized

Ietsie om oor na te dink

Maart 26, 2009 · 2 Kommentaar

Maandag klets ek weer ‘n hond uit ‘n bos, maar hier is solank ietsie om oor na te dink…

eagle

Kategorië Uncategorized

Is dit nie mooi nie…?

Maart 19, 2009 · 5 Kommentaar

image0111image00210image00931image00661image00752

Jammer as dit bietjie lank gevat het om af te laai, maar dit is eenvoudig te moou om nie te deel nie.

Kyk net daai ou ogies… Ek wil ook ene hê….
Dink net, Bambi kan dan sommer die gras kort hou en die beddings bemes.

Kategorië Uncategorized

Retail theropy

Maart 16, 2009 · 2 Kommentaar

Ek het vanoggend met die Moeder van alle hoofpyne wakker geword. Gelukkig het Maggie tot my redding gekom met haar Grandpa- poeier. Kyk sy glo aan Grandpa soos ek in Liewe Jesus glo. Ek moet sê, my hoofpyn was regtig binne 5 minute weg, maar die goed gee wragtig nuwe betekenis aan sleg. Ek dog ek dooi op die plek toe ek die goed sluk.

Ek het Vrydag bietjie retail theropy gaan kry. Dit werk heel goed vir my, selfs al koop ek niks is dit vir my die lekkerste lekker om net in die winkels rond te hang en eye-shopping te doen. My swaer sê nie verniet ek en my sus ia professionele shoppers nie. Ek is net baie bly dat die winkels se sekiriteitswagte nie aldag te vars is nie, anders was ek lankal toegesluit of beboet. Veral in klere winkels gebeur dit gereeld dat van die klere aan my vashak sonder dat Vertragie dit agterkom en dan ry ek ewe rustig met die goed wat agter my aansleep. Of soos wat Vrydag die geval was, val die klere van die hangers af op my skoot en omdat ek gewoonlik ‘n sak op my skoot het kom ek niks agter nie. Vrydag het ek met klere op my skoot by Pep uitgery en dis eers toe ek my beursie in Pick n Pay uit my sak uithaal dat ek die klere op my skoot ondek. Ek gaan terug Pep toe, hang die klere op en gaan weer uit sonder dat iemand ‘n woord sê.

‘n Vorige keer het ek ewe ordentlik vir die sekiriteitswag gaan verduidelik wat gebeur het, maar dit het my ‘n ewigheid gevat om deur te dring tot tjoklitsmurf. Ek het maar later moed opgegee want ek het gesien die ligte is aan, maar daar’s niemand by die huis nie. Nou gaan ek hang ek maar net die goed terug. As iemand my dan nou wil voorkeur sal ek maar verduidelik want as hulle dit raaksien dan is hulle darem bietjie wakker.

Ek was eendag erg boosaardig vir die sekiriteit in die sentrum agter ons huis want eendag toe Maggie saam met my sentrum toe gaan vra die een sekiriteitsdame vir Maggie hoe kan sy (Maggie) vir my werk want ek’s nie reg in my kop nie. Volgens haar het ek eendag iets in een van die winkels gesteel en hulle mos agter my aanhol. Nou vra ek jou, ek kan nie eers loop nie, hoe gaan ek nou vir sekiriteit weghol.
Ek was so boos ek wou nie eers reageer nie, maar my ma het gaan kla en natuurlik het sekiriteit als ontken.

Kyk as ek regtig wil kan ek met moord wegkom, dis nou figuurlik gesproke natuurlik, want my stoel het vreeslik baie wegsteek plekke en ek word nooit deursoek of gaan deur die metaalvwerklikkers nie. As jy met ‘n rolstoel naby ‘n metaal verklikker kom raak die ding heel mal en die meeste van die tyd is dit in elk geval heeltemal te smal om met ‘n rolstoel deur te gaan. Ongelukkig het ek ‘n baie oorywerige gewete wat sulke dinge aanbetref. Ek is seker ek het soomer al die skelm se gewetes ook gekry.

Dis baie voordelig om ‘n rolstoel te hê as jy bank toe gaan. Veral aan die einde van die maand. Dit pla my regtig nie om in toue te wag nie want ek sit mos en word nie moeg nie, maar sodra ek by die bank inkom kom haal iemand van die bank my uit die ry uit en dan word ek sommer dadelik gehelp. Aan die ander kant sukkel ek my dood om by ABSA se otm geld te trek. Daar’s geen manier dat ek naby genoeg kan kom om die kaart in te sit of die geld te vat nie, dan moet ek altyd iemand vra om te help wat ‘n hengse risiko is. Daar moet ek darem vir FNB krediet gee want hulle otms is almal baie rolstoelvriendelik en ek kan lekker bykom. Nedbank vat sommer die beker vir rolstoel onvriendelikheid. Behalwe by Menlyn, is daar geen manier wat jy met ‘n rolstoel by hulle takke kan inkom of by die otms bykom nie.

Ai ek wou eintlik net gou ‘n hallo inskrywinkie stuur en nou’s ek alweer goed op dreef met ‘n mini-kortverhaal. (En ek weet nou om de dood nie hoe om inskrywinkie te spel nie…)

att4771601311

Kategorië Uncategorized

Hoop jou skoen pas….

Maart 13, 2009 · 3 Kommentaar

Hierdie is so ‘n groot waarheid… Moes dit net eenvoudig deel.

image00221

Kategorië Uncategorized

Dinsdag dinge

Maart 11, 2009 · 1 Kommentaar

My Disdag het “prettig” begin. 3:30 word ons wakker want dit klink of die voëls die kombuis afbreek. My eerste reaksie was dat ‘n rondloper kat ingekom en die hok afgegooi het. Toe my ma by die hok kom is dit net bloed waar jy kyk en Kuifie skree dat hoor en sien vergaan. Om een of ander rede het hy al sy regter vlerk se penvere afgebreek teen die kant van die hok. Hy het sy vlerke vreeslik gevladder in die hok en toe bly al die penvere in die slag. Die eerste keer wat sy vlerke gesny is het Oompie per ongeluk ‘n penveer raak gesny en as hy val of iets is die arme regter vlerk altyd in die slag.

Ek was amper mal van bekommernis oor my voëltjie-kind want daar’s geen manier wat ek self uit die bed kan kom om te kan gaan kyk wat aangaan nie en my arme ma het al haar dae om die voël te kalmeer. Hy het haar hande verskriklik gebyt want hy moes baie pyn gehad het. Ek wou hom sommer laat doodmaak want ek kon dit nie verduur dat hy so moet skree van pyn nie. Ons het gelukkig sulke magic medisyne by die vee-arts gekry wat dadelik die bloed stop en die pyn verdoof. Nadat my ma daarvan op die seer vlerkie gespuit het was hy weer rustig.

Ek is nie eers gister scrapbooking klas toe nie want ek het my baby heel-oggend opgepas. Maar hy was min gepla met sy ma wat haar doodstres oor hom. So by 12 uur was Kuifkop weer vol lekker stout en vol streke en was ek tevrede my baby sal dit oorleef. Ek het toe maar klas toe gegaan.

Dit lyk nog steeds baie erg want hy hou mos niks van bad nie so hy’s vol droë bloed. Ek weet nie hoeveel lewens ‘n koeketiel het nie, maar Kuifie het in minder as ‘n jaar meer deurgemaak as die meeste voëls en elke keer oorleef hy. Sy beskerm-engeltjies werk permanent oortyd.

Arme Baby Heuy lyk of hy ook in die slag was. Hy wou seker maar gaan ondersoek instel hoekom sy maatjie so te kere gaan want sy kop is vol bloed spatsels, maar nêrens is iets stukkend nie. Die 2 is nogal erg oor mekaar. Dit is so cute as die twee mekaar ‘groom.’ Ek was tot dusver nog net nie vinnig genoeg om hulle vryery af te neem nie, maar sal dit hopelik een of ander tyd met julle kan deel.

Hier is ‘n lekker donderstormpie aan die broei, so ek beter eers groet.
dscf1134

Kategorië Uncategorized

UITEINDELIK

Maart 9, 2009 · 1 Kommentaar

Uiteindelik kry ek weer ‘n kletskansie. Die slim mense het deesdae omtrent ‘n kuur vir alles, maar niemand kon nog iets uitvind om bietjie meer ure in ‘n dag te prop nie. Daai ou sal my ultimate hero wees, dis verseker. Of miskien kan iemand een of ander potion ontwerp wat my turbo-speed gee dan sal ek dalk ook meer gedoen kry.

Laas week was vir my ‘n baie moeilike week. Ek het weer vreeslik gewroeg oor alles en nog wat en toe het ek en die Oompie alweer ‘n oorlog wat die Slag van Bloedrivier na ‘n vulletjie laat lyk…. As ek net kan leer om nie my stert in ‘n krul te pluk en my toys uit die pram uit te gooi nie, sal ek die lewe soveel makliker maak vir myself en almal om my. En eintlik het die arme Oompie ‘n grap met my gemaak, maar dit was op daai staddium vir my als behalwe ‘n grap. As hy ook net vir my gesê het hy maak ‘n grap so ek nie so hewig gereageer het nie. En dit als net oor Virginia se huiswerk… Aan die ander kant was dit dalk ook ‘n goeie ding want sy’t haar skoon uit haar geloof geskrik en daar was nog nie weer ‘n probleem met die huiswerk nie.

So tussen die gewroeg deur het ek darem so klein gelukkie ook getref. Vir die eerste keer in my lewe het ek iets in ‘n kompetisie gewen. Op Frank Botha se blog het ek 2 kaartjies gewen vir Knypie 2. Dit was skreeu snaaks. Ek het lanklaas so baie gelag. Dis net jammer die rolstoel sitplekke is so ver agter. Ek kon nie almal se gesigsuitdrukkings sien nie. Ook dalk maar goed so want dan het ek dalk ‘n maagspier of ding geskeur van die lag. Tobie Cronjé hoef nie eers sy mond oop te maak nie, dan wil ek my dood giggel so as hy nog gesigte ook trek is dit verby met my.

Dis eintlik baie ironies want die meeste gestremdes (die wat ek ken in elk geval) sukkel om ver te sien, maar by die meeste plekke is die sitplekke vir gestremdes myle ver agter. Eintlik moet ek seker nie kla nie want ten minste maak hulle darem deesdae voorsiening vir gestremdes. Ek onthou toe ek klein was, moes my ma-hulle my oral dra want die meeste plekke was nie rolstoel vriendelik nie.

Vrydag het ek heeldag iemand in gr.11 gehelp met ‘n toerisme taak. Ek is sommer op die plek finaal genees van enige behoefte vir verdere swottings. Ek’s baie dankbaar ek’s nie meer op skool nie want ek sal dit beslis nie maak nie. Die arme kinders het al my simpatie nadat ek gesien het watse take hulle moet doen. Ek het net daar en dan besluit Virginia sal net tot gr. 7 skool gaan en nie ‘n tree verder nie…. 

Oompie word môre 70 en ons het Saterdag vir hom partytjie gehou. Dit was lekker al was daar ‘n paar struwelinge tussen die family. Kommunikasie is net een ou woordjie, maar dit kan tog so baie moeilikheid veroorsaak as dit nie behoorlik gebruik word nie. Hoekom weet ek nie, maar Oompie se skoondogter het die wonderlike gawe om my op te charge sonder dat sy regtig veel hoef te doen of sê. Dis seker maar my eie skuld dat ek haar toelaat om my so om te krap. Ek moet net leer om my nie te steur aan haar nie.

Gister het ek my arme moermetertjie ook ooreis. Ek het verlede Saterdag ‘n groot rekenaar plek (wie se naam ek maar nie sal noem nie) gebel om pryse te kry vir nuwe ink vir my drukker. Die mannetjie het my oor die foon verseker R35 per cartridge is die regte prys, maar hy het nie en sal vir my bestel. Saterdag het ek hom weer gebel om seker te maak die cartridges het gekom, maar toe’s dit sommer R130 vir 2 cartridges. Gister kom ek daar om dit te gaan koop…. Weer-eens was daar ‘n kommunikasie probleem want toe’t hy nie my drukker se cartridges in voorraad nie. Dit nadat ek baie duidelik vir hom die cartridge nommer en naam van die printer gegee het en hy my verseker oor die foon verseker het hy het dit gekry…. Nou is daar kwansuis nie generiese cartridges beskikbaar vir my drukker nie, wat ‘n tjol storie is want voor ek hom gekoop het het ek uitgevind of mens generiese cartridges kry en ek kon by verskeie plekke kry. Ek gaan beslis nie gou weer met hulle besigheid doen nie, dis verseker.

Ek beter nou groet want die horlosie is alweer op turbo-speed en ek het nog niks anders gedoen behalwe klets nie. Ai ek kan nou maar eenmaal nie wen nie.

dscf1132

Kategorië Uncategorized

Gruwelik bederf

Maart 2, 2009 · 3 Kommentaar

Drome kan nog waar word! Ek is die naweek gruwelik bederf deur die BESTE-ESTE-ESTE sussie en swaer in die hele wêreld. Ek het my eie Wii gekry….. en glo dit of nie, maar ek kon tot dusver nog net 1 tenniswedstryd inpas. Skandelik…. Raai wat gaan ek doen as ek klaar geklets het. Sondag-oggend was ek skoon uitgeput toe ek opstaan want ek het die heelnag deur gewii in my drome. Ek het die wonderlikste speletjies gespeel… Nou’s ek vreeslik nuuskierig om by ‘n winkel uit te kom om te gaan kyk of daar regtig sulke speletjies bestaan wat ek in droomland gespeel het.

Te danke aan al die reën kon ek nie my neus by die deur uit steek Saterdag nie, maar toe kon ek darem my oorlaaide posboks so bietjie deurwerk. Ons gras kan nadese enige olimpiese swemmer ore aansit want hulle moes met die spoed van lig leer swem. Ek het regtig lanklaas so baie water gesien en as ek die storie so kyk verloor die son alweer vandag die stryd.

Ek het uiteindelik Mense van my Asem klaar deurgeworstel. Ek wil nou nie spog nie,my Afrikaans is nie te vrot nie, ek het met ‘n onderskeiding geslaag in Matriek, maar Mnr. Hofmeyr verloor my kort-kort met sy hogere Afrikaans. Ek het die boek van hoek tot kant deurgelees en ek is dood eerlik as ek sê daar is heelwat wat ek nie eers amper verstaan het nie. Dit was vir my ook nogal scary dat ek baie van die hoogte en laagtepunte in sy loopbaan, waarvan hy skryf ook bygewoon het of kan onthou.
Soms het ek die arme mens so jammer gekry, maar dan dink ek weer hy’t gekry wat hy verdien. Maar ek laaik hom nog steeds en sal seker ‘n fan bly tot ek die dag my houtsuite aantrek want ten spyte van als, is hy nog steeds baie nice.

Met die nuwe toevoeging tot my voël familie gaan dit baie goed. Ek het hom/haar herdoop na Baby Huey. Ek het in my lewe nog nie ‘n voël gesien wat so baie kan vreet nie. Hy’s al groter as Kuifie en hy’s nog nie eers naatenby uitgegroei nie. Hy kort net ‘n doek en ‘n blou kappie dan lyk hy nes daai cartoon karakter Baby Huey. Dis nogal ‘n slim voëlie. Hy leer baie vinniger as wat Kuifie gedoen het. Ek het ‘n hout leertjie waarop hulle moet klim as hulle op die grond beland het want daar is geen manier dat ek hulle van die grond af kan optel nie, en Baby het klaar die trick agtergekom. Kuifie het baie lank gevat voor hy dit kon doen. Baby is nog net nie so ywerig soos Kuifie om uit die hok te klim nie. Hy is doodgelukkig in die hok, solank hy net kan eet. Kuifie breek omtrent die hok se deur af as dit net lyk of hy kan uit.

Ek moet nou eers groet.

Kategorië Uncategorized