Ek’s so boos vir myself ek sal sommer slamge vang en hulle kaalhand afslag. Verlede jaar het ek saam met my kamera ‘n voucher gekry waarmee ek vir ‘n jaar lank elke maand tien foto’s kan ontwikkel. Vanoggend bestorm ek die winkels om vir my swaer ‘n verjaardag-geskenk te gaan koop en laat toe sommer my foto’s ook ontwikkel. Toe ek uiteindelik finaal besluit het wat om vir swaer te koop, is die plek waar ek dit wil koop toe vir ete. Toe moes ek ‘n hele uur daar rondhang. Ek wou myself skop want ek was vroeër daar, maar toe dink Kiepie mos sy sal nog eers bietjie rondshop…
By die fotoplek keer ek my hele sak om en al wat ek kry is my voucher. Die mense is vreeslik gaaf en sê ek kan kom betaal as ek weer kom. Ek betaal toe maar eerder kontant vir die foto’s want ek haat dit om mense te skuld. Ek was vas oortuig ek het die voucher by die huis vergeet, maar hier is geen teken daarvan nie en ek weet vir ‘n feit ek het dit vanoggend in my hand gehad. So ek moes dit op een of ander manier verloor het. Hopelik het iemand wat dit kan gebruik dit opgetel want hy score nou omtrent 30 foto’s as dit nie dalk meer is nie. Net miskien is dit ‘n goeie siel wat die voucher gaan ingee by die foto plek, maar dis seker wishfull thinking.
Verlede week het ons huis amper in ‘n hospitaal verander. My ma sukkel nou al vir ‘n hele ruk met, wat sy gedink het, middeloorontsteking is. Dit het al 2 keer by die werk gebeur dat sy vreeslik dronk en naar geword het en iemand haar moes huis toe bring. Volgens die werk se dokter het sy ‘n allergie. Verlede Sondag het sy weer vreeslik sleg gevoel en dit nadat sy al ‘n hele reeks medisyne van die huisdokter opgebruik het. Gelukkig was my sussie-hulle hier want Oompie kan nog nie bestuur na die knievervanging nie, en hulle het haar toe ongevalle toe gevat. Daar kry sy toe weer ander medisyne en word na ‘n oor-spesialis verwys.
Nou ja, ‘n hele paar honderd rand later en baie medisyne het sy menierese siekte. In meer verstaanbare taal is dit balansversteuring. Die simptome is baie dieselfde as ‘n epileptiese aanval. Dit kan glad nie genees word nie, maar met die regte medisyne kan dit goed beheer word en vandat sy die regte medisyne het gaan dit darem al heelwat beter. Die spesialis vertel van ‘n vriend van hom wat die ding so erg het dat hy glad nie meer kan bestuur nie, maar hy kan wel met ‘n motorfiets ry want die beweging is anders as ‘n kar. My ooraktiewe verbeelding het klaar ‘n plan uitgewerk. Ons kry ‘n motorfiets met ‘n sidecar vir my aan die een kant en ‘n sidecar vir Oompie aan die ander kant en ‘n Ventertjie vir my stoel. My ma kan die bestuurder wees en dan kry ons vir haar ‘n pink leer outfit. Ons sal defnitief die centre attraction van die Pretoria wees.
Ek dreig eintlik al baie lank om vir Maggie te laat gaan vir haar lesensie, nou sal ek maar net moet doen en nie net dreig nie. Net jammer die nodige fondse ontbreek alweer, maar ek glo ons sal wel iets kan uitwerk.
Ek was omtrent permanent op straat verlede week om almal se dinge te gaan doen, want tussen die 3 van ons was ek omtrent die beweeglikste van almal en soos die duiwel dit wou hê kon dit nie wag tot hierdie week nie.
En om dinge nog meer prettig te maak kry ek toe nou nog gietergatsiekte (‘n maag gogga) ook. Glo my, kruppelgeit en gietergatsiekte is nie ‘n baie vars kombinasie nie want die toilet is elke keer net te ver…
Haai en daar ken ek toe sowaar die Joost doedie. Sy is van my Hometown en het so te sê voor my groot geword. Ai shame die lewe het die arme ding ook al ‘n paar rowwe klappe gegee. Nie dat dit dit wat sy gedoen het enigsins regverdig nie, maar ek voel nogtans half jammer vir haar. Met sulke huislike omstandighede en ouers soos wat sy gehad het kan mens seker ook nie veel beter verwag nie. Haar ouer broer het breinskade opgedoen in ‘n motor ongeluk en het het vir fisio en arbeidsterapie gekom by my skool. Vandat ek haar die eerste keer gesien het toe sy nog’n klein dogtertjie was, kon ek sien sy gaan die pad iewers mis. Hopelik is dit waar dat sy nou ‘n skoon blaadjie omgeslaan het.
Ek kan eintlik ‘n koerant op my eie skryf oor haar maar ek hou dit eerder vir myself voor ek dalk ook in die koerante beland vir laster of so iets.
Dit gaan net nog steeds my verstand te bowe hoe hierdie celebs van ons kan dink hulle kan so aanjaag en dan dink dit sal nooit uitkom nie. Hoekom hulle dit ook eers ontken en dan kom die waarheid tog op die ou end uit verstaan ek ook nie. Ek dink Steve is half dankbaar vir die Joost-storie. Nou kry hy bietjie ruskans…. Ek dink Joost se storie was half ‘n groter skok vir die nasie want a-lmal het gedink hy’s ‘n soet seuntjie. Steve het al so baie aangejaag dat dit nie eintlik meer so ‘n skok is as sy volgende streke bekend word nie.
Dis seker nou genoeg van my vir een dag. Hopelik kry ek weer ‘n kletskansie voor die week verby is.









