Kruppelkriekkie Klets

Entries from Mei 2009

Dis nou nie meer lank nie…

Mei 29, 2009 · Lewer Kommentaar

Ai ai ai….. Dis nou nie meer 100 jaar nie…

Vandag se inskrywing het ek geplaas….(20 Jan.) Sorry daarvoor. Vandag s’n het darem oulike prentjies by wat die vorige 1 nie gehad het nie. Damn ek was so trots op myself toe ek uiteindelik al die prentjies op die regte plekke kry.

Ons sê maar ek het die geheue bietjie verfris.

Lekke naweek. BLOU BULLE BO!!!!

Kategorië Uncategorized

Hoe om jonk te bly!

Mei 29, 2009 · Lewer Kommentaar

1. Probeer alles tweekeer:
‘n Grafskrif het gelui:
“Tried everything twice…both times were moerse nice!”

ATT000621

2. Behou jou grapgat vrinne
Die suurgatte trek jou onder.
(Sorg dat JY nie daai suurgat is nie!)

ATT000652

3. Hou aan leer..
Leer meer oor skete, etiket, enigiets.
Moenie toelaat dat jou brein muf nie!

ATT0009211

4. Geniet die eenvoudige dinge.

ATT000745

5. Lag dikwels, lag lank en lekker.
Lag tot jou blaas lek!
En as jy’n pel het wat lekker nonsens praat,
spandeer meer tyd saam met haar/hom.

ATT000776

6. Trane kom.
Tjank dat die snot spat, en beweeg dan aan.
Die enigste mens wat ALTYD regdeur jou lewe
by jou is, is jyself.  LEWE terwyl jy nog lewe het.

ATT000807

7. Omring  jouself met dit waaroor jy mal is,
Of dit nou pelle, familie, diere, sentimentele junk, musiek,plante, of kitch is.  Jou huis is JOU plek!

ATT000838

8. Bewaar jou gesondheid:
As jy OK is, moenie nonsens aanjaag nie,
As jou kop raas, sluit by ‘n ’support group’ aan,
As jy nie lekker is nie, kry hulp.

ATT000869

9. Moenie op loop gaan met skuldgevoelens nie.
As daar te lope is, doen dit in die winkels, in jou tuin,
in die bosveld, langs die see of selfs in vreemde lande.

ATT0008910

10. Sê vir jou mense dat jy vir hulle lief is, gee drukkies op strepe ….
more trek jy dalk jou hout-jas aan, dan’s dit te laat!

Kategorië Uncategorized

Mei 27, 2009 · 1 Kommentaar

boy
Ek het so 2 weke terug besluit as Virginia saam met blankes kan skool gaan kan sy maar saam met my kerk toe gaan ook. Ek weet nou nie of die stoere boere Oompies en Tannies met my saamstem nie, maar dis maar hulle probleem.

Verlede Sondag word daar ‘n seuntjie gedoop en dis toe die eerste keer dat Virginia so iets beleef. Die dominee nooi al die kindertjies uit om saam by die doopfond te kom staan terwyl die seuntjie gedoop word. Ek het gedink Virginia sal te skaam wees en nie belangstel om daar voor te gaan staan nie. Toe die ander kinders voor gaan staan vra sy of sy ook moet gaan. Ek sê toe nee dis nie nodig nie. Wil sy so ewe van my weet nou hoekom nie…. Ek sê toe as sy wil kan sy gaan. Sy laat haar nie 2 keer nooi nie en gaan staan sommer heel voor in die koor tussen die familie. Ek’s so duk van die lag jy kan met my toor. Stel jou voor, die familie neem foto’s van hierdie spesiale familie geleentheid en daar staan hierdie tjoklitsmurfie tussen die familie en smile laat jy net tande sien.

Die dominee laat die kinders die water voel en weereens laat Virginia nie op haar wag nie en voel die water. Wat sy gedink het dit is waaraan sy vat, weet ek nou nog nie, maar sy’t vas geglo dis nie gewone water nie.

Terug by die huis vertel sy baie opgewonde vir Maggie ek het haar laat doop. Ons moes toe eers baie mooi verduidelik dat sy al gedoop is toe sy klein was en dat die seuntjie Sondag gedoop is.

Gelukkig was dit nie met die doop die geval nie, maar die groot kultuurverskille kan dinge partykeer nogal moeilik maak. Ek weet nie of ek dit al voorheen vertel het nie, maar Virginia het eendag vir my gevra hoekom ‘n swanger vrou so groot maag het en toe ek haar vertel daar’s ‘n babatjie daar binne, kry Maggie amper die piep want hulle kinders word vertel die ma’s koop die babas by die winkel. Geen wonder toe Virginia ‘n sussie kry vra sy baie ontstoke vir die ma waarom die sussie dan weer swart is. Was die wit kinders dan te duur.

Ek beter eers vir ‘n slag totsiens sê, anders skryf ek netnou weer boeke, en my posboks gaan beslis nie vanself leeg kom nie.

Kategorië Uncategorized

Kriekkie kerm en klae

Mei 25, 2009 · Lewer Kommentaar

Ek het die naweek genoeg trane gestort om die water te kort in Afrika vir te minste ‘n jaar te verlig. Ek en Oompie het ‘n bekgeveg gehad wat die 2de Wêreld-oorlog na ‘n Sondagskool-piekniek laat lyk.
Wat my vreeslik omgekrap het, is dat ek regtig net probeer goed doen het en toe word als in my gesig terug gegooi. Dit het my net weer finaal laat besef mans is uiters selfsigtig. Gewoonlik benadeel ek myself om ander gelukkig te maak en dink altyd eers aan ander voor ek aan myself dink (wat hier ook die geval was, ek het als gedoen om hom gelukkig te maak), maar duidelik het ek my tyd en ernergie gemors en net baie hartseer daaruit gekry.

Ek begin nou al hoe meer verstaan hoekom 2 van sy kinders die pad heeltemal verloor het en die hasepad gekies het toe hulle die kans kry. As ek kon het ek defnitief ook lankal pad gevat, maar ongelukkig moet ek nou maar hier bly en die beste van ‘n slegte saak probeer maak. Ek moet darem sê die meeste van die tyd leef ons in vrede saam.

Ek weet ek is eintlik is ek die hoofdr*l in die drinkwater want as ek eers my stertjie in ‘n krul gewip het, verloor ek dit sommer heeltemal en dan’s dit nag. Ek is ook heeltemal te fyngevoelig oor dinge vir wat goed is vir my. Dit is een eienskap waarop ek glad nie trots is nie en wat ek regtig graag sal wil verander.

Ek werk regtig daaraan en net sodra ek dink ek’s nou oraait en gaan nie weer uithak nie, ontstaan daar ‘n situasie en is al my goeie voornemens by die venster uit. En my arme swaer moet maar weer van voor af begin om sy skoonsus te probeer reg kry. Hy het besluit sy doel op aarde is om my koppie uit te sort. Hy praat ure en ure en ure met my en elke keer neem ek myself voor ek gaan in die toekoms situasies hanteer soos hy sê, en as ek weer sien is ek so woedend dat ek eers doen en dan dink. Ek hoop maar hy gaan lank lewe want ek weet nie so mooi of ek my koppie ooit uitgesorteer sal kry nie.

Glo dit of nie, maar ek was altyd die rustigheid van self en ek het altyd toegelaat dat almal oor my loop en maak net wat hulle wil maar iewers langs die pad het iets ernstig skeef geloop. Waar weet ek nie presies nie, maar ek wens ek kan weer daar verby gaan en myself weer gaan terug haal.

Ek glo vas dat als met ‘n doel gebeur en sal seker eendag verstaan waaroor als gaan.
Hier is darem weer vrede in die huis nadat my ma met hom gepraat het. Om een of ander rede het sy die magic touch met die Oompie saam en weet net hoe om met hom te toor. Ek moet sê sy’s ‘n baie beter mens as ek en weet net wanneer om wat te sê om hom van sy eie medisyne terug te gee.

Dankie ek voel sommer klaar beter na ek so bietjie in julle ore kon klae en kerm. Belowe ek sal nie gou weer nie. (Hopelik)

Kriekgroete

Kategorië Uncategorized

Kriekkie is opgeklits

Mei 22, 2009 · 1 Kommentaar

Ek is sommer opgeklits. Eintlik is dit seker onnodig maar nogtans…
Gister gaan ek saam met Maggie en haar sussie se kind na die winkelsentrum agter ons huis. Sy loop haar draaie en ek gaan my koers in. Ons spreek af om mekaar weer by Truworths te kry.

Ek’s voor hulle klaar en gaan soek hulle in Truworths. Ek sien hulle nie dadelik raak nie en gaan weer uit. Maggie-hulle was toe nog binne die winkel en toe hoor sy hoe sê die een verkoopsdame vir die ander hulle moet my goed dophou want ek steel. Ek het nou die dag iets by Pick & Pay gesteel en toe die sekiriteit agter my aankom het ek glo vreeslik gehuil. Die 2 dames het natuurlik nie geweet Maggie ken my nie, die dat hulle so lekker geskinder het. Ongelukkig het Maggie my eers vertel toe ons al weg is anders het ek hulle dadelik gaan aanvat omdat hulle sulke str@nt praat. Ek gaan hulle defnitief volgende week aanvat. Ek wil net eers bietjie afkoel want anders mag ek dalk iets doen of sê waaroor ek later spyt gaan wees. Ek weet ek gaan in elk geval net my tyd mors want hulle gaan dit weer ontken soos die vorige kere

Wat my die kwaadste maak is dat dit nou al die 3de keer is dat die storie die rondte doen en elke keer is dit iemand anders wat dit vertel. As ek ten minste iets gehad het om daarvoor te wys, sou dit ook al gehelp het. Ongelukkig het ek ‘n baie oorywerige gewete wat my nie sal toelaat om iets te steel by ‘n winkel nie. Die naaste wat ek daaraan kom om iets te steel is dvds en cds van vriende wat ek copy. Ek maak beslis ook nie geld daaruit soos party wat die gecopyde goed verkoop nie. Maar glo vir my, my geweete kla my erg aan daaroor ook omdat ek weet dis eintlik onwettig om die goed te copy.

Duidelik het ek ‘n evil twin iewers waarvan ek nie weet nie. Of ek het ‘n ernstige gesplete persoonlikheid wat net na vore kom as ek by ons sentrum is. Aangesien ek in elk geval daarvan beskuldig word, moet ek dalk mar begin om my repitasie gestand te doen en begin steel. As ek dan gevang word, kan ek altyd insanety pleit  :-)  En ek sal nog daarmee weg kom ook want 99% van die samelewing dink mos as jy in ‘n rolstoel is het jy ook nie al jou varkies op hok nie.

Ek moet vanmiddag iemand help met 2 skooltake. Eks so dankbaar ek s nie meer in die skool nie. Die goed wat die arme kiddies deesdae moet doen is vir my totaal grieks. Ek wil sommer weg hol as ek net dink dieselfde lê nog vir Virginia voor.

My ma het ‘n vriendin wat mal is daaroor om take te doen en ek het haar al klaar mooi laat verstaan as Virginia begin take kry gaan ek baie vir haar kuier. Sy sien baie uit daarna. Ek’s oortuig daarvan sy’t ‘n varkie of 2 missing om so opgewonde te kan raak oor so baie werk.

Dis nou eers genoeg van my kant af. Lekker naweek.

beerposbus

Kategorië Uncategorized

Die voet sage vervolg

Mei 20, 2009 · 1 Kommentaar

DSCF1284

Deesdae is dit mos die in ding om in plaas van gips of fibreglass ‘n moonboot te kry. Ek stem 100% saam dit is baie meer gemaklik en higiënies as gips of fibreglass maar as jou potjies so krom en skeef is soos myne werk dit nie. Die gedoente is ontwerp vir normale voete wat se bene als op die regte plek sit. Ek het vir hulle van die begin af gesê dit gaan nie vir my werk nie, maar wat weet ek nou. Dokters is mos slim.

Ek is toe daar weg met my designer boot en all, maar hoe verder die aand vorder, hoe seerder maak dit my en hoe seerder word my voet. Toe ek die volgende oggend wakker word toe is my rug af want die boot is baie swaar. Hospitaal hier kom ek. Uiteindelik sit ‘n ander dokter vir my fibreglass op. Ons gee die moonboot terug en hoe meer my ma verduidelik ek kan nie loop nie en het die ding net 1 aand gebruik, hoe meer wil die antie by die toonbank weet of sy doodseker is ek het nie met hom geloop nie. Ek sit lewensgroot in die rolstoel by die deur en sy kan sien ek kan nie loop nie. Uiteindelik is die moonboot terug gegee en kan ek huis toe gaan. Na die fibreglass aangesit is was my voet erg seer, ek het gedink dis omdat daar aan hom gekarribg is, maar hoe verder die dag vorder hoe seerder word die ding. Later toe staan my been soos ‘n ballon by die gips uit. Ek bel my ma hoogs benou by die werk. Sy sê ons moet die sidecutter vat en die goed bo om my been los sny. Ek en Maggie mecanic die been so bietjie en dis heelwat beter, kan met die pyn saamleef.

Twee dae gaan dit redelik goed, maar ek raak erg gefrustreerd want ek kan omtrent net ‘n uur regopsit dan pyn my voet so ek wil weghol dan moet ek maar weer gaan lê. Die volgende aand is ek weer terug hospitaal toe want dit voel of my hak dwarsdeur die fibre druk. My bloedsomloop is nie van die beste nie en daar is altyd die gevaar van druksere.

Ek dog toe nou sal ek uiteindelik gips kry, maar nee, dokter wil nog steeds niks weet nie. Saag net my hak oop en die gedeelte oor my voet om die drukking te verminder. Kyk as daar nou een ding is waarvoor ek tot die dood toe bang is, is dit ‘n gipssaag.

Hulle los die stukkies gips nog steeds om my voet om dit stewiger te hou en draai als met verbande toe, maar toe pyn my voet eers erg. Die volgende dag wil ek gaan plysters koop om die plek waar die voet af is stywer te verbind. Na ek die prys van pleisters gesien het kry ek amper ‘n oorval en gaan koop van daai bree selotape vir onder R10 en dit werk net so goed,

Ek dog toe my voet gaan nou uitendelik beter word, maar omdat die stukkies fibreglass los is skuif dit rond en druk my kort-kort op ander plekke. Ek weet nie wie van my of my ma was die moedelooste nie want elke aand as sy van die werk af kom moet sy die voet mechanic. Ek kry nêrens rolle gips nie sodat my ma die fibre kan vervang met gewone outydse gips nie. Uiteindelik kry my ma rolle gips kry en kon operasie gips begin.

My ma is al goed getrain om gips aansit. Toe ek klein was het ek baie operasies gekry en dan kruip ek die gips stukkend en moes ma maar oppatch want ons was ver van die dokters af.

Vandat ek toe die gips aan het, gaan dit sommer stukke beter. Die seer wat ek nou nog het is niks in vergelyking met wat dit was nie. So paar dae gelede het ek probeer om weer ‘normaal’ op en af die rolstoel te klim, maar voet se kind wou nog niks weet nie.

Wat vir my die ergste frustreerend was, was dat ek nie op die rekenaar kom doenig wees nie. Mens kan ook met soveel lees en slaap en in die bed bly. As daar nou iemand saam met jou in die bed is, is dit natuurlik ‘n ander saak, maar die naaste wat ek aan ‘n slaapmaatjie kon kom was Elvis.

Nooit in my lewe het ek gedink ek sal dit sê nie, maar ek kan nie wag om weer te begin oefen nie. My spiereis al amper seerder as my voet van nie oefening kry nie. Die eerste ding wat ek gaan –doen as die gips af is, is skud op my skudmasjien, sommer vir ‘n uur lank. Glo dit of nie, maar ek kan nie eers Wii speel nie, dan kry my voet seer. Ek is seker ek’s die enigste mens op aarde wie se voete saam Wii speel, maar nou ja, met ‘n Kruppelkriekkie is enigiets moontlik.

Hiermee is die voet-sage nou afgehandel (hopelik) Belowe die volgende kletssessie sal minder vol pyne en skete wees.

Kategorië Uncategorized

Die voet sage….

Mei 18, 2009 · 3 Kommentaar

Na baie trane, pyn, frustrasie, gips, verbande, plysters, moedeloosheid, slaap, pynpille, geld en sommer mo@erigheid ook, is ek uiteindelik weer op my pos. Volgens my was ek drieweke te lank uit aksie, maar glo my dit was beslis nie uit vrye wil nie…..

Dis nog steeds bietjie seer en baie frustrasie, maar niks in vergelyking met die eerste week of 2 nie. Duisende dankies vir al die wense van beterskap…. Waardeer dit regtig dat daar so baie is wat omgee, maar laat ek my storie voor begin.

Die 29ste April het ek ‘n fisio-sessie gehad, maar vandat ek die oggend wakker geword het, het ek onrustig gevoel maar het nie geweet hoekom of waaroor nie en gedink dis maar net weer my verbeelding wat oortyd werk. Normaalweg hou e+k nie eintlik van rokke en rompe, maar omdat sy my bo-been behandel is dit net makliker as ek ‘n romp aantrek fisio toe.

Na wat soos ‘n ewigheid voel (dis eintlik net ‘n uur) is my marteling uiteindelik verby en ek kan op my stoel klim. Soos ons dit altyd doen skuif ek op my maag van die bed af tot my voete die grond raak en dan stoot sy die rolstoel agter my in en ek kry my sit, Toe ek my hand van die bed af op die rolstoel wil sit, loop iets skeef en my hand bly van my stoel af gly, maak nie saak hoe hard ek probeer vasvat nie. Omdat ek ‘n romp aangehad het was daar ook nie plek waaraan die fisio kon vat om my op te help nie. Hoe harder sy probeer trek, hoe hoër skuif die romp op.

Die enigste uitweg is toe laat ek grond toe sak. Ongelukkig beland my voet toe onder my en ek land met my volle gewig omtrent (110kg) op die kant van my voet. Die praktyk het net teels in so dis nou nie eintlik wat ek sal noem ‘n soft landing nie. Ek het sommer dadelik geweet my voet is gebreek want ek het gehoor hoe kraak my voetbene terwyl ons stoei om my voet onder my uit te kry. Ek moet sê ek is eintlik verbaas dat daar net 2 beentjies gebreek het want toe my voet so kraak onder my was ek oortuig my hele voet is daarmee heen.

Ek bel toe vir Maggie om my te kom ophelp want daar is geen manier dat 1 persoom alleen my kan opkry nie ek is heeltemal te swaar daarvoor. Alhoewel my ma dit al gedoen het maar ek het nog altyd gedink sy’s superwoman se tweeling.

Ek moet sê ek is effens teleurgesteld in die fisioterapeut. In die tyd wat ek vir Maggie-hulle wag het haar volgende kliënt gekom en sy het met hom begin behandel en ek moes maar daar op die koue vloer lê en wag. Ek weet sy het vir my ‘n kussing gegee, maar sy bied nie eers ‘n kombers of iets aan nie. Of laat ek eerder sê ek kan nie so iets onthou nie.

Toe Maggie daar kom was sy so boos vir die fisio jy kon met haar koekies bak en sy wil net met alle geweld my ma bel en vertel wat gebeur het en ek probeer haar net sover kry om ‘n man te gaan roep om my te kom optel want daaru’s geen manier dat 2 vrouens dit kan doen nie.Ek wou nie eintlik hê sy moes my ma bel nie want ek weet sy gaan haar dood stres oor my. Ek was van plan om my sus te vra om my dokter toe te vat ens., maar Maggie wou niks hoor nie, my ma moet gebel word.

En liewe fisio gaan rustig voort met haar pasiënt en sy was ook nie vreeslik gediend daarmee dat ons ‘n man van die straat af wou roep nie, maar nou ja, dit kon nie anders nie.

Maggie kry toe sommer die eerste een beet wat sy in die straat sien en vra hom om te kom help. Toe hy by die deur inkom kon ek ruik sy gunsteling winkel is die bottelstoor en dog toe by myself vandag kom ek nooit van die vloer af op nie. Wonder bo wonder kry hy my toe op. Ek gee hom toe R10 (dis al wat ek by my gehad het) en ons daar weg,
Voor ek nog my sus kan bel, het my ma klaar gereël om huis toe te kom. Soos die duiwel dit wil hê wou my ontwikkel ek ‘n nood en mos toe maar met af voet en al die troon bestyg. Kom by ongevalle, maar daar moet eers R100 betaal word voor hulle my help. Die laaste ding waaraan ek gedink het toe ek by die huis weg is is geld. My ma gaan leen gou by vriende wat naby die hospitaal bly en kon ek uiteindelik ‘n dokter sien. Sy gee my ‘n pyn inspuiting en stuur my vir x-stale. By x-strale dieselfde storie. Moet eers R145 betaal voor hulle ons help. Ons bel toe maar vir Oompie om my ma se handsak te bring. Die doedies sukkel hulle oor ‘n mik om die plate te neem want daar’s geen manier wat ek op hulle bed kan kom nie. Hulle maak my so seer dat ek dog ek dooi op die plek en ek vloek sommer die arme girlie.

Vier ure later met tydelike gips vir 5 dae kon ons uiteindelik huis toe kom. Dankie tog vir adult nappies want my voet is so seer ek kan nie daarop trap nie. Die enigste oplossing sou wees as ek ‘n hystoestel kry en natuurlik kos die goed ‘n klein fortuintjie. Ek bel my liewe swaer om te hoor of ons by hom kan geld leen om die volgende dag die ding te gaan koop. Met swaer se ok, gedoek en al kom ek toe uiteindelik in die bed.

Die volgende oggend het Maggie-hulle my uit die bed gesleep tot op die stoel. Ek reken so ewe ek sal op die stoel bly sit heeldag en dan sal my ma deur die loop van die dag die hyser kry. Ek was skaars 10 minute op toe wil ek omkap van die pyn toe moet ek maar weer die geveg met die bed aanpak.

Glo dit of nie maar daar is amper R7000 (Nee daar is nie ‘n nul te veel nie) verskil tussen die mediese hyser en die industriële een. Die grootste verskil is dat die mediese hyser baie klein en kompak is en baie lig om te stoot, vir die ander een het jy baie spasie nodig en hy’s swaar. Verder doen altwee dieselfde werk. Die mediese 1 kon ek eers oor ‘n week kry so die ander 1 moes maar doen, Gelukkig het ek ‘n groot kamer so die spasie was nie ‘n probleem nie.

Ek dink ek het nou meer as genoeg geklets vir een dag. Môre het ek spoeg en plak klas, maar ek sal Woensdag die voet sage voortsit.

Kategorië Uncategorized