Na baie trane, pyn, frustrasie, gips, verbande, plysters, moedeloosheid, slaap, pynpille, geld en sommer mo@erigheid ook, is ek uiteindelik weer op my pos. Volgens my was ek drieweke te lank uit aksie, maar glo my dit was beslis nie uit vrye wil nie…..
Dis nog steeds bietjie seer en baie frustrasie, maar niks in vergelyking met die eerste week of 2 nie. Duisende dankies vir al die wense van beterskap…. Waardeer dit regtig dat daar so baie is wat omgee, maar laat ek my storie voor begin.
Die 29ste April het ek ‘n fisio-sessie gehad, maar vandat ek die oggend wakker geword het, het ek onrustig gevoel maar het nie geweet hoekom of waaroor nie en gedink dis maar net weer my verbeelding wat oortyd werk. Normaalweg hou e+k nie eintlik van rokke en rompe, maar omdat sy my bo-been behandel is dit net makliker as ek ‘n romp aantrek fisio toe.
Na wat soos ‘n ewigheid voel (dis eintlik net ‘n uur) is my marteling uiteindelik verby en ek kan op my stoel klim. Soos ons dit altyd doen skuif ek op my maag van die bed af tot my voete die grond raak en dan stoot sy die rolstoel agter my in en ek kry my sit, Toe ek my hand van die bed af op die rolstoel wil sit, loop iets skeef en my hand bly van my stoel af gly, maak nie saak hoe hard ek probeer vasvat nie. Omdat ek ‘n romp aangehad het was daar ook nie plek waaraan die fisio kon vat om my op te help nie. Hoe harder sy probeer trek, hoe hoër skuif die romp op.
Die enigste uitweg is toe laat ek grond toe sak. Ongelukkig beland my voet toe onder my en ek land met my volle gewig omtrent (110kg) op die kant van my voet. Die praktyk het net teels in so dis nou nie eintlik wat ek sal noem ‘n soft landing nie. Ek het sommer dadelik geweet my voet is gebreek want ek het gehoor hoe kraak my voetbene terwyl ons stoei om my voet onder my uit te kry. Ek moet sê ek is eintlik verbaas dat daar net 2 beentjies gebreek het want toe my voet so kraak onder my was ek oortuig my hele voet is daarmee heen.
Ek bel toe vir Maggie om my te kom ophelp want daar is geen manier dat 1 persoom alleen my kan opkry nie ek is heeltemal te swaar daarvoor. Alhoewel my ma dit al gedoen het maar ek het nog altyd gedink sy’s superwoman se tweeling.
Ek moet sê ek is effens teleurgesteld in die fisioterapeut. In die tyd wat ek vir Maggie-hulle wag het haar volgende kliënt gekom en sy het met hom begin behandel en ek moes maar daar op die koue vloer lê en wag. Ek weet sy het vir my ‘n kussing gegee, maar sy bied nie eers ‘n kombers of iets aan nie. Of laat ek eerder sê ek kan nie so iets onthou nie.
Toe Maggie daar kom was sy so boos vir die fisio jy kon met haar koekies bak en sy wil net met alle geweld my ma bel en vertel wat gebeur het en ek probeer haar net sover kry om ‘n man te gaan roep om my te kom optel want daaru’s geen manier dat 2 vrouens dit kan doen nie.Ek wou nie eintlik hê sy moes my ma bel nie want ek weet sy gaan haar dood stres oor my. Ek was van plan om my sus te vra om my dokter toe te vat ens., maar Maggie wou niks hoor nie, my ma moet gebel word.
En liewe fisio gaan rustig voort met haar pasiënt en sy was ook nie vreeslik gediend daarmee dat ons ‘n man van die straat af wou roep nie, maar nou ja, dit kon nie anders nie.
Maggie kry toe sommer die eerste een beet wat sy in die straat sien en vra hom om te kom help. Toe hy by die deur inkom kon ek ruik sy gunsteling winkel is die bottelstoor en dog toe by myself vandag kom ek nooit van die vloer af op nie. Wonder bo wonder kry hy my toe op. Ek gee hom toe R10 (dis al wat ek by my gehad het) en ons daar weg,
Voor ek nog my sus kan bel, het my ma klaar gereël om huis toe te kom. Soos die duiwel dit wil hê wou my ontwikkel ek ‘n nood en mos toe maar met af voet en al die troon bestyg. Kom by ongevalle, maar daar moet eers R100 betaal word voor hulle my help. Die laaste ding waaraan ek gedink het toe ek by die huis weg is is geld. My ma gaan leen gou by vriende wat naby die hospitaal bly en kon ek uiteindelik ‘n dokter sien. Sy gee my ‘n pyn inspuiting en stuur my vir x-stale. By x-strale dieselfde storie. Moet eers R145 betaal voor hulle ons help. Ons bel toe maar vir Oompie om my ma se handsak te bring. Die doedies sukkel hulle oor ‘n mik om die plate te neem want daar’s geen manier wat ek op hulle bed kan kom nie. Hulle maak my so seer dat ek dog ek dooi op die plek en ek vloek sommer die arme girlie.
Vier ure later met tydelike gips vir 5 dae kon ons uiteindelik huis toe kom. Dankie tog vir adult nappies want my voet is so seer ek kan nie daarop trap nie. Die enigste oplossing sou wees as ek ‘n hystoestel kry en natuurlik kos die goed ‘n klein fortuintjie. Ek bel my liewe swaer om te hoor of ons by hom kan geld leen om die volgende dag die ding te gaan koop. Met swaer se ok, gedoek en al kom ek toe uiteindelik in die bed.
Die volgende oggend het Maggie-hulle my uit die bed gesleep tot op die stoel. Ek reken so ewe ek sal op die stoel bly sit heeldag en dan sal my ma deur die loop van die dag die hyser kry. Ek was skaars 10 minute op toe wil ek omkap van die pyn toe moet ek maar weer die geveg met die bed aanpak.
Glo dit of nie maar daar is amper R7000 (Nee daar is nie ‘n nul te veel nie) verskil tussen die mediese hyser en die industriële een. Die grootste verskil is dat die mediese hyser baie klein en kompak is en baie lig om te stoot, vir die ander een het jy baie spasie nodig en hy’s swaar. Verder doen altwee dieselfde werk. Die mediese 1 kon ek eers oor ‘n week kry so die ander 1 moes maar doen, Gelukkig het ek ‘n groot kamer so die spasie was nie ‘n probleem nie.
Ek dink ek het nou meer as genoeg geklets vir een dag. Môre het ek spoeg en plak klas, maar ek sal Woensdag die voet sage voortsit.