Kruppelkriekkie Klets

Kriekkie kerm en klae

Mei 25, 2009 · Lewer Kommentaar

Ek het die naweek genoeg trane gestort om die water te kort in Afrika vir te minste ‘n jaar te verlig. Ek en Oompie het ‘n bekgeveg gehad wat die 2de Wêreld-oorlog na ‘n Sondagskool-piekniek laat lyk.
Wat my vreeslik omgekrap het, is dat ek regtig net probeer goed doen het en toe word als in my gesig terug gegooi. Dit het my net weer finaal laat besef mans is uiters selfsigtig. Gewoonlik benadeel ek myself om ander gelukkig te maak en dink altyd eers aan ander voor ek aan myself dink (wat hier ook die geval was, ek het als gedoen om hom gelukkig te maak), maar duidelik het ek my tyd en ernergie gemors en net baie hartseer daaruit gekry.

Ek begin nou al hoe meer verstaan hoekom 2 van sy kinders die pad heeltemal verloor het en die hasepad gekies het toe hulle die kans kry. As ek kon het ek defnitief ook lankal pad gevat, maar ongelukkig moet ek nou maar hier bly en die beste van ‘n slegte saak probeer maak. Ek moet darem sê die meeste van die tyd leef ons in vrede saam.

Ek weet ek is eintlik is ek die hoofdr*l in die drinkwater want as ek eers my stertjie in ‘n krul gewip het, verloor ek dit sommer heeltemal en dan’s dit nag. Ek is ook heeltemal te fyngevoelig oor dinge vir wat goed is vir my. Dit is een eienskap waarop ek glad nie trots is nie en wat ek regtig graag sal wil verander.

Ek werk regtig daaraan en net sodra ek dink ek’s nou oraait en gaan nie weer uithak nie, ontstaan daar ‘n situasie en is al my goeie voornemens by die venster uit. En my arme swaer moet maar weer van voor af begin om sy skoonsus te probeer reg kry. Hy het besluit sy doel op aarde is om my koppie uit te sort. Hy praat ure en ure en ure met my en elke keer neem ek myself voor ek gaan in die toekoms situasies hanteer soos hy sê, en as ek weer sien is ek so woedend dat ek eers doen en dan dink. Ek hoop maar hy gaan lank lewe want ek weet nie so mooi of ek my koppie ooit uitgesorteer sal kry nie.

Glo dit of nie, maar ek was altyd die rustigheid van self en ek het altyd toegelaat dat almal oor my loop en maak net wat hulle wil maar iewers langs die pad het iets ernstig skeef geloop. Waar weet ek nie presies nie, maar ek wens ek kan weer daar verby gaan en myself weer gaan terug haal.

Ek glo vas dat als met ‘n doel gebeur en sal seker eendag verstaan waaroor als gaan.
Hier is darem weer vrede in die huis nadat my ma met hom gepraat het. Om een of ander rede het sy die magic touch met die Oompie saam en weet net hoe om met hom te toor. Ek moet sê sy’s ‘n baie beter mens as ek en weet net wanneer om wat te sê om hom van sy eie medisyne terug te gee.

Dankie ek voel sommer klaar beter na ek so bietjie in julle ore kon klae en kerm. Belowe ek sal nie gou weer nie. (Hopelik)

Kriekgroete

Kategorië Uncategorized