Kruppelkriekkie Klets

Entries from Junie 2009

Kriekkie kry ‘n kletskansie

Junie 29, 2009 · 2 Kommentaar

Uiteindelik kry ek weer ‘n klets kansie. Die afgelope 2 weke was dit erger as Germiston-stasie hier by my. Ek weet ek moenie kla oor kuiermense nie, maar wat te erg is is darem te erg. :-)

Dankie vir almal wat nog steeds kom inloer het, al was daar niks nuuts op die menu nie.   Dit laat my ou kriek-hartjie sommer warm klop.

Iemand wat saam my ma werk se dogter is in die Hoërskool so 2 blokke van ons huis af. Sy het elke dag as sy klaar eksamen geskryf het hierheen gekom tot haar pa van die werk af kom. Normaalweg het sy ‘n ander saamry geleentheid maar nou met die eksamen skryf almal nie op dieselfde dae en tye nie. Deesdae se kiddies het darem maar lekker. Toe ek op skool was moes ons tot die laaste minuut by die skool bly, of ons nou eksamen geskryf het of nie.

Dis lekker om elke dag geselskap te hê maar ek is dankbaar ek het weer bietjie me time. Ek het veral my kletssessies baie gemis. Dit is nou maar een maal ‘n feit soos ‘n koei, as die blog-gogga eers gebyt het, raak jy nie weer daarvan ontslae nie.

Ek weet dis nou al 2 weke later, maar baie dankie vir die verjaardag wense, Waardeer dit baie. Ek het ‘n baie uitputtende, maar wonderlike verjaardag gehad. Daar word altyd gepraat van die swartes wat lank kan begrafnis hou, maar ek dink my verjaardae val in dieselfde liga. Ek spot dat ek volgende jaar ‘n tafel met eetgoed buite die hek gaan los met ‘n kennisgewing wat sê: “Los persente op die tafel, vat jou eetgoed en gaan huis toe”. ;-)

Behalwe vir my voet wat nog in gips was, was hierdie die 1ste jaar in ‘n baie lang tyd wat ek nie siek was met my verjaardag nie. Ek is tot in die afgrond in bederf deur die BESTE swaer en sussie in die wêreld. Ek het ‘n platskerm TV gekry wat ek sommer vir ‘n rekenaar skerm kan gebruik en ek kan wii in my kamer speel sonder’n Oompie op my case. En ek het ‘n HD PVR saam met die TV gekry. Ek was so bly dat ek sommer begin huil het van blydskap. Dis nou nadat ek amper vir arme Diefie verwurg het soos julle op die foto kan sien.  Kyk net asb. al die vet rolle mis.
Gelukkig het die kamera gestrike toe die trane begin rol. Ek het dit glad nie verwag nie. Om die waarheid te sê ek was onder die indruk die wii wat hulle so ruk terug vir my gegee het was my geskenk.

Eintlik sit ons nou met ‘n baie komieklike situasie want ek het nou ‘n baie grand PVR en TV, maar ek het nie geld om die PVR te laat installeer nie. Ons skottel is nog van die heel eerstes wat uitgekom het en glad nie PVR friendly nie. Ek weet my swaer sal vir my die R1600 leen om dit te laat doen, maar ek voel te sleg om daarvoor te vra want hy doen alreeds so baie vir my. Ek sal seker ook nie doodgaan as ek nog ‘n paar maande die ou dekodeerder gebruik nie.

Voor ek geweet het van die verandering wat op die skottel gedoen moet word, bestudeer ek die PVR se boek en besluit dit lyk maklik genoeg om dit self te doen. Ek aktiveer die nuwe simkaart en elke ding net om te ontdek al my moeite is verniet. Ek was lekker vies vir myself.

Dit was omtrent ‘n organisasie operasie om vir als plek te kry op my lessenaar. Nes ek dink ek kan nou oral bykom by als, dan is die drade te kort of as al die drade bykom kan ek nie als bykry wat ek moet nie. Na omtrent 3 dae se rangskik en herrangskik het als uiteindelik ‘n gatjie gekry en kon ek oral bykom. Dit het amper in ‘n ramp ontaard want ek het heeltemal vergeet dat my printer se onderstedeel los is. Toe ek dit optel gly dit uit my hande uit en maak met ‘n slag met moeder-aarde kennis. My hart het amper gaan staan want ek was oortuig die printer is nou daarmee heen, maar duidelik is dit sterker as wat ek gedink het. Behalwe vir ‘n lelike merk op die deksel is daar darem niks fout nie.

My voet het darem ook intussen uit die gips gekom. Alhoewel dit nog heeltemal te stadig is na my sin, gaan dit elke dag bietjie makliker. Dit sou seker ook heelwat beter gegaan het as dit nie so vrek koud was nie, maar nou ja, that’s the joys of winter.

Ai, vader Tyd is alweer besig om vir my weg te hol.

Kriekgroete tot ‘n volgende keer.DSCF1309DSCF1316

Kategorië Uncategorized

Aan al my special maatjies

Junie 12, 2009 · 3 Kommentaar

Ek het nie regtig vandag tyd om te klets nie, maar ek wou graag die met julle deel.

TO ALL THE SPECIAL PEOPLE IN MY LIFE..

Make yourself happy, pursue your passions & be the
best in what you do.
Take care of yourself. .don’t wait for someone to take
care of you.
You light up your life. You drive yourself to your
destination.
No one completes you – except YOU.

There will be mistakes along the way…..but they will also be lessons…….

and u will never make the right choices without making the wrongs ones 1st
So remember to love, laugh and live completely with no regret……

and in the end You alone determine your own happiness.
AND
Have an awesome week!!!!!

May God be with you each step of the way.

With all my love and warm wishes

gm

PS. Vir die wat wou weet, ek verjaar Maandag die 15de

Kategorië Uncategorized

Weerverslag gebring deur Kriekie

Junie 10, 2009 · 3 Kommentaar

dalmations
Ek is op die punt om voël moord te pleeg….. Hulle het sopas my inskrywing waaraan ek 2 ure getik het uitgevee toe hulle op die keybord spring. Kan jy dit flippen oorvertel…..?

Kom ons begin nou maar weer van voor af. Hierdie weer wat Petoorsdorp ingevaar het, is beslis nie kruppelkriek-vriendelik nie. Ek is vol skete en pyne, maar dis nog nie die ergste nie. Ek moet heeldag in die huis bly en dis bietjie erg vir my. Ek kon nie eers hierdie week gaan spoeg en plak nie en dit was vir my baie erg want dis my weeklikse hoogte punt.

Ons het seker niks om oor te kla teenoor die oorsese koue nie, maar dis die hoofrede waarom Suid-Afrika met my opgeskeep sal sit tot ek die dag omval. Daar’s nie ‘n manier dat ek die oorsese winters met hul minus temprature sal oorleef nie.

My voet is so seer van die koue dit voel of ek dit net gister gebreek het en eintlik is dit vandag presies 6 weke terug. Ek wag nog so 10 dae dan sal ek operasie gips-afhaal aanpak. Aan die een kant kan ek nie wag om van die goed ontslae te raak nie, maar aan die ander kant beskerm die gips my voet baie, maar as die gips af is, is dit ‘n ander storie. As mens iewers ‘n seerplek het kom dit mos altyd in die pad.

Ek het die naweek Marley a dog like no other gelees waarop die fliek Marley & Me gebasseer is. Ek wou vreeslik graag nog die fliek gaan sien maar ek dink ek het so bietjie van plan verander. Ek het so getjank dat ek nie meer kon sien waar om te lees nie en ek moes my ma wakker maak om vir my tissues te bring want ek het my kussing papnat gehuil. Ek glo nie ek sal dit maak as ek die fliek moet gaan kyk nie want almal wat dit al gesien het vertel net hoe’t hulle gehuil.

Ek weet nie of dit iets met ouderdom uit te waai het nie, maar ek het nooit gehuil in storieboeke of flieks nie. Ek het altyd lekker gelag vir almal wat so huil want dis mos net ‘n storie. Deesdae huil ek lekker saam. Die enigste probleem is ek kan nie in styl huil nie. Ek sit gewoonlik ‘n geblêr op wat die dooies kan opwek en dis nogal problematies in die openbaar.

‘n Vriendin kom die naweek kuier tot Dinsdag. Dit is al die afgelope 15jaar ‘n vaste tradisie dat sy met my verjaardag by my kuier. Ons sien mekaar eintlik net op mekaar se verjaardae en dis toevallig 15dae uitmekaar altwee in Junie.

Ek weet ek moet dankbaar wees vir vriende en familie, maar ek wens ek kan 1 jaar verjaar sonder om die vriende en familie te moet nooi want daar is alewig een of ander issue. As daai een kom kom di een nie ens. Dit werk sommer op my spiere want dit maak dit vir my moeilik. Die vriende het ek darem uitgesorteer en sommer al laas Saterdag begin koek eet.

Die familie is nog ‘n probleem, maar nou ja of ek nou wil of nie, ek moet maar almal nooi anders sal ek nooit die einde daarvan hoor nie. Met my sussie se verjaardag is daar so baie skimpe gegooi dat ‘n sekere gesin in die familie op die C lys van die familie is en nooit genooi word nie. Intussen was nog niemand op daai stadium genooi nie en het ons maar net oor ‘n moontlike partytjie gesels,

As ek kon was daar ‘n paar mense wat ek sommer op die Z-Z lys in die familie sou wou sit. En eintlik in vergelyking met ander families kom ons almal heelgoed oor die weg, maar om een of ander rede kan ouboet en sy vrou my goed opref en hulle doen nie regtig eers iets om dit reg te kry nie.

Bly warm tot ek weer ‘n kletskansie kry.

Kategorië Uncategorized

Outjie word ‘n vroutjie

Junie 5, 2009 · Lewer Kommentaar

Ek het so klein surprisie gekry. My kuifkop hoenertjie (wat eintlik ‘n kokketiel is) is toe al die tyd ‘n vroutjie en nie ‘n outjie soos ek oortuig was nie. Gelukkig werk Kuifie vir altwee so die voëltjie is darem nie te confused nie. Dis net ek wat haar nog kort-kort wil hom. Wat Baby Huey is weet ek nogie. Ek hoop maar dis ok ‘n wyfie want ek wil tog asseblief nie babatjies hê nie dankie. Om Kuifie groot te kry het het my heeltemal daarvan genees.

Ek weet ek klink soos ‘n oorywerige moederhen, maar ek moet eers bietjie spog met my slim voëltjie-dogtertjie. As sy om 1 of ander rede op die grond beland dan kom sy tot by my stoel en klim self weer op tot waar sy wil wees. Hulle het ongelooflike sterk bekkies. As sy net iewers kan vasklouplek kry klim sy enige plek op. Sy het altyd eers net op my trappe geklim en dan teen my broek op, maar nou klim sy sommer van enige kant af op net waar sy plek kry. Dis so cute ek wil haar net opvreet as sy dit doen, maar sy’s nou glad nie beïndruk met haar ma wat so tekere gaan nie.

Baby Heuy is nog dom, vir hom/haar moet ek die leertjie hou om op te klim. En dan moet jy nog baie geduld ook hê want hy/sy klim net op wanneer dit hom/haar pas.
Ek hoop maar hy/sy sal binnekort Kuifie se voorbeeld volg want ek’s altyd so bang ek ry bo-oor die voël as ek die leertjie moet kry en wag tot dit sy hoogheid behaag om saam te werk.

Nou die dag toe ek vir Kuifie-hulle in die hok wou terug sit toe sit daar so ewe ‘n wildeduif hom trommeldik en vreet aan hulle kos. Wie die grootste geskrik het ek of die duif, weet ek nie, maar hy is met ‘n spoed uit die hok uit.

Dit het nou al 2 keer gebeur dat die voëls vreeslik tekere gaan in die nag en Kuifie alewig met stukkende vlerke daarvan afkom. Ek het tot 2 aparte hokke gekry vir die voëls om in te slaap want ek het gedink hulle beklei met mekaar in die nag. Toe’s dit al die tyd die bure se kat wat op sy nagtelike wandelinge in ons kombuis ‘n draai kom gooi en dan raak die voëls heeltemal vreesbevange.

Dis net vir my baie snaaks dat die kat nou begin pla want ons bly al omtrent 10 jaar hier en daar was nog nooit probleme nie. Kat se kind het lekker mak geraak want toe kom hy sommer in die dag ook kuier en toe vang Maggie hom in die kombuis. Dit sê nou nie juis veel van die 4 “waghonde” nie. Die skelms sal ons nog wegdra hier dan slaap die honde rustig voort.

Ek het nou lank genoeg my voëls se deugde besing. Geniet die naweek.

DSCF1153

Kategorië Uncategorized

Dinsdag was onderstebo.

Junie 3, 2009 · 1 Kommentaar

Ek glo nie gister was heelemal my dag nie. Dinsdag is mos my offisiële spoeg en plak dag. Ek staan ‘n hele uur vroeër op as gewoonlik sodat ek betyds kan wees vir die spoeg en plak klas. Om een of ander rede kon ek net nie aan die gang kom nie en daar was kort-kort die 1 of ander onderbreking. Die uiteinde van die saak: Ek kom omtrent 10 minute laat by die klas aan.

Ons ‘juffrou’, het net klaar verduidelik en gewys hoe, toe kry ek ‘n dringende roep van Moeder natuur. Ongelukkig is daar geen maar geen manier wat ek in die winkel se toilet kan in nie. Die eienaars van die winkel voel al so sleg daaroor dat hulle met die haarkapper langs-aan gereël het dat ek daar kan gaan. Aangrsien ek nog nie eintlik lekker op my voet kan trap op die oomblik nie het ek nie ‘n keuse nie, ek moet huis toe kom om my nood te verlig. Dis gelukkig baie naby en ek kan die operasie so binne 10 minute afhandel.

Ek stel omtrent nuwe rekords op in my jaagtog huis toe, want soos gewoonlik het ek dit op die minuut uitgewerk en as ek ‘n sekonde langer wag is ‘n nat broek my voorland. Kom by die huis, baie trots dat ek dit gaan maak…. RAMP….. Oompie het so pas in die stort geklim van die enigste badkamer in die huis….. As my skippie eendag inkom bou ek beslis vir my my eie badkamer. Ek het ‘n port-a-potty ook wat al baie handig te pas gekom het in sulke situasies, maar soos die duiwel dit nou wou hê was die port-a-potty saam met die Oompie in die badkamer.

Ek kon toe nou niks anders doen nie. Hopelik was ek toe net letterlik ‘n ou vrou met ‘n nat broek en nie figuurlik ook nie. Droog gedress en ready for any action is ek terug om te begin spoeg en plak. Gewoonlik maak ek dit sommer ‘n heel dag se uitstappie, maar ek het gister nog ‘n Avon bestelling gehad wat moes klaar en kom toe vroeër terug huis toe. Dit wat ek gedink het is 1 bestelling is toe 3, waaroor ek baie dankbaar is want dit beteken meer geldjies in my sak, maar toe haal die tyd my met die spoed van witlig in.

My printer se ink is op, wat gewoonlik ook nie ‘n krisis is nie want ek mail my goed na my ma toe en dan druk sy dit vir my by die werk uit en kry ek dit die aand. My ma werk net tot 16:30 en by daai tyd tik ek nog dat die stof staan. Die rekenaarwinkel in die sentrum sal dit toe nou maar wees. Weer-eens stel ek nuwe spoed rekords op oppad winkel toe want ek wil terug wees voor dit donker is. Kom by die winkel en die boetie by die toonbank is op die telefoon besig. Ek wag… dit word donker… ek wag. Boetie het seker gesien ek lyk erg benoud en kom help my. Teen daai tyd skree moeder natuur alweer vir my want as ek nog eers moes toilet toe sou ek nie die winkel oop kry nie. Boetie kom vra groot omverskoning dat dit so lank vat, maar daar is ‘n probleem met hulle printer. Ek wag….. is al pikdonker buite…. Ek bel my ma om te laat weet ek WAG…. Uiteindelik kon ek die pad aandurf huis toe… in die donker… want die meeste straatligte hier rond is net ornamente en werk nie een nie.

Ek moes maar stadig terug ry want ek is nie vreeslik sigbaar in die aand nie en ek kon skaars 2 tree voor my sien. Ek het die huis darem in 1 stik gehaal maar ek is seker my arme hart het ‘n slag of wat gemis. Ek sal nou nie sê ek’s mal oor die donker nie. Weer-eens moes ek gaan droog aantrek want moedernatuur het geen simpatie met Kruppelkriekkie se krisisse nie.

Ek gaan in op Avon se website om die bestelling te plaas. Daar staan dit toe baie duidelik dat ek tyd het tot Donderdag om die bestellin te plaas en nie Dinsdag soos ek verstaan het nie. Om te sê ek was kwaad is eintlik ‘n understatement…. Hier is al my gejaag en stres en alles heeltemal verniet. Dit kom daarvan as mens ander mense se woord vat en nie self gaan kyk vir datums en afsny tye nie. Glo my ek het hard en duidelik my les geleer.

Kategorië Uncategorized

Kriekkie oefen weer

Junie 1, 2009 · Lewer Kommentaar

Ek het vandag weer begin oefen. Ek vat dit maar eers stadig, maar ek voel sommer stukke beter. Ek sal defnitief nie weer kla oor oefening nie. Dit is ongelooflik hoe vinnig my spiere lui geword het. As ek net toilet toe gaan blaas ek soos ‘n os van die bietjie inspanning.

My voet is nie vreeslik beïndruk met my nie en complain so bietjie, maar hy (of seker eintlik sy) moet nou maar complain tot krismis toe. My spier pyne is baie erger as die voet se pyn. Ek is eintlik so bietjie van ‘n hopeless case, want as ek iets doen om 1 pyn te verlig dan pop daar weer ‘n ander pyn uit asgevolg van dit wat ek doen of eerder nie doen in die geval, vir die oorspronklike pyn. Ongelukkig is dit deell van die package van ‘n Kruppelkriekkie wees waaraan mens niks kan doen nie.
En eintlik het ek niks om oor te klae in vergelyking met ander mense nie, maar so af en toe as die lewe bietjie druk en ek nie sterk genoeg is om terug te druk nie, kry my skete en pyne my onder.

Ek is vreeslik trots op myself. Ek het ‘n engelse boek klaar gelees. Dis ‘n hengse prestasie want ek en die Ingels is nou nie die beste van tjommies nie. The Victor Within is die lewens verhaal van Victor (ek het sy van vergeet) wat na ‘n duik ongeluk van sy nek af ondertoe verlam is. Voor die ongeluk was hy ‘n baie belowende krieketspeler vir S.A. Met baie van die dinge wat hy vertel weet ek presies hoe hy voel maar ek het weereens besef ek het regtig baie dankbaar om voor dankbaar te wees.

Die afhanklikheid van hulp van ander is vir my ook ‘n groot doring in die vlees, maar teenoor sy afhanklikheid het ek niks om oor te kla nie. Ek dink dit moet baie erg wees vir ‘n man om totaal afhanklik te wees van sy ma en ‘n vroulike helper. Ek sal beslis nie daarvan hou as my pa my moet versorg nie, maar mens leer dit seker aanvaar as jy nie ‘n keuse het nie. Ek weet nie of ek dit sou oorleef as ek eers normaal was en dan ewe skielik net my kop kan beweeg nie, maar ja, ek was gelukkig nog nie met so iets gekonfronteeer nie, so ek sal nie kan sê nie.

Ek het Mathys Roets net so jammer gekry toe ek hoor hy’s verlam na sy ongeluk, maar dit klink my dit gaan baie goed met hom. Eintlik hang alles van jou ‘mindset’ af hoe ‘n mens so ‘n situasie sal hanteer. Ek hoop Mathys gaan nou ook so gelukkig wees soos Erik Holm. Voor sy ongeluk het baie min mense regtig geweet wie Erik is en was hy nie vreeslik baie op TV nie, maar nou is hy gereeld in Binnelanders en skryf vir hulle.
Daar staan nie verniet in die Bybel als gebeur met ‘n doel nie…

Ai die Bulletjies het darem maar goed gespeel Saterdag. Ek is nie eers ‘n vreeslike groot rugby fan nie, maar ek het my gate uit geniet. Om saam met my Ouma rugby te kyk is eintlik ‘n belewenis op sy eie. Sy is al amper 82 maar sy kyk rugby met oorgawe. Ons het besluit as Loftus se halftyd alarm breek kan Ouma as plaasvervanger gebruik word want sy klink nes die alarm as sy skree. Ek was later benoud Ouma gaan dit nie end uit maak Saterdag nie, maar sy was piekfyn. Sy het eenkeer iemand wat voor haar op Loftus gesit het met ‘n sambreel bygekom omdat die ou voor haar opgestaan het en sy toe niks kon sien nie.
Sy sal beslis nie ‘n probleem hê as sy dalk eendag sou verdwaal nie. Sy moet haar net verbeel sy kyk rugby en begin skree dan sal hulle haar gou kry want jy hoor haar myle ver.

Ek moet groet. Geniet die dag en die week wat voorlê.

Kategorië Uncategorized