Ek glo nie gister was heelemal my dag nie. Dinsdag is mos my offisiële spoeg en plak dag. Ek staan ‘n hele uur vroeër op as gewoonlik sodat ek betyds kan wees vir die spoeg en plak klas. Om een of ander rede kon ek net nie aan die gang kom nie en daar was kort-kort die 1 of ander onderbreking. Die uiteinde van die saak: Ek kom omtrent 10 minute laat by die klas aan.
Ons ‘juffrou’, het net klaar verduidelik en gewys hoe, toe kry ek ‘n dringende roep van Moeder natuur. Ongelukkig is daar geen maar geen manier wat ek in die winkel se toilet kan in nie. Die eienaars van die winkel voel al so sleg daaroor dat hulle met die haarkapper langs-aan gereël het dat ek daar kan gaan. Aangrsien ek nog nie eintlik lekker op my voet kan trap op die oomblik nie het ek nie ‘n keuse nie, ek moet huis toe kom om my nood te verlig. Dis gelukkig baie naby en ek kan die operasie so binne 10 minute afhandel.
Ek stel omtrent nuwe rekords op in my jaagtog huis toe, want soos gewoonlik het ek dit op die minuut uitgewerk en as ek ‘n sekonde langer wag is ‘n nat broek my voorland. Kom by die huis, baie trots dat ek dit gaan maak…. RAMP….. Oompie het so pas in die stort geklim van die enigste badkamer in die huis….. As my skippie eendag inkom bou ek beslis vir my my eie badkamer. Ek het ‘n port-a-potty ook wat al baie handig te pas gekom het in sulke situasies, maar soos die duiwel dit nou wou hê was die port-a-potty saam met die Oompie in die badkamer.
Ek kon toe nou niks anders doen nie. Hopelik was ek toe net letterlik ‘n ou vrou met ‘n nat broek en nie figuurlik ook nie. Droog gedress en ready for any action is ek terug om te begin spoeg en plak. Gewoonlik maak ek dit sommer ‘n heel dag se uitstappie, maar ek het gister nog ‘n Avon bestelling gehad wat moes klaar en kom toe vroeër terug huis toe. Dit wat ek gedink het is 1 bestelling is toe 3, waaroor ek baie dankbaar is want dit beteken meer geldjies in my sak, maar toe haal die tyd my met die spoed van witlig in.
My printer se ink is op, wat gewoonlik ook nie ‘n krisis is nie want ek mail my goed na my ma toe en dan druk sy dit vir my by die werk uit en kry ek dit die aand. My ma werk net tot 16:30 en by daai tyd tik ek nog dat die stof staan. Die rekenaarwinkel in die sentrum sal dit toe nou maar wees. Weer-eens stel ek nuwe spoed rekords op oppad winkel toe want ek wil terug wees voor dit donker is. Kom by die winkel en die boetie by die toonbank is op die telefoon besig. Ek wag… dit word donker… ek wag. Boetie het seker gesien ek lyk erg benoud en kom help my. Teen daai tyd skree moeder natuur alweer vir my want as ek nog eers moes toilet toe sou ek nie die winkel oop kry nie. Boetie kom vra groot omverskoning dat dit so lank vat, maar daar is ‘n probleem met hulle printer. Ek wag….. is al pikdonker buite…. Ek bel my ma om te laat weet ek WAG…. Uiteindelik kon ek die pad aandurf huis toe… in die donker… want die meeste straatligte hier rond is net ornamente en werk nie een nie.
Ek moes maar stadig terug ry want ek is nie vreeslik sigbaar in die aand nie en ek kon skaars 2 tree voor my sien. Ek het die huis darem in 1 stik gehaal maar ek is seker my arme hart het ‘n slag of wat gemis. Ek sal nou nie sê ek’s mal oor die donker nie. Weer-eens moes ek gaan droog aantrek want moedernatuur het geen simpatie met Kruppelkriekkie se krisisse nie.
Ek gaan in op Avon se website om die bestelling te plaas. Daar staan dit toe baie duidelik dat ek tyd het tot Donderdag om die bestellin te plaas en nie Dinsdag soos ek verstaan het nie. Om te sê ek was kwaad is eintlik ‘n understatement…. Hier is al my gejaag en stres en alles heeltemal verniet. Dit kom daarvan as mens ander mense se woord vat en nie self gaan kyk vir datums en afsny tye nie. Glo my ek het hard en duidelik my les geleer.
1 response so far ↓
boebelaberry // Junie 4, 2009 at 10:37 vm |
Hi, ek het gedink ek het 1 rowwe dag, maar jy vat die koek. Vertrou jy voel vandag beter.