Kruppelkriekkie Klets

Kriekkie het lente koors.

September 2, 2009 · Lewer Kommentaar

flowers11

Ek is nie eintlik mal vir blomme nie, maar ek sal nie omgee om sulke blomme te kry nie. Veral as hulle in sulke oulike potjies kom. Veral die 1ste enetjie kan nogal vir my werk. Ek sal met graagte hulle stingeltjies nat gooi en rangskik….. ;-)

Verskoon my maar vandag, die lente feeling het die paar varkies wat ek nog op hok het bietjie aangetas…. Ek is mal oor die lente…. dalk het dit iets daarmee te doen dat ek veronderstel was om einde Augustus gebore te word. Maar toe is ek mos voor op die wa en kom Junie.

‘n Vriendin van Nederland het vir so drie weke vir my sussie kom kuier. Sy’s ‘n baie intressate karakter en dit was nogal ‘n belewenis om dinge saam met haar te doen.

Dit is eintlik skrikwekkend watse wanindruk buitelanders van SA het. Sy het darem geweet die wilde diere loop nie los in die strate rond nie, maar ons groot winkelsentrums was vir haar een te veel. Sy kon net nie daaroor kom nie. Sy was so halfpad deur Menlyn setrum toe’s sy pootuit.

Die baie mense was vir haar ook erg want volgens wat sy op internet gelees het, is daar maar 100 000 mense in die hele SA. En sy was nie eers verder as Pretoria nie.

Sy kon nie glo dat daar sulke mooi huise is nie want sy’t gedink ons bly almal in ronde grasdak huisies.
Hoeveel foto’s sy geneem het weet ek nie, maar ek sal nie verbaas wees as dit omtrent 3000 of meer is nie. Sy was behoorlik trigger happy. Maar selfs in Nederland neem sy net so baie foto’s. Sy het altyd ‘n kamera byderhand.

Ons was verlede week Barnyard teater toe saam met haar. Ons het Broadway Rocks gaan kyk. Dit was puik. Ek het dit sommer ‘n 2de keer gaan kyk. Sy het haar gate uit geniet. Ek was so benoud vir haar part want mens mag nie foto’s daarbinne neem nie, maar ou Christel was min gepla. Ek was doodbang hulle vat haar kamera, maar sy’t heelwat afgeneem voor hulle vir haar kom sê het sy mag nie.

Selfs die beker met ys wat ons by die drankies gekry het, het onder die kamera deurgeloop. Blykbaar kry jy nie ys saam met jou drinkgoed in Nederland nie. Seker maar omdat dit so koud is daar.

Sy kon dit ook nie verwerk dat almal so gaaf en vriendelik met haar was nie. Sy was ‘n paar keer skoon tranerig dat almal haar so tuis laat voel. Die Nederlanders is maar oor die algemeen ‘n redelike ongeskikte spulletjie. Nie vreeslik spraaksaam en vriendelik nie. Dit het ek ook self ondervind toe ons daar was.

Sy’s met ‘n baie swaar hart terug huis toe en vas van plan om sommer gou weer te kom kuier. Ek dink as sy kon het sy sommer permanent hier kom bly.

Ons Dieretuin uitstappie was ook ‘n ondervinding op sy eie, maar dis ‘n storie vir ander dag.

Kategorië Uncategorized