Ek het verlede week vir my ‘n nuwe tjorrie aangeskaf. ‘n Elbow-powered model. Ek’s mal oor my nuwe wiele, al kos dit nou bietjie effort om van punt A na punt B te kom.
Ek sit so lekker dis net nie waar nie. Dis soos as jy eers in ‘n Volksie gery het en nou kry jy ewe skielik ‘n Ferrari. Die snaakste van als is ek het altyd gesê niks sit lekkerder as my elektriese stoel nie. Ek het dit altyd gehaat as ek in my elbow model moes ry.
Om 1 of ander rede kom ek en die battery-model nie meer lekker reg nie en on was altyd soos ‘n siamese tweeling.
As daar iets fout was was ek so down ek het prozac soos smarties laat lyk. Ek gebruik dit nou net as ek die strate wil invaar want daar’s geen manier wat ek die strate op elbow-power gaan aandurf nie. Ek het noual na alle kante toe gemeet en gepas en ondersoek, maar ek kan nog nie ‘n logiese verklaring kry hoekom ek nie ewe lekker kan sit in albei nie.
Eintlik is it ‘n goeie ding want dis ‘n feit soos ‘n koei ‘n battery rolstoel maak mens BAIE onafhanklik, maar dit maak jou baie lui ook. Nou kry ek sommer bietjie oefening ook. Ek’s eintlik spyt ek het nie vroeër al dinge so gedoen nie.
Ek sou nou nie die volgende olimpiese kampioen wees in gewigstoot nie, maar my arms was lekker sterk. Ek het die hele wêreld plat gery op elbow-power. As ek dit nou moet doen, tel julle my vir dood langs die pad op.
Op hoërskool moes ek 1 keer aan ‘n paraplegiese sportbyeenkoms gaan deelneem, maar ek is nou maar 1 maal nie gebou vir sport nie. Ek het die beampte amper dood gegooi met ‘n knuppel en by die gewigstoot het my voet amper in die slag gebly. Net daar en dan het ek besluit ek is ‘n gevaar op die sportveld en dit opgegee vir ‘n bad job.
Die naaste wat ek deesdae aan sport kom is met die Wii en dis ook nie baie veilig nie want die kans is goed dat jy met ‘n Wii-remote getref kan word.
Vir die van julle wat nou nie so gelukkig is soos ek om heeldag by die huis te wees nie, is daar darem ‘n ruskansie die week. Geniet dit.

1 response so far ↓
gigi // Oktober 11, 2009 at 7:08 nm |
Nee man hoekom is jy so stil, plaas weer biekie iets!