
Wil iemand nie asseblief vir Murphy nooi vir koek en tee nie? Ek’s nie snaaks nie, maar ek dink hy’t rêrig nou lank genoeg hier by my rond gehang. Dis nou al ‘n rukkie wat ek agtergekom het iets is nie lekker met my rekenaar nie. Wanneer Swaer ondersoek werk als piekfyn. So 3 weke terug besluit rekenaartjie toe dit was lekker maar dis nou klaar. Ek kon maak net wat ek wou hy wou nie aan nie. Ek stel nuwe spoedrekords op na die rekenaar winkel toe want dis 10 munute voor toemaaktyd op ‘n Sondag. Behalwe dat die hardeskyf was, kry hulle niks fout nie en als werk. Hoe die hardeskyf kon los kom is nogsteeds vir my ‘n mystery want die rekenaar staan permanent op dieselfde plek en daar is niks of niemand wat daar naby kom wat die ding kan laat los kom nie.
Terug by die huis werk als weer. Die volgende dag gaan rekenaar saam met my ma werk toe sodat hulle die programme waarmee sy werk kan oplaai sodat sy dit wat sy nie by die werk klaar kry nie in die aand kan kom klaar maak. Hulle toets als en dit werk. Terug by die huis is ek heel in my skik met die nuwe programme. Ek ly al aan ontrekkings simptome want toe’s dit omtrent al 3 dae wat ek nie ‘n rekenaar het nie. Ek tik nog so lekker, pla niks of niemand nie, toe kry ek net ‘n blou skerm met een of ander onverstaanbare boodskap en rekenaar wil niks weet van verder werk nie.
Swaer kry hom toe weer aan die werk en sê ek moet die hardeskyf format en als oorlaai. Stupid soos net ek kan wees sê ek toe ek sal dit self doen hy hoef nie verder te worry nie. Ek het dit al so baie gedoen ek kan dit al in my slaap doen. Ek kan maak net wat ek wil, die hardeskyf wil nie format nie. Teen daai tyd is ek al so moedeloos as ek geld gehad het vir ‘n ander rekenaar het ek die een met ‘n byl in 10000 stukkies gekap.
Terug rekenaar winkel toe. Hulle probeer als, maar rekenaar wil niks weet nie. Intussentyd kap ek stres vir ‘n plek in die 1ste span want my Avon bestellings moet geplaas word en daarvoor het ek die rekenaar nodig. Gelukkig het ek ‘n eksterne hardeskyf waarop back-ups van al my goed is. Ek’s toe maar met hardeskyf en al rekenaar winkel toe. Soos die duiwel dit wil hê is als op my hardeskyf, behalwe my Avon templets. Na ‘n groot gespook en spartel het ek darem als gedoen gekry. Ek het my oor ‘n mik gesukkel om op ‘n vreemde komper te werk en om als nog meer ingewikkeld te maak is ek nog links ook. Iemand kom werk op die rekenar langs my, maar ek dog ek dooi op die plek so stink hy. Ek’s oortuig hy’t ‘n week laas gebad. So tussen al die pret deur kry ek die wonderlike nuus dat my rekenaar se hardeskyf opgepak het en ek moet ook nuwe memory kry. Ek het amper op die plek in trane uitgebars want waar moet ek R600 vandaan kry om dit als te doen. Dankie tog, my ma kon my uithelp anders was ek nou al lankal in die malhuis.
Asof die mannewales met die hardeskyf nie erg genoeg is nie, besluit muis se kind ook hy’s nou moeg. Aangesien my ma nie lekker reg kom met die rubber keybord wat ek vir die voëls gekoop het nie, koop ek toe sommer ‘n nuwe keybord ook.
Gewapen met nuwe muis, keybord, hardeskyf en memory is ek reg vir aksie. Om al die drade en dinge ingeprop en op die regte plekke te kry is omtrent ‘n operasie op sy eie, maar uiteindelik was als in plek en wonder bo wonder werk als….. behalwe die keybord. Winkel hier kom ek weer…. Teen daai tyd gee ek al nuwe betekenis aan die word moedeloos….. By die winkel werk die keybord sonder ‘n problem. Ek ruil dit toe maar n elk geval om vir ‘n keybord met ‘n USB konneksie.
Natuurlik moes ek toe als weer oorlaai op die rekenaar en al die updates en drivers van die internet aflaai. My 1 Gig datacap het natuurlik in die slag gebly. My ma moes weer die rekenaar saam vat werk toe sodat hulle haar programme kon laai en toe’s ek weer so 2 dae sonder ‘n rekenaar. In totaal was ek seker omtrent 2 weke sonder ‘n rekenaar, maar dit het vir my gevoel soos 2 jaar. Ek sal beslis nooit stry dat ek totaal en al verslaaf is aan die rekenaar nie. Dit voel vir my of daar ‘n deel van my weg is of dood is as my rekenaar iets mekeer. Geen wonder my ma sê ek’s erger oor my rekenaar as ‘n meisie oor haar boyfriend nie.
Behalwe vir my drukker se ink wat klaar is, werk als darem nou weer soos dit moet en kan ek weer lewe. Ongelukkig moet ek nou eers weer groet vir so 3 weke. Ek gaan op ‘n kursus. Hopelik is ek baie wys as ek daar klaar is. Op hierdie stadium weet ek nie eers presies waste kursus dit presies is nie, maar streshantering word onderandere behandel en ek dink ek kan nogal doen daarmee. Swaertjie-lief was reeds op die kursus en hy het besluit dis net die ding vir my en Sus. Ek sien nogal uit na die storie. Ek weet net nie of ek die elke dag se vroeg opstaanery gaan oorleef nie….
1 response so far ↓
maxie // Oktober 26, 2009 at 8:43 nm |
Genadetjie tog, shame man…
Geniet die kursus, kan nie wag om alles daaroor te lees nie..