Kriekkie ly aan ontrekkings-simptome

Ek is nog nie klaar ge-Egoli nie, maar die ontrekkings simptome raak nou te erg.  Ek moet nou eers ‘n klets sessie inkry.  Ek vra sommer byvoorbaat omverskoning, maar die gaan ‘n lange wees. :-)

 Met die spierspasma’s gaan dit strate beter.  Dit sal seker nooit heeltemal weg gaan nie, dit is nou maar een maal deel van my pakkie.  Ek het die 9de Maart die botox inspuiting gehad om die spierspasmas te breek.  Om te sê ek was bang is ‘n effense understatement….. maar soos gewoonlik in my geval, was dit als verniet.  Die dokter wat dit gedoen het is die beste in die wêreld op die gebied van botox.  Hy het my dadelik op my gemak laat voel en ek het hom dadelik met my lewe vertrou.  Ek sou regtig nie omgegee het as hy permanent my dokter kan wees nie, maar nou’s hy ongelukkig van Engeland en dis bietjie ver vir my as ek ‘n dokter nodig het….  Dit was ook nie eers regtig seer nie.  Ek het gedink ek gaan klippe kou van seer toe ek hoor dit word in die rug ingespuit.  Van die 3 spuite wat ek gekry het was net  1 effens seer, maar ek het al seerder inspuitings gehad.

 Ek moes na ‘n rehab-hospitaal in Auklandpark gaan om die spuite te kry omdat ek ‘n soort van proefkonyn is en dit daarom verniet kon kry.  Dis ‘n verskriklike duur behandeling en as ek daarvoor moes betaal sou dit R9 000 gekos het.  My pa se medies het dit wel goedgekeur, maar ek was baie dankbaar dat ek dit verniet kon kry want anders so die medies binne die eerste 3 maande van die jaar uitgeput wees.

 Dit is partykeer goed om na so rehab-hospitaal toe te gaan want dan besef jy weer hoeveel mens het om voor dankbaar te wees.  Ek het eintlik skaam gekry vir myself omdat ek myself so af en toe oorgee aan selfbejammering.

Die ry soontoe en terug was vir my baie erger as die behandeling.  Die hospitaal is so  45min na ‘n uur se ry van ons huis af.  Dit het ons 3 ure gevat om daar te kom…. die verkeer is nag met die padwerke.  Ons kon op die vinnigste 20km per uur op die snelweg ry.  Ek is seker as ek met my stoel langs die kar kon ry sou ek vinniger beweeg het.  Ek het gehoop met die terug kom slag sal dit beter gaan, maar dit was wishfull-thinking op sy beste.  Ons is 10 uur die oggend by die huis weg en ons het 19:00 terug gekom.  Dit was vir my nag want ek is nie eers gewoond aan verkeer nie en toe moet ek vir ‘n hele 6 ure in die verkeer sit.  Ek het almal baie mooi en duidelik laat verstaan ek sal enige tyd weer gaan vir die behandeling as dit nodig sou wees, maar met ‘n kar ry ek beslis nie weer soontoe nie.  Dit sal ‘n helikopter wees of die Gautrein, dis nou as die arme treintjie ooit gaan werk.

Behalwe vir die botox is dit ongelooflik watse verskil oefening maak.  Ek oefen elke dag laat my tong behoorlik uithang.  Nooit het ek gedink ek sal dit ooit sê nie, maar ek geniet die oefeninge al het ek al ‘n besering of wat opgedoen in die proses.  Ek het rekke met gewigte aan waarmee ek my arms oefen.  Nou die aand toe skiet die rek los en beland op my oog…..Gelukkig nie te hard nie, maar ek het vir so 2 dae met ‘n blou-oog en ‘n lekker kopseer gesit.

Ek kry ook nog 1 keer ‘n week fisio, maar dit is alles behalwe iets wat ek geniet.  My terapeut is letterlik net ‘n tiekie en ‘n baksteen hoog, maar as sy met my klaar is, is ek nie altyd seker of doodgaan nie dalk ‘n beter opsie sou wees nie…. en dan vertel sy my sy werk baie sag met my.  Ek glo nie ek sal oorleef as sy dan werk wat volgerns haar normaal is nie…..

Ek moet vir my ‘n nuwe ryding aanskaf wat spesiaal gemaak word volgens my lyf.  Die stoele wat ek het ondersteun my nie genoeg nie en dit veroorsaak ook baie van die spierspasmas.  Ek sal seker so oor ‘n maand of wat die ‘elbow-power’ model kry.  Ongelukkig betaal my pa se medies net R8 500 vir rolstoele uit per jaar wat eintlik baie min is in vergelyking met Discovery en van die ander.  Ek het uitgevind om oor te skuif Discovery toe, maar daar’s nie ‘n manier dat ek dit kan bekostig nie.  Die mense wat die aanpassings en dinge vir my moet doen, het belowe hulle sal so na as moontlik aan die bedrag bly.  Nou hou ek maar net duim vas.

My elektriese stoel is ‘n baie teer sakie.  Behalwe dat daar geen manier is wat ek ‘n nuwe kan bekostig nie is dit vir my verskriklik erg om te dink ek moet van iets wat 20 jaar lank onlosmaaklik deel van my lewe was, laat gaan….. Ek kan nie eers daaraan dink nie…. As dit regtig nie anders kan nie, sal ek seker nie ‘n keuse hê nie, maar dit sal regtig die laaste uitweg moet wees.  Ek gebruik deesdae net die elektriese stoel as ek iewers heen moet gaan want daar is geen manier dat ek die strate kan invaar op ‘elbow power’ nie.   Alhoewel ek BAIE trots is om te kan sê ek ry elke dag op ‘elbow power’ van die huis af so 500m ver tot by die stopstraat en ek het nou die dag die Kollonade  sentrum aangedurf.  Dit is vir my ‘n hengse prestasie want ‘n maand terug kon ek nie eers van ons agterdeur tot by die afdak (omtrent) 10m kom sonder om soos ‘n blaasbalk te klink nie.

Ek het  1 of ander simpel streep in my want ek is om 1 of ander rede mal daaroor om vir mense in hospitale te gaan kuier.  So 3 weke terug word my Ouma in die Ierologiese hospitaal opgeneem.  Na ‘n klomp toetse kry hulle geen probleem met haar blaas nie, maar kom agter sy’t ‘n ligte hartaanval gehad.  Gelukkig het sy die hart-aanval in die hospitaal gehad anders was Ouma dalk nie meer vandag met ons nie.  Sy het geen simptome van ‘n hart-aanval gehad nie en ook geen pyn, so ons was almal baie skepties oor die dokter wat gesê het sy’t ‘n hart-aanval gehad.  Sy is toe oorgeplaas Zuid-Afrikaanse hospitaal toe waar die toetse toe wel die hart-aanval bevestig het.  In dieselfde week bel ‘n vriendin wat ek lanklaas gesien het my en sê sy’s in Moot-hospitaal wat baie naby ons huis is.  Daar vaar ek en my stoeletjie die straat in vir hospitaal besoek.

Ek en my ma gaan kuier vir Ouma in die hospitaal.  My ma vind uit by die inligtings-toonbank waar Ouma lê.  Ons kom by die bed maar daar’s geen Ouma.  Volgens die ander mense in die saal het sy saam met die fisio gaan stap.  Ons wag….. en ons wag….. Ek dog toe by myself maar as Ouma so lank kan stap kan sy mos nie te siek wees nie.  Ons bekyk als om die bed, maar die vanity case en als wat daar rond staan lyk soos Ouma s’n.  15 Minute later bel Oupa om te hoor wanneer ons gaan kom want besoektyd is amper verby….. Hier sit ons toe al die tyd in die verkeerde saal  by ‘n vreemde tannie met dieselfde van en voorletters as Ouma….  Ouma lê rustig in haar bedjie vir ons en wag en ons daag nie op nie.  Ouma is darem nou weer terug by die huis en dit gaan heel goed alhoewel sy nog baie swak is en gou moeg word.

Ouma was nog nie eers uit die hospitaal nie, toe beland my pa in die Ierologiese hospitaal met prostaat ontsteking of iets.  Terwyl ons by hom kuier steek daar ‘n lekker donnerstorm op en Kriekie kuier lekker, salig onbewus van wat buite aan die gebeur is.  Ongelukkig is ‘n kruppelkriekkie en reën nie goeie maatjies nie want teen die tyd wat ek in die kar is, is ek natter as nat.  Die sekeriteitsbeampte het seker gesien ek’s erg benoud toe sê hy my ma kanmy  by die doktersparkering wat onderdag is gaan oplaai.  Of hy bang was ons steel ‘n dokter se kar of iets weet ek nie, maar hy het al die pad saam gery tot ek in die kar was.  Ons arme ou kombitjie het maar erg afgeskeep gelyk tussen al die smart dokterskarre, maar ten minste het ek droog anderkant uit gekom.

Verlede week toe beland ‘n ander vriendin se ma in die Pta-Oos hospitaal.  Saterdag gaan kuier ek en my ma vir haar.  Of laat ek eerder sê die plan was om te kuier, maar op die ou end was ons seker net 10 minute by haar.  Ons het so verdwaal in die hospitaal dis nie eers snaaks nie.  Hulle het die sale geskuif en een of ander slim Jan het besluit saal 3 moet nou tussen saal 12 en 13 wees, sonder om die bordjies met aanwysings ook te verander.  Om vir die mense wat daar werk aanwysings te vra was ook nie juis suksesvol nie, maar ons het toe darem op die ou end die tannie gekry. 

Ek dink ek is nou vir eers bietjie genees van hospitale dankie, en sommer van my ontrekkings-simptome ook.  Hopelik as ek weer kom klets kan ek spog met my nuwe ryding.  Ek is so opgewonde mens so dink ek het nog nooit ‘n nuwe stoel gekry nie.  Ek het dit darem al toetsbestuur en het met ‘n baie swaar hart terug geklim in die oue.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s