Onderstebo dag

Gister was ‘n verkeerde veer dag vir my.  Ek hoop nie ek hoef gou weer so ‘n dag te beleef nie.  Gister moes Virginia dokter toe gaan vir haar neus wat so baie bloei.  Net toe ons wil ry toe kom my baie praat vriendin hier aan.  Gewoonlik sms sy voor sy kom, maar my foon was af.  My vriendin-hulle het nie ‘n kar nie.  Haar man doen aflewerings by ‘n apteek en hy het haar toe met die werk se kar gebring.  Sy vra toe of sy nie vir my hier kan wag nie want sy het dringende briewe wat getik moet word. 

 

Oompie wip toe sommer sy stert in ‘n wille krul want hoe durf ek mense hierheen nooi as ek weet ek gaan nie hier wees nie.Hoe meer ek verduidelik ek het nie geweet sy gaan kom nie, hoe meer perform die Oompie.  Ek vra toe vir Maggie of sy nie alleen kan gaan nie, maar sy wil niks weet nie want sy is tog so bang om vorms in te vul.

 

Op die ou end is ek toe maar saam en vriendin doen toe maar haar tikwerk op my rekenaar terwyl ek weg is.  Ek het Dinsdag met Oompie gereël dat ek hom sal bel as ons klaar is by die dokter dan moet hy ons kom oplaai.  Die oomblik as dinge nie verloop soos hy dit beplan het nie, raak hy skoon skuins bed@nerd.  Hy het seker maar gedink ek gaan nie saam met Maggie daar bly nie of iets want toe my ma omtrent ‘n kwartier later met hom praat, sit hy nog steeds voor die gebou in die kar en wag ons het baie duidelik vir hom gesê ek sal hom bel.

 

Ek dink die mense in die dokters se spreekkamers het gedink my koppie raas erg.  Ek was so boos ek kon slange vang. Nou probeer ek vir die tjoklit ontvangsdame verduidelik ek het ‘n afspraak.  Sy eet lustig voort terwyl sy met haar mond vol kos met my praat.  Kyk, ek moes omtrent my tande deurbyt om nie op haar te gil nie.  Maggie moes later die van op ‘n stuk papier skryf , maar hulle kry niks.  Nadat ek toe weer ‘n vorm invul toe kry hulle uiteindelik die regte inligting.

 

Teen daai tyd het my moermetertjie omtrent uitgebrand van boosaardigheid want toe’s ek sommer weer van voor af kwaad vir my vriendin ook want sy het toe al my planne vir die dag kom opsmash en sy gaan maar net aan asof sy nou niks of niemand pla nie.

 

Dit was gelukkig ‘n baie oulike dokter.  Hopelik is die bloeiende nuus nou opgelos.  Hy het laat bloed trek van Virginia.  Ek het die arme kiddie so jammer gekry want sy was baie bang.  Hoe meer ek probeer troos en haar aandag aflei, hoe banger is sy.  Na ‘n gestoei om haar te laat  stil sit is die bloed toe darem getrek.  Ons sal seker binne ‘n dag of wat die uitslag kry.  Hopelik is daar nie ernstige probleme nie.

 

Toe ons uiteindelik hier by die huis terug kom, het die ou hond weer in die swembad geval.  Gelukkig was dit by die trappies en kon sy op die trappies bly staan.  Hoe lank die arme hond so in die swembad gestaan het weet ons nie, maar volgens die bure se bediende was dit ‘n hele paar uur.

 

Gister-aand net na my ma by die huis kom toe spuit die water soos ‘n fontein by ons water meter uit.    Toe moet julle die Oompie beleef om dit te waardeer.  Hy sou defnitief ‘n oscar gewen het vir Best performance.  My ma sê altyd ek kan erg stres kap, maar hy vat die koek.  Die stadsraad het toe darem na so 3 ure die water kom fix.

Dankie tog die dag is toe verby.  Vandag het ek ook ‘n intressante dag gehad, vertel later daarvan.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar