Hiers ek weer, saam met 2010 voor jou deur….

Daar breek die famous 2010 toe nou uiteindelik aan. Daar word so baie verwagtinge en hoë eise aan die arme jaar gestel dat ek in die naaste gat so gaan wegkruip het as dit ek was. Daar is geen manier dat aan almal se eise en verwagting voldoen sal word nie. Gelukkig sukkel die mensedom nou al dekades lank om uit te wind wie die almal en hulle is waarna daar altyd verwys word, so net dalkies sal die arme 2010 dit oorleef.

Daar is nogal heelwat belangrike gebeurtenisse wat in ons familie gaan gebeur. Die BAIE BAIE laat lammetjie gaan vir die eerste keer kleuterskool toe. Sy is erg opgewonde en tel baie ywerig die slapies. Mamma is minder opgewonde oor die vooruitsig dat haar babatjie moet skool toe, maar nou ja, die Twinsaver fabriek moet ook ‘n bestaan maak. Hulle gaan defnitief ‘n baie groot wins toon einde Januarie met al die mammas wat hulle engeltjies aan juffrou moet afstaan.

In Maart word Laatlam se boetie 16. Om een of ander rede is 16 ‘n groot WOW event in ‘n tiener se lewe. My 1 en enigste nefie kry in Maart maand die strop om die nek, maar dis nie ‘n sommer net so troue nie. Dis ‘n streng black tie gedoente. Ek dink net om die kaartjies te druk het hulle meer uit die sak gejaag as wat die gemiddelde man op straat per maand verdien. Dit sal seker ook die 1ste en laaste keer wees dat ek deel is van so ‘n grênd affêre.

Die trou koors het die familie behoorlik beet want in my maand is dit weer sulke tyd vir nefie se sussie. Darem nie heeltemal so grênd nie, maar niggie-lief het besluit al die gaste op haar groot dag moet swart dra. Miskien wil sy begrafnis hou van haar lewe as single girl of so iets, maar ‘n swart trou gaan defnitief ‘n eerste wees vir my.

Ons het die afgelope 21 jaar geen troues in die familie gehad nie en nou het ons sommer 2 binne die eerste 6 maande van die jaar. En nie 1 van die 2 is eers moet-troues of iets nie. Dit het maar net toevallig so uitgewerk. Ek kan natuurlik nie wag vir die babatjies wat hopelik gaan volg nie. Ek wil klere koop. Niggie is vas van plan om ‘n honey-moon baby te hê. Of haar planne gaan slaag sal ons maar moet sien.

Kry mens ooit nog so ding soos ‘n moet-troue? As ek die storie so kyk word die gesin deesdae eers uitgebrei en dan kom die troue. Dan is dit ook nie 100 jaar nie dan eindig dit in die skeihof.

In Augustus word my ma 60 en dit sal defnitief ook gevier moet word. Alhoewel sy soos ‘n steeks donkie vasskop daarteen dat ons vir haar iets moet hou, maar ek los dit maar vir sus en swaer. Hullle sal wel sorg vir iets spesiaal.

Ek gaan graad 4 toe saam met my tjoklitsmurfie-aanneem kind. Drie jaar terug het ek nie eers in my wildste drome gedink ons gaan graad 4 haal nie en nou is dit al om die draai. Hoe dit met haar en die leervakke gaan gaan, sal ons maar moet sien want sy’s nou nie die flukste leerling wat ek al gesien het nie.

Voor ek groet, moet ek darem net eers vir almal ‘n gesëende en voorspoedige 2010 toewens. Mag jou wildste drome waar word en jou stouste verwagtinge oortref word. Ek gaan vreeslik voor op die wa wees en vir myself ‘n jaar sonder gebreekte en verstuite voete toewens. Ek dink ek het regtig my deel gedoen in daai afdeling verlede jaar.

Toedels tot volgende keer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s